Fourie du Preez het al die fisiese toerusting van ‘n eersterangse skrumskakel: Hy is vinnig, sterk, taai. Maar so is ‘n dosyn ander skrumskakels net in Suid-Afrika. Hierdie eienskappe is maar net die toegangskaartjie, die lisensie om rugby op die hoogste vlak te speel. Du Preez is egter nie net enige skrumskakel nie; hy is die mees invloedryke nommer 9 van die dekade. Sy regstreekse voorganger, Joost van der Westhuizen was dit in die 90’s en so is dit dan onvermydelik dat die twee met mekaar vergelyk sal word.
As lyflike voortreflikheid die toegang is om voetbal te speel, het Joost van der Westhuizen ‘n platinumkaart gehad. Fisies was hy onoortreflik: Omtrent die vinnigste in enige span waarin hy ooit gespeel het, een van die veerkragtigste en een van die sterkste. Dit het onkonvensionele ontplooiings vir hom moontlik gemaak en hy was deeltyds aangewend as ‘n vierde losvoorspeler wat kon wedywer vir die losbal en wat brutaal doeltreffend was in verdediging om die skrum. Maar behalwe vir alles wat skaflik van hom op die verdediging en die aanvallende verdediging was, was hy ‘n dolksteek op die suiwer aanval, ‘n Exocet-missiel wat ‘n gleuf in die verdediging kon oopruk tot ‘n kloof. Hy bly, na alles, die rekordhouer vir die meeste toetsdrieë deur ‘n Springbok.
Die dag van sy uittrede was hy soos ‘n kolossus wat sy skaduwee agtergelaat het. In hierdie penumbra was die jong Fourie du Preez aanvanklik amper onsigbaar. Daar was ‘n sekere meganiese gladdewerk aan sy spel. Hy kon die bal netjies skoonmaak, het ‘n netjiese, sekuur aangee gehad, het sy kanaal doelmatig verdedig. Maar hy het toe nie, en het nou nog nie, die flambojantheid van ‘n Joost van der Westhuizen gehad nie. Hy is heelwat kleiner, maar nie kort en bonkig genoeg om die oog as ‘n woelwaterbuksie te vang nie. Hy is, om presies te wees, nie die plakkaatknaap van ‘n skrumskakel nie. Daar is ‘n sekere professorale aura om hom, met sy ronde kop en kwynende kuiflyn.
Spelers nommer 10 tot 15 het egter gou genoeg geleer om hom te waardeer. Met hom in die spilposisie tussen skrum en agterlyn het alles gladder en meer presies verloop. Losskakels, vernaamlik Derick Hougaard en Morné Steyn, het die luukse beleef van voorspelbaarheid, van die sekerheid dat die bal soos bestel sal opdaag, dat daar nie ambulansaangeë in hulle rigting geslinger sou word nie, dat ‘n stadige of skadelike bal deur Du Preez terug in die koolmyn geneem sou word om nuut gesirkuleer te word. Voorts het hy ‘n skrander skopvoet by sy arsenaal gevoeg, een wat die bal nie net ver kan lanseer nie, maar wat boonop die amper spookagtige vermoë het om leegtes agter die opponente se verdediging te vind.
Skopvermoë is die een gebied waar hy op sy voorganger se spel verbeter het en dit het hom welaangepas in die Noord-Transvaalse spelmatrys gemaak. Fourie du Preez het egter een eienskap wat van hom ver meer as ‘n gladde balverspreider en uitmuntende skoptaktikus maak, ‘n vermoë wat hom sy eie nalatenskap sal laat bepaal, ‘n geskiedenis wat hom selfs tot bo Joost van der Westhuizen se voetbalerflating kan verhef:
Fourie du Preez het visie en dit ‘n visie wat vir net ‘n klein koterie uitgesoekte balsportspelers beskore is. ‘n Mens kan dit die kyk-op-en-sien vaardigheid noem; daardie vermoë om die bal te ontvang, hetsy uit die skrum of deur ‘n aangee, en om dan op te kyk en as’t ware ‘n kitskiekie van die veldsituasie te neem en ‘n presiese, oombliklike ontleding van die uitleg van aanvallers en verdedigers. Die beste van die bestes weet dan met ‘n besliste presiesheid wat om te doen en hulle het die behendigheid om dit uit te voer.
Hierdie vermoë het van Naas Botha ‘n legende gemaak. In die sekondeskerf wat hy die bal ontvang het, het hy opgekyk en die taktiese situasie presies ontleed. Die hoeke is uitgewerk, die relatiewe snelhede van verdedigers, die opbondeling of verspreiding van spelers…
Hierdie vermoë is ook te sien in die spel van sterre in ander balsporte. Pelé, Johan Cruyff, George Best en Diego Maradonna het met hierdie heldersiendheid snelweë deur verdedigingslinies gevind waar ander spelers bloot voetpaaie kon sien. In Amerikaanse voetbal, het die kwartskakel Joe Montana dié aanleg gehad. Hy kon te midde van die verwoede aanstorming van massiewe verdedigers, met hardlopers en onderskeppers wat mekaar se spore heen en weer kruis, met opponente wat vangers beskadu, presies sien hoe en waar om die bal heen te loods. Hy het dit so herhaaldelik gedoen dat hy die San Francisco Forty Niners tot ‘n heel reeks Superbowl-oorwinnings gedra.
Hierdie vermoë was op uitstalling tydens vanjaar se Curriebeker-eindstryd te sien, en dit in oormaat. In drie oomblikke van uiterste heldersiendheid het Du Preez die Vrystaat fataal in die ammunisiestoor getref. Een dwarsskop, een priemskop en een gryp-en-laat-spaander aanval. Dis veral met hierdie laaste aanslag van hom wat ‘n mens sy taktiese briljantheid moet bewonder. ‘n Vrystaat-aanval is gesnuit, die bal is by hulle geroof en vir Du Preez gevoer. Hy het in sy kenmerkende effens vooroor, kromskouer styl genael gekom, met die spelerverspreiding in verhouding met die veldposisie klaar ontleed. Hy het die verdediging wyd na die kantlyn toe gerek en vir Bryan Habana gillend van buite na binne gerangeer, die tyd presies bereken en die vleuel deur ‘n splinternuwe, yslike bres geplaas.
Habana is juis een van die hoofbegunstigdes van Fourie se vernuf. Dit is iets wat hy in die komende seisoen in die WP gaan uitvind. Hoewel hy ‘n uitstekende afronder is, gaan hy uitvind hoe maklik dit is om aanvallende rugby in die sfeer van Fourie du Preez te speel, en hoe raar dié geleentheid.
En miskien is dit juis waar die genialiteit van Fourie du Preez lê: Vir sy spanmaats maak hy ‘n moeilike sport net so ‘n bietjie makliker. Wanneer die sommetjies aan die einde van sy loopbaan gemaak word, gaan hy sekerlik nie soos Joost van der Westhuizen 38 toetsdrieë gedruk het nie. Maar dit sal soveel meer beduidend wees om uit te werk hoeveel drieë hy vir sy kamerade geskep het. Visie is dikwels baie meer werd as blote spoed, krag en ‘n aanleg om self drieë te druk.
play slotФільчаков Олександр Васильович