Na die Cheetahs die Haaie in Durban op droë grond uitgesleep het, wil-wil ‘n mens begin glo die hartlandspan begin na sy potensiaal speel. Op papier het die Cheetahs immers sy beste span in jare.
‘n Paar sake krap egter steeds na twee wedstryde. Teen die Bulls het die Cheetahs min, veral takties, geskop, maar die paar keer wat die stewel ingelê is was daar kort hierna gewoonlik ‘n drie vir die Bulls op die telbord.
In plaas van om die probleem uit te stryk, het die Cheetahs teen die Sharks skraps balbesit met mamparraskoppe gaan wegsool, maar gelukkig had die Sharks self ‘n afdag met taktiese skopwerk, en kon Riaan Viljoen van sy eie halfgebied deurdraf om ‘n skitterende, deurslaggewende drie te gaan druk.
Nadat die Cheetahs laat in die vorige seisoen amok in die skrums gemaak het, is wyd verwag dat die Cheetah-voorhoede vanjaar ook ‘n stewige skrum-platform sou skep, en die opponente se voorhoedes tot loodvoetigheid sou skrum.
Dit het egter nog nie vanjaar gebeur nie. Teen die Bulls is die Cheetahs selfs in die skrums onder druk geplaas en moes die vernedering van ‘n strafdrie smaak.
Hoewel die Cheetahs teen die Bulls ‘n gevoelige tuisneerlaag gely het, is verskeie kenners dit eens dat die Cheetahs net sowel hierdie wedstryd kon gewen het as ‘n ander skeidsregter aan diens was. Die ander kant van die munt is egter dat die Cheetahs se verdediging hulle gruwelik in die steek gelaat het – ‘n sakie wat teen die Sharks reggestel is.
‘n Probleem waarmee die Cheetahs opgesaal sit, is dat die Oos-Kaapse bedryfsreg nou sy stem begin dik maak om tot die Super-reeks toegelaat te word, en soos sake nou staan, sal dit ten koste van ‘n ander Suid-Afrikaanse span moet wees. Hierdie Oos-Kaapse druk sal waarskynlik na afloop van die Fifa-toernooi sterker word wanneer die politici – wat die Oos-Kaapse bedryfsreg sterk steun – nie meer die swaard van sanksie teen politieke inmenging in sport voel nie.
Dit is dus in die Cheetahs se belang om sy lyf skaars te hou in hierdie “relegasiesone” – ook volgende jaar wanneer die Oos-Kaapse aanslag na verwagting in volle felheid sal losbars. Hoe beter die Cheetahs vanjaar in die Super 14 en die Curriebeker vaar, hoe beter is die kanse dat hy uiteindelik sy sterspelers sal kan behou. Die druk is eintlik dubbel op die Cheetahs, aangesien die rugbybase baie moeilik ‘n ander Suid-Afrikaanse Super-14-span in die stof sal laat byt.
Om sy stem in die reeks dik te maak sal die Cheetahs weer hul towerformule in die skrums moet vind, aanslane agterlangs moet beperk, seker maak hul taktiese skoppe word nie aanvalsplatvorms vir die opponente nie, en nie weer ‘n verdegingsinsinking soos teen die Bulls beleef nie.
Die spelers is daar – hulle sal net in hulself en hul spanmaats moet glo.
чэловэк паукданильченко юрій броніславович компромат