Die Steyn-visier het die lang vlug van Durban af oorleef en die telling was 7-0. Minute later, met die Wallabies wat strawwe verdrukking in hulle eie gebied beleef het, het Morné Steyn vir Jaque Fourie soos ‘n voorlaaier oorgehaal en toe op die regte breukdeel van ‘n moment afgevuur. Die buitesenter het die Aussie-verdediging soos ‘n snoek oopgevlek en het onder die pale gaan punte maak. Dit was tog ‘n deel van ontdekkings en een daarvan was dat Morné die Metronoom tog vel en vlees is en hy skop die maklikste skop in sy Bokloopbaan skoon mis.
Die res van die wedstryd was nie juis ‘n riller nie. Dit was eerder ‘n misterie waarin die geheimenisse van Kiwi-skeidsregter Bryce Lawrence se skrumbeslissings deur die twee kapteins, John Smit en George Smith, moes ontrafel word. Die Da Vinci Kode verskil met Lawrence se Geheim juis daarin dat daar oplossings is vir die vrae in die Kode. Die Bok-pak het egter deurgaans die verkeer só beheer dat Lawrence se arbitrêre interpretasies tydelike irritasies eerder as wedstrydsinkers was. Tog het die geil oes strafskoppe die Wallabies in staat gestel om asem buite hulle gebied te skep en Matt Gitau het, eenkeer met krag en eenkeer met voetvlugheid, twee drie gedruk. Maar die Springbokke se nuutgevonde terugslaanvermoë in ag geneem, was dit net ‘n kwessie van tyd voordat die Wallabies ernstige skade sou ly – en dit het gekom deur twee Bryan Habana drieë, gesmee uit die skroot van Aussie-blapse wat deur volgehoue Bok-druk afgedwing is.
Uiteindelik was dit ‘n soort wiskunde van punte oor tyd en dit was duidelik dat die Wallabies nie die spel vinnig genoeg sou kon herwin om ‘n oorwinning asof uit niks te maak nie. Die Springbokke kon ontspan, soveel so dat hulle twee Australiese drieë laat in die wedstryd kon aflag. Pieter de Villiers kon sy lieflinge, vernaamlik Adrian Jacobs op die veld bring, wat net weer die gehalte van die opdrafspan onderstreep het. Die vaste vyf het die aarde laat bewe, die losvoorspelers het alles gelak wat beweeg het en die agterlyn het glad gevuur, met veral daardie voetboller, Ruan Pienaar, wat ordentlik gesweepslag het op heelagter.
Die eindtelling van 32-25, met ‘n vierdriebonuspunt, is presies deur die Bokke volgens bestelling afgelewer.
