Die Oasis-batebestuurmaatskappy het aangekondig dat hulle hul bestaande multi-miljoen rand borgskap van die Bulls vir vyf jaar gaan hernu.
As die enigste maatskappy onder swart bestuur en besit wat ‘n Super14-rugbyspan borg, staan die Oasis-groep aan die voorpunt van rugbytransformasie.
“Ons het besluit om voort te gaan met dié verhouding omdat ons as ‘n kampioenhandelsmerk met ander kampioene geassosieer wil word en daar is geen beter produk in Suid-Afrikaanse rugby as die Bulls nie,” het Nazeem Ebrahim, die besturende direkteur van Oasis gesê.
Boonop het ‘n onlangse BMI-sportpeiling in 2009 gewys dat die Bulls die meeste ondersteuners van alle Suid-Afrikaanse Super14-spanne het (sowat 2.75 miljoen) waarvan 52% swart of bruin ondersteuners is.
“Vyf jaar gelede het ons die visie gehad om op die Bulls te verwed. Om nou terug te kyk na die wonderlike belonings wat dié verhouding aan ons gegee het en die sukses van die Bulls-franchise, weet ons dat ons die regte besluit gemaak het,” het Ebrahim gesê.
Dié borgskap sal Oasis die regte gee om voort te gaan om hul handelsmerk op die Bulls se truie en broeke aan te bring asook binne en rondom Loftus Versfeld.
Oasis borg ook ‘n plaaslike rugbyklub in Kaapstad, die Lagunya-rugbylub, wat uit spelers van die Langa, Gugulethu en Nyanga townships bestaan.
Een van die vrouerugbyspelers van dié klub, Dinah, is gekies vir die Suid-Afrikaanse nasionale span.
