Die Springbokke se neerlaag voor die glorie, en hoekom hulle die Drie Nasies-trofee sal wen

Image

Jean de Villiers gister in Brisbane

'n Britse sportskrywer het een keer rakende 'n Roger Federer/Andy Roddick Grand Slam-eindstryd opgemerk dat Roddick die beste tennis van sy lewe gespeel het en Federer die vrotste van sý loopbaan en vir drie stelle was daar niks tussen hulle te kies nie. Net so was daar gister, op Brisbane, vir sestig minute weinig verskil tussen die Australiërs en die Springbokke – en dít terwyl die Wallabies die beste rugby van hulle seisoen gespeel het en die Suid-Afrikaners hulle vrotste.

Die Springbok-neerlaag was, soos ek vooraf verduidelik het, bykans onafwendbaar. Nadat hulle die Wallabies verlede week met hulle spoed, krag, tegniese meesterskap en veral oorgedoende wedstrydpatroon verras het, was dit te verwagte dat die Springbokke se wiele dié week sou afkom. Tog was die wedstryd se uitslag verbasend lank enige iets behalwe beklink. Dit was eers die dubbellooptreffers waarmee die Aussies eers 'n drie en toe 'n strafskop behaal het, wat die wedstryd na hulle kant toe laat oorkantel het.
Die Springbokke het met 'n sekere swierigheid begin, die Wallabies se beste aanvalle gesluk en self hard en vinnig tot die aanval oorgegaan. Maar hierdie keer, al het hulle die spyker teen die plank gehad, kon hulle dit nie ingekap kry nie. Die Australiërs, daarenteen, het hard geswot dié week en het al die antwoorde op die Springbok-vraestel reg beantwoord. Dit was veral opsigtelik toe Matt Gitau, kort ná 'n standaard-Morné-Steyn-skepskop, die vermetelheid gehad het om self die bal oor die pale te skepskop, en dit met sy swakker voet nogal.
Nadat Adam Ashley-Cooper sy drie gedruk het, het die Springbokke begin om vir 'n bonuspunt en daarmee waarskynlik die 3N-trofee te speel. Daarvoor het hulle van wedstrydbenadering verander en op die grond tussen die stoele van twee wedstrydplanne gaan sit. Uit met die bal-in-die-hand-patroon ten gunste van die hangskopdoodwurgplan. Die presiese samehorigheid waarmee die Springbokke verlede week nog 'n wedstrydplan toegepas het, is toe daarmee heen; hulle doeltreffendheid ook, asof hulle 'n basaar bedryf het wat deur twee wedywerende komitees beplan is. En dit was die Aussies wat die tombola gewen het.
Daarmee saam het Pieter de Villiers 'n paar angels uit die Springbokke getrek met onbesonne aanwending van plaasvervangers. Bryan Habana, wat nog 'n aflewering in sy groeiende legende geskryf het met twee drievoorkomende lakke, is van die veld af. Die laaste beeld van hom was waar hy in die spelerstonnel af verdwyn het, waarskynlik, soos wat daar stuitig opgemerk is, om sy bagasie WP toe na te gaan. 'n De Villiers-liefling, Adrian Jacobs, het op die veld verskyn en onmiddellik en toenemend uit sy plek in meer bedrewe geselsskap gelyk. Die presiesheid waarmee hy op sy doellyn die bal vir Matt Gitau beskikbaar gestel het, was die skreiendste stukkie spel wat hy in 'n gehawende seisoen uitgestal het en dit was net 'n verbete Jaque Fourie wat met 'n titaniumgraadlak die geeltruilosskakel by die hoekvlag oor die kantlyn gekletter het.
'n Baie beter ontplooiing sou daardie voetboller, Ruan Pienaar op vleuel, en die eksentrieke Frans Steyn op heelagter, gewees het.
Hierdie neerlaag is nie die einde van die Springbokke se Drie Nasies-wêreld nie. Dis nie eers 'n baie ernstige terugslag nie; eerder deel van 'n amperse roetine. Suid-Afrikaners wen nie Super 14's of Drie Nasies-trofeë met ongeskonde seisoenrekords nie. Dié doen hulle net in Wêreldbekers. Die All Blacks, daarenteen, wen meestal die Drie Nasies wanneer hulle sterk genoeg is om al hulle wedstryde in die reeks te beklink. En in Wêreldbekers? Nou ja, Wêreldbekers wen hulle lankal nie meer nie.
Volgende week gaan die roes van die Springbokstoomroller afgeklop wees, die magtige enjin gaan weer op alle silinders teen volle kompressie vuur. Hulle sal hulle laaste toets in die reeks wen, en daarmee saam die Drie Nasies. Kyk maar net.
Vir die Australiërs het Adam Ashley-Cooper en die parmantige James O'Connor drieë gedruk. Gitau het Ashley-Cooper se drie verdoel en ook 'n skepskop en twee strafdoele geregistreer. Morné Steyn het weereens al die Springbokke se punte, 'n strafskop en 'n skepskop dié keer, aangeteken. Ongelukkig was dit net ses punte werd. Die Wallabies wen 21-6.

mga gamesлобановский депутат

Die Springbok het gekom, gesien, afgeslag

Image

Schalk Burger in aksie tydens gister se Drienasiestoets

Agterna het al wat ‘n naas is te sê gehad dat die Springbokke tóg iets uit hulle oorwinning oor die Wallabies geleer het. En die stukkie opvoeding? Dat, in die Gesnorde se vlugvoetige woorde, geen span dit kan bekostig om nie vir tagtig minute nie te speel nie. Dan moet ‘n mens sê, as die Springbokke net vyftig minute nodig gehad het om die Aussies kas toe te stuur, vir watter rede op aarde sal hulle hulleself uitsit vir nóg ‘n halfuur. Ruik die rose terwyl jy kan… Eintlik was die uitslag redelik voldonge na ongeveer 14 minute se speel… waarin Fourie du Preez gedoen het wat ‘n skrumskakel aangesê word om nie te doen nie – neem ‘n tikskoppie al is die pale binne Morné Steyn-reikafstand, jaag die verdedigers een kant toe op ‘n knop en pluk homself anderkant toe en oor die doellyn vir ‘n uiters astrante drie.

Die Steyn-visier het die lang vlug van Durban af oorleef en die telling was 7-0.  Minute later, met die Wallabies wat strawwe verdrukking in hulle eie gebied beleef het, het Morné Steyn vir Jaque Fourie soos ‘n voorlaaier oorgehaal en toe op die regte breukdeel van ‘n moment afgevuur. Die buitesenter het die Aussie-verdediging soos ‘n snoek oopgevlek en het onder die pale gaan punte maak. Dit was tog ‘n deel van ontdekkings en een daarvan was dat Morné die Metronoom tog vel en vlees is en hy skop die maklikste skop in sy Bokloopbaan skoon mis.

Die res van die wedstryd was nie juis ‘n riller nie.  Dit was eerder ‘n misterie waarin die geheimenisse van Kiwi-skeidsregter Bryce Lawrence se skrumbeslissings deur die twee kapteins, John Smit en George Smith, moes ontrafel word. Die Da Vinci Kode verskil met Lawrence se Geheim juis daarin dat daar oplossings is vir die vrae in die Kode. Die Bok-pak het egter deurgaans die verkeer só beheer dat Lawrence se arbitrêre interpretasies tydelike irritasies eerder as wedstrydsinkers was. Tog het die geil oes strafskoppe die Wallabies in staat gestel om asem buite hulle gebied te skep en Matt Gitau het, eenkeer met krag en eenkeer met voetvlugheid, twee drie gedruk. Maar die Springbokke se nuutgevonde terugslaanvermoë in ag geneem, was dit net ‘n kwessie van tyd voordat die Wallabies ernstige skade sou ly – en dit het gekom deur twee Bryan Habana drieë, gesmee uit die skroot van Aussie-blapse wat deur volgehoue Bok-druk afgedwing is.

Uiteindelik was dit ‘n soort wiskunde van punte oor tyd en dit was duidelik dat die Wallabies nie die spel vinnig genoeg sou kon herwin om ‘n oorwinning asof uit niks te maak nie. Die Springbokke kon ontspan, soveel so dat hulle twee Australiese drieë laat in die wedstryd kon aflag. Pieter de Villiers kon sy lieflinge, vernaamlik Adrian Jacobs op die veld bring, wat net weer die gehalte van die opdrafspan onderstreep het. Die vaste vyf het die aarde laat bewe, die losvoorspelers het alles gelak wat beweeg het en die agterlyn het glad gevuur, met veral daardie voetboller, Ruan Pienaar, wat ordentlik gesweepslag het op heelagter.

Die eindtelling van 32-25, met ‘n vierdriebonuspunt, is presies deur die Bokke volgens bestelling afgelewer.
 

светодиодный asdФильчаков