Video: Indien geen vordering met regeringsgesprek, sal Volksraad litigasie vir selfbeskikking voortsit

Na afloop van die vergadering van die Afrikaner- Strategiese Komitee in Pretoria op 8 November 2014, het ons ‘n onderhoud met mnr. Andries Breytenbach, voorsitter van die Boere-Afrikanervolksraad oor hul onderhandelings met die ANC-bewind insake selfbeskikking gevoer.

Tot dusver het daar ‘n enkele gesprek met mnr. Cyril Ramaphosa, adjunkleier van die ANC en voorsitter van die nasionale beplanningskommissie gevoer. Die Volksraad het intussen ‘n voorstel opgestel wat binnekort aan die Suid-Afrikaanse regering oorhandig gaan word en waarin hy vra dat beide partye hulle moet verbind tot onderhandelings wat “onherroepelik” tot ‘n eie, soewereine staat vir Afrikaners sal lei.

Indien die ANC-bewind nie hieraan gehoor gee nie, sal onderhandelinge doodloop en sal hy hom weereens tot litigasie wend. Aangesien die Suid-Afrikaanse regering, volgens mnr. Breytenbach, “die addisionele protokol tot die Internasionale konvensie oor burgerlike en politieke regte onderteken het”, sou dit beteken dat die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie uiteindelik uitsluitsel oor die Volksraad se eis vir selfbeskikking sou moes gee.

As posthumaniste eis ons Clive Derby-Lewis se vrylating!

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Dames en here, vriende en simpatiseerders met Clive, asook lede van die media wat hier teenwoordig is,

Deur vandag hier te vergader om die vrylating van Suid-Afrika se beroemdste oorblywende politieke gevangene te eis, is geen politieke daad nie.

Dit mag na ‘n paradoks lyk. Ná alles is Clive gesoute politikus, staatsman en leidsman van die konserwatiewe beweging in Suid-Afrika

Ons sê: Laat Clive vry! Laat hom nóú vry! Dis die regte ding om te doen!

Wat motiveer ons om dít te sê? As ons nie in die naam van die politiek praat ten behoewe van ‘n konserwatiewe politikus, ‘n voormalige burgemeester van Edenvale en volksraadslid van die Konserwatiewe Party, nie, op grond van watter diskoers of etiek versoek ons sy vryheid?

Ons grond ons appèl op drie dinge: geregtigheid, tesame met God of Christelike medemenslikheid, asook beskaafde waardes. In dié land van haat en geweld, van onverdraagsaamheid en wraaksug, waar mag so dikwels reg is, sal vele sulke beginsels uitjou. Vir so ‘n beroep op die rede en op redelikheid, sal hulle ons as regs tipeer. Of fasciste. Of boerse Boere. Maar ons verwerp alle etikette en slagspreuke.

Net soos wat ons nog ‘n enkele tronkuur vir Clive verwerp, so verwerp ons die gevangenis van taal, van fasiele propaganda. As iemand ons hoegenaamd wil etiketteer, moet hulle ons posthumaniste noem. Die mens is nie ons god nie, net soos wat humanisme nie ons godsdiens is nie!

Clive moes nooit in die tronk gewees het nie, wat nog te sê 21 jaar lank! Soveel ander het klakkeloos kwytskelding ontvang: Aboobaker Ismail, die outeur van die Kerkstraatbom, wat tydens ‘n gruweldaad net ‘n hanetree van hier, 19 mense vermoor en 200 vermink en beseer het. Ook die aanvallers van APLA wat in Julie 1993 goedsmoeds tydens ‘n erediens by die St. James-kerk in Kaapstad ingebars en 11 onskuldige burgerlikes doodgeskiet het, het klakkeloos kwytskelding van die Waarheids- en versoeningskommissie ontvang. Albei gevalle is oorlogsmisdade wat deur die Geneefse Konvensies verbied word!

Kort ná sy bewindsoorname het Nelson Mandela amnestie aan 9000 geharde misdadigers toegestaan, net soos FW de Klerk in 1991 ongeveer 4000 veroordeelde misdadigers vrygelaat het.

Net Afrikanergevangenes moes in die tronk bly sit, waaronder Clive Derby-Lewis die skreiendste geval is, hy wat self niemand gedood het nie!

Is dit geregtigheid? Is dit ewewigtigheid?

Ons weet dat daar in die naam van die mens en van gelykheid tydens die twintigste eeu 100 miljoen mense doodgemaak is. Veral die marxisme-leninisme was vir hierdie reeks volksmoorde verantwoordelik. As ons dus vra dat Clive om menslikheidsredes, as ‘n bejaarde, ernstig siek man vrygelaat moet word, weet ons amper by voorbaat dat ons versoek op dowe ore gaan val. Die mensaanbidder is juis nie “menslik” in daardie sin nie, maar by uitstek wreedaard, met ‘n hart van klip. Vandaar ons beroep op ‘n Hoër Gesag en op Christelike vergiffenis. Indien daar nog ‘n greintjie Christelikheid in Suid-Afrika oor is, vra ons nederig en nou ter elfder ure, dat dit op ons arme Clive uitgestort sal word.

Die derde beginsel waarop ons ons as posthumaniste beroep, is dié van beskaafde norme en waardes. Ons weet dat daar lande bestaan waar gevangenes mishandel en verwaarloos word, waar hulle mediese sorg ontsê word. Hulle kan selfs in die tronk vermoor word, hetsy deur ‘n bewaarder, hetsy deur ‘n medegevangene.

Sulke onbeskaafde lande word deur die internasionale gemeenskap verwerp of gewantrou.

Daarom vra almal van ons wat vandag hier byeen is, die dringende vraag aan hierdie owerheid: Is Suid-Afrika nog ‘n beskaafde land? En: Kan hy dit oor sy hart kry om ‘n konserwatiewe gevangene vry te laat?

Kerkplein, Pretoria, 12 April 2014

Naskrif by my toespraak en die betoging van gister

Wat my gister opgeval het, is hoeveel van die sprekers soos Steve Hofmeyr, Andries Breytenbach, Hannes Engelbrecht en ander na kommunisme verwys het. Dis seker nie toevallig nie, want Clive Derby-Lewis verkeer in die gevangenis as gevolg van sy beweerde aandeel in die sluipmoord op ‘n kommunistiese terroris, Chris Hani.

Elders vandag skryf Leon Lemmer in sy weeklikse, voortreflike rubriek hier op praag: “In die vorige eeu het heldersiende blankes tereg teen die rooi gevaar en die swart gevaar gewaarsku.”

Hy kon ook ‘n ander slagspreuk van PW Botha bygevoeg het: die totale aanslag. Tans is die aanslag van die huidige orde op Afrikaners juis totaal. Ons word op alle vlakke van ons menswees en identiteit aangeval: polities, ekonomies, sielkundig, ideologies, godsdienstig, taalkundig. Selfs sport word nie ontsien nie en so pas het die minister van sport, Fikile Mbalula, strenger rassekwotas aangekondig, maar ook alle opposisie teenoor die ANC-bewind as “fascisties” afgemaak.

Vandaar dus my gebruik van die term “posthumanisme” gister, wat aan die Franse filosofie van die 1970s en 1980s ontleen is. Uit Frankryk het die skerpste kritiek op kommunisme gekom, wat die wortels van kommunistiese wreedheid en totalitarisme tot in die denke en taalgebruik van Marx, Engels en Lenin nagespoor het. Die Franse filosoof, Alain Finkielkraut, het ‘n boek teen totalitêre ideologieë geskryf met die titel, Au nom de l’humanité (In die naam van die mens), wat ook in Engels as In the name of humanity vertaal is. Daarin sinspeel hy ook op die feit dat die ergste massamoorde, volksmoorde en ander vergrype nie meer soos in die dae van die godsdiensoorloë in Europa op grond van godsdienstige idees of verskille gepleeg nie, maar ter wille van “die mens”.

In Suid-Afrika het ons sedert 1994 gesien hoe spesifieke (swart)-mense soos die Mandelas (Nelson en Winnie), Tutu en Chris Hani verafgod word. By die dosyne word boeke oor hulle geskryf en Hollywoodfilms oor hulle gemaak. Ook die swartman as sodanig word verafgod as synde “meer moreel, meer bejammerenswaardig en daarom meer verdienstelik as die blanke”. Hierdie mens-as-afgod-idee is afkomstig uit drie denkstrome:

  1. die teologie van die revolusie wat die marxisme met die Christendom versoen het en waarvoor vele revolusionêre teoloë (soos emiritusbiskop Tutu) voorspraak maak, en wat van Christus ‘n soort “Ché Guevara van die armes” maak;
  2. die kommunisme en liberalisme wat tradisie, godsdiens en alle metafisiese beskouings verwerp en daarom die mens as enigste oorblywende god op die troon plaas;
  3. die wetenskap en die tegniek wat die illusie skep dat die mens volkome in beheer van sy omgewing en sy lotgevalle is en dat hele samelewings deur wetgewing, rasstellende aksie en sosiogeniëring omvorm of “getransformeer” kan word.

Die Afrikanerbeweging van die vroeë twintigste eeu was ‘n tradisioneel nasionalistiese beweging wat merendeels in stryd met Britse kolonialisme en imperialisme verkeer het, maar wat mettertyd ook deur die kommunisme gekonfronteer is. Uiteindelik moes Afrikaners deur onderlinge verraad en verdeeldheid die knie voor die Suid-Afrikaanse Kommunsteparty buig. Nelson Mandela was self lid van die Kommunisteparty en benewens Joe Slovo en Chris Hani, hul grootste held. Die oorblywende Afrikanernasionalistiese mediagroep, “Nasionale Pers” of Naspers, is self tot Mandela-aanbidding bekeer.

Net soos Afrikaners voorheen tussen Nat en Sap, of KP en NP verdeel is, heers daar vandag ‘n nuwe verdeeldheid tussen die oorblywende “stoere Boere” of Afrikaners en die liberale Mandela-akoliete. Maar selfs binne die oorblywende Afrikanerbeweging wat hom op allerlei maniere teen die huidige bestel verset, loop daar ‘n bars tussen die tradisionele Calvinistiese nasionaliste en ‘n meer sekulêre, postmoderne groepering wat hulle op ‘n “Afrikanertradisie-in-wording” beroep.

Danie Goosen het in sy boek “Die nihilisme” (Praag, 2007) die intellektuele grondslag vir ‘n nuwe godsdiensbelewing en ‘n nuwe metafisika gelê wat tot baie Afrikaners behoort te spreek. Volgens Goosen sou die mensaanbidding van die liberale en kommuniste juis ‘n vorm van nihilisme en verval wees. Hy beveel ‘n terugkeer na die idees van die Middeleeuse filosowe soos Duns Scotus, Thomas Aquinas en Willem van Ockham aan.

Globaal, veral in Wes-Europa, maar ook in Rusland, is daar egter ‘n sterk nuwe politieke en intellektuele beweging wat sy wortels in die Duitse denke van die vroeë twintigste eeu het en wat veral deur Nietzsche beïnvloed is. Nietzsche was by uitstek die filosoof wat ingesien het dat die Europese verlies aan ‘n godsdiensbeskouing (die sogenaamde “dood van God”) tot ‘n aanbidding van die mens sou lei, met die gevolge wat ons vandag wêreldwyd, maar veral in Suid-Afrika, beleef. Wanneer die mens, en veral die swartmens, op die troon van God geplaas word, kan daar net funeste gevolge wees.

Van Wyk Louw vra iewers die vraag: “Het ons ooit gemak in ons situasie verwag?” Daar was oomblikke in die sestiger- en sewentigerjare toe Afrikaners hulle wel verbeel het dat hulle ten einde laas gemaklik was, om nie van ‘n gemaksone te praat nie! Dit was egter van korte duur, want vandag bevind ons ons binne ‘n stryd om voortbestaan, ‘n oorlewingstryd met donker magte wat oral om ons opgestapel word.

Net om te oorleef, sal ons ‘n konstante stryd moet stry. Teenoor die totale aanslag, ons totale weerstand. Dit geld op alle gebiede: veiligheid, ekonomies, kultureel, talig, intellektueel, akademies, godsdienstig, filosofies. Soos die Spartane van ouds, wat van kleins af vir oorloë en stryd moes oefen, sal ons moet besef dat ons nie vir ‘n oomblik kan laat slaplê nie. Die swakheid van die gemaksugtige De Klerk-geslag is meedoënloos deur ons vyande uitgebuit tot op hierdie punt waar ons as vreemdelinge in ons eie land beskou word wie se bates na willekeur afgevat mag word, as ons nie soos diere afgeslag word nie.

As konserwatiewe posthumaniste wat nie meer die oppergesag van die mens – selfs die mens in groot getalle en as jillende skares of kiesers – bokant ons erken nie, sal ons ons eie toekoms skep, volgens ons eie tradisies en as organiese volkseenheid wat op selfbeskikking en eie soewereiniteit geregtig is.

Al bestaan die Afrikanerbeweging vandag oënskynlik uit ‘n klein groepie mense, sal die werklikheid van ons omstandighede binnekort groot getalle mense begin wakkermaak. Aan hulle moet ons ‘n omvattende plan en strategie bekendstel wat niks minder as ‘n konserwatiewe revolusie – om nou daardie Oostenrykse term van honderd jaar gelede te gebruik – tot gevolg sal hê nie.

Sodra Clive Derby-Lewis vrygelaat is, moet die volgende doelwit gestel word. En daarna die volgende en die daaropvolgende. Totdat ons van oorheersing vry is en uiteindelik daardie vryheid kan smaak waarna ons voorouers so lank moes streef, kaalvoet oor die Drakensberge.

Om te stem of nie te stem nie?

roodt_dan_wikideur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Vandat ons nuwe politieke party Front Nasionaal gestig is, word ons geweldig aangeval, veral van regs en verregs. Die Vryheidsfront Plus, asook allerlei groeperinge met die prefiks “Boer-” in hul benaminge, beskou Front Nasionaal se deelname aan die komende verkiesing as ongevraag, verdelend en selfs ‘n vorm van “verraad”.

Soos ek reeds vantevore geargumenteer het, bevind die Afrikaner hom tans in ‘n ondergeskikte posisie teenoor die swartman, maar ook die Geldmag in Suid-Afrika, vanweë ‘n probleem van denke. Teenoor die opkoms van die ANC, die SAKP, maar ook Afrikanervyandige maatskappye soos Vodacom en Barclays-ABSA, verkeer die Afrikaner tans in ‘n toestand van verlamming, besluiteloosheid en onderlinge broedertwis.

Iets wat PRAAG oor die afgelope jare reggekry het, is om ‘n nuwe intellektuele basis vir die Afrikaner te verskaf, wat aansluit by die Goue Tyd van Afrikanerpolitiek, maar ook in pas is met die moderne, eietydse nasionale bewegings in Europa. Veral in Nederland en Frankryk het ‘n nuwe geslag denkers en aktiviste opgestaan wat besig is om die politiek in daardie lande grondig te verander. Daar is honderde en selfs duisende boeke téén die kommunisme en linkse hegemonie geskryf; eers daarna het politici daarin geslaag om stemme by die stembus te begin verwerf en om in die hoofstroommedia opgeneem te word. PRAAG het oor die afgelope veertien jaar daardie rol van intellektuele voorhoede vir die nuwe beweging vervul en ‘n duik in die links-liberale propaganda gemaak.

So pas gister het ‘n 16-jarige skoolseun in Nederland sewe dollar aan Front Nasionaal via PayPal geskenk. Hy sê hy sou graag meer wou bydra, maar omdat hy nog op skool is, beskik hy oor geen inkomste nie! Ek wonder hoeveel 16-jarige Afrikaners sou tagtig rand aan ‘n Nederlandse politieke party skenk? Of sou hulle selfs die name van politieke partye in Nederland ken? Dis egter tekenend van die nuwe politieke bewussyin in Nederland dat veral jongmense hulself deel voel van ‘n wêreldwye stryd om die Europese beskawing te red, ook in Suid-Afrika waar die vooruitsigte vir enige beskawing hoegenaamd besig is om daagliks te taan.

Verregse Afrikaners meen dat dit futiel is om aan nasionale verkiesings deel te neem en dat gewapende opstand die enigste manier is om van die ANC en SAKP se oorheersing ontslae te raak. Tot dusver het diegene wat hulself op gewelddadige wyse daarteen wou verset egter bedroë daarvan afgekom. Enersyds is alle Afrikaanse organisasies deur die staat ingesypel en werk informante kliphard teen betaling om mede-Afrikaners by die staat te verkla en desnoods in die howe te laat skuldig bevind. Ek meen alle volkere wat deur ander oorheers word, vertoon hierdie tendens: een deel van die mense werk saam met die vreemde heerser en die ander deel verset hom daarteen, hetsy ondergronds, hetsy op ‘n min of meer wettige manier.

Omdat verregses nie aan verkiesings deelneem nie, is dit futiel om met hulle oor partypolitiek te redeneer. Hulle is ook nie as kiesers reregistreer nie en hoewel hulle nou in verkiesingstyd oorloop van menings oor hoe en vir wie ander behoort te stem, gaan hul stemme (of dan “nie-stemme”) geen verskil aan die uitslag maak nie.

Een van die argumente wat verregses gebruik om deelname aan die politieke stelsel te ontmoedig, is die bewering dat sodandige deelname die status quo “legitimeer” of bevestig.

stateincapitalistsocietyVele marxiste gebruik ook dié argument. Toe ek in my eerste jaar by Wits was, het ons in die staatsleerklas ‘n voorgeskrewe boek van die Britse marxis, Ralph Miliband, gehad met die titel The State in Capitalist Society. Daarin argumenteer hy juis dat deelname aan die politieke stelsel beperkend is, ten minste vir “revolusionêre partye”:

“Merely by taking part in the work of the legislature, [opposition parties] help the government’s business. This is one of the main problems of revolutionary parties. As they enter existing parliamentary bodies, so are they also compelled, however, reluctantly, to take a share in their work which cannot be purely obstructive.” (bl. 50)

Terloops, destyds as eerstejaartjie kon ek dit nie vermoed nie, maar Ralph Miliband was ‘n goeie vriend van Joe Slovo en hulle het gereeld in Londen saamgekuier. Dit was seker nie toevallig dat Miliband se boek destyds by Wits voorgeskryf is nie. Merkwaardig is egter die feit dat albei die marxistiese Miliband se seuns, David en Ed, in die onlangse verlede ‘n prominente rol in die Britse politiek sou speel. David was die Britse minister van buitelandse sake en Ed Miliband is tans die leier van die Arbeidersparty. David Miliband het tydens sy ampstermyn ANC-terreur teen apartheid-Suid-Afrika in die openbaar verdedig.

Ed Miliband, huidige leier van die Britse Arbeidersparty
Ed Miliband, huidige leier van die Britse Arbeidersparty

Die politiek is ‘n klein wêreld! En kennelik het die Miliband-seuns nie hul linkse vader se raad te letterlik opgeneem nie.

Onder aanvoering van Joe Slovo en ander prominente kommuniste vanuit Londen, het Suid-Afrika ‘n linkse revolusie ondergaan en is die De Klerk-bewind soos ‘n nat waslap uit die pad gesmyt. Intussen word Afrikaners via die media – ook natuurlik die Nasperskoerante! – blootgestel aan linkse denke, maar dan gaan dit merendeels daaroor om die ideologie van politieke korrektheid en witskuld te vestig, asook om Afrikaneronmag en gebrek aan getalle te beklemtoon.

Gister na afloop van ons Front Nasionaal-vergadering, het ons insgelyks gepraat oor die swak vertoning van konserwatiewe Afrikaners teenoor die linkse revolusionêre in Suid-Afrika. Onder andere spruit dit uit Afrikaners se onkunde oor die marxisme, feminisme, afrosentrisme en ander denkrigtings wat die linkses in hul aanslag rig. Ons mense is ook oningelig oor die geskiedenis van kommunisme in die twintigste eeu, waaronder die 100 miljoen mense wat in die Groot Gelykmaak gesterf het. Vanaf 1978 toe die SA Kommunistiese Party amptelik die doktrine van ‘n massa-oorlog (people’s war) omhels het, het honderdduisende mense reeds tydens Suid-Afrika se Groot Gelykmaak gesterf. In ons tyd verhewig die gewelddadige aanslag teen die blanke middelklas, waaronder natuurlik plaasboere. Tensy die linkse revolusie by ons gestuit word, gaan hy nog baie slagoffers eis.

‘n Verdere punt wat Miliband in sy boek maak, is dat die staatsmasjinerie ook nie eintlik vatbaar vir verandering is nie, selfs al kom ‘n ander party aan bewind. In die geval van Suid-Afrika, is ons hele staatsadministrasie natuurlik deur die ANC en Kommunistiese Party oorgeneem, sogenaamd “getransformeer”, dus sal selfs die DA geen hond haaraf kan maak indien hy ooit die verkiesing sou wen nie. Iets wat onder huidige omstandighede hoogs onwaarskynlik is.

Waarom dus nog hoegenaamd stem, indien ons weens ons getalle nie eintlik veel invloed by die stembus kan uitoefen nie? Is die HNP-slagspreuk, “Stem reg, bly weg” nie maar die regte nie? Ironies poog die leier van die HNP en verkose president van die Boere-Afrikanervolksraad, mnr. Andries Breytenbach, juis tans om ‘n afspraak met president Jacob Zuma te bekom. Alternatiewelik loods die Volksraad aansoeke in Suid-Afrikaanse howe en korrespondeer met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, ‘n liggaam wat deur die 1996-grondwet in die lewe geroep is.

Daarmee wil ek nie polemiseer nie en dis elkeen se goeie reg om die benadering te volg wat hy wil om Afrikanervryheid te herwin. Maar wat is nou eintlik die verskil daartussen om deel te neem aan die Suid-Afrikaanse regstelsel, voor regters wat deur die ANC aangestel word, en aan verkiesings deel te neem? Op ‘n manier het ek meer vertroue in die oppartydigheid van die Onafhanklike Verkiesingskommissie as in die onafhanklikheid van die regbank! Hoe dit ook al sy, daar bestaan ‘n klomp redes waarom ons aan verkiesings behoort deel te neem:

  • ons mag nie ‘n situasie skep waar bestaande partye soos die DA en selfs die Vryheidsfront Plus, wat samewerkende opposisie met die ANC bepleit, as “woordvoerders van die Afrikaner” optree nie;
  • daarmee saam, moet ‘n groepering soos Front Nasionaal in die SA parlement bestaan wat onverskrokke die herstel van Afrikanersoewereiniteit bepleit en nie net ‘n soort volkstaat wat behels dat ons almal na ‘n uithoek van die land moet wegtrek nie;
  • buitelandse politieke partye wat die Afrikanersaak goegesind is, verkies om met ‘n politieke party te skakel, eerder as buite-parlementêre organisasies;
  • die ANC, DA, EFF, Cope, ens., gebruik die politieke stelsel en belastingbetalersfondse om hul doelwitte te bevorder en ons sou ons benadeel indien ons nie dieselfde doen nie;
  • die parlementêre stelsel, asook verkiesings, bied aan ons die geleentheid om ons standpunte in die massamedia te stel en sodoende die heersende linkse ideologie teen te werk;
  • wêreldwyd verkies mense om aan verkiesings deel te neem tensy hulle met geweld van die stembus weggehou word, daarom gaan ‘n groot klomp Afrikaners in elk geval stem, ongeag wat boikotters te sê het;
  • as verkose politieke verteenwoordigers kan ons bande met buitelandse ambassades en moondhede smee, wat ons kan help om weer vryheid te verwerf;
  • die buiteland sal slegs na ‘n politieke party luister, nie na ‘n guerillagroep sonder verkose woordvoerders nie;
  • pleks van vrugtelose appèlle op die ANC te loods vir afsprake met ministers, kan eise vir eie skole, universiteite, hospitale, veiligheid en ander instellings regstreeks in die parlement gemaak word.

Die groot gevaar wat egter bestaan vir enige politieke party met verteenwoordigers in die Kaapse parlementsgebou, is dat hy “deur die ANC gebreinspoel word”, iets waarvan die ontleder RW Johnson die DA onlangs beskuldig het.

This is the real disaster, that the DA has been so brain-washed by the ANC that not only has it lost its way but it is no longer offering South Africans a real choice.

Ook die Vryheidsfront Plus het aspekte van ANC-denke verinnerlik en, soos Hannes Engelbrecht dit onlangs gestel het, het “Pieter Mulder die eenheidstaat met gemak omhels”.

Sulke “breinspoeling” en beïnvloeding deur die regerende party vind egter plaas weens ‘n gebrek aan ‘n intellektuele kultuur en ondeurdagte standpunte. Nóg die DA, nóg die VF Plus beskik oor ‘n alternatiewe visie vir die land en vir die Afrikaner en word daarom intellektueel deur die SA Kommunisteparty oorheers wie se propaganda hulle dikwels onbewustelik of klakkeloos napraat.

As Afrikaners en blankes nie bereid is om die Front Nasionaal in te stem nie, gaan ons huidige rampspoedige agteruitgang net versnel.

Tensy ons wakkerskrik, is die huidige Zimbabwe ons voorland binne tien tot twintig jaar, selfs gouer indien die EFF se skouspelagtige groei voortgesit word!

Front Nasionaal kort steeds fondse om aan die verkiesing deel te neem! Skenk geld aan die regterkant van ons webblad via bankoordrag, kredietkaart of PayPal.

Afrikaners voer ‘teleurstellende’ gesprek met Menseregtekommissie oor selfbeskikking

Die Afrikanervolksraad onder voorsitterskap van mnr. Andries Breytenbach het eergister samesprekings met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor selfbeskikking gevoer. Die Volksraad is in 2011 verkies, met ongeveer 22 000 mense wat aan die stemming deelgeneem het. PRAAG het die volgende verslag oor die vergadering ontvang.

Die Volksraad het gister ‘n gesprek gevoer met die SA Menseregtekommissie na aanleiding van die klag wat die Volksraad op 3 Desember by die Kommissie teen die SA Regering gelê het weens laasgenoemde se versuim om uitvoering te gee aan sy konstitusionele en volkeregtelike verpligtinge met betrekking tot selfbeskikking van volkere, en spesifiek die Boere-Afrikanervolk.

Die gesprek was teleurstellend. Die Hoof Bedryfsbeampte (Chief Operations Officer) met wie die gesprek aangevra is, het nie opgedaag nie en ook geen verskoning is vir haar gemaak nie (nie dat haar teenwoordigheid enige verskil sou gemaak het nie). Van haar mindere beamptes en die deeltydse kommissaris wat die klag beoordeel, dr. Danny Titus*, het die Kommissie verteenwoordig. Die Voorsitster was me. Chantal Kisoon, die Provinsiale Bestuurder vir Gauteng.

Ter aanvang het die Voorsitter van die Volksraad die vergadering meegedeel dat dit óns mense se gebruik is om vergaderings met gebed te open, en het hy ons Ondervoorsitter, Abel Malan gevra om die gebed te doen. Die Kommissielede het dit oënskynlik vreemd gevind, dog die nodige respek getoon, terwyl die Kommissaris sigbaar geïrriteer voorgekom het.

Daarna het die Voorsitter van die Volksraad die redes verstrek vir die versoek tot gesprek en daartoe oorgegaan om ‘n kort beskrywing te gee oor die ontstaan en doel van die Volksraad, pogings om met die Regering te skakel, die redes vir die klag en die uitkoms wat die Volksraad verlang.

Vervolgens het hy aan die hand van die kommunikasie wat met die Kommissie gevoer is sedert die klag aanhangig gemaak is, aangetoon hoe navrae met onwaarhede oor die stand van die ondersoek beantwoord is. Hy wou voorts weet hoekom dit die Kommissie 5 maande neem om te bepaal of hulle jurisdiksie het om die klag te hanteer, terwyl die betrokke verdrae deur die VN as menseregteverdrae geklassifiseer is en die S.A. Regering by ondertekening daarvan die Internasionale Menseregtekomitee aanvaar het as beslegter van klagtes oor die uitvoering daarvan.

Kisoon het ontken dat daar voete gesleep word met die klag, en haar Kommissie se proses om klagtes te hanteer, verduidelik. Die ongewone aard van die klag en die implikasies wat dit vir die land kan inhou, dra glo by tot die tydsduur wat vereis word om ‘n besluit oor hul jurisdiksie te neem. Die wanvoorstellings oor die vordering is eenvoudig afgemaak en weggepraat.

Daarna het die Kommissaris wat die ondersoek uitvoer, Danny Titus, die woord geneem. Ofskoon hy toegegee het dat volke se reg op selfbeskikking in die Volkereg erken word, en dat die regime gebind is tot onderhouding van die internasionale ooreenkomste wat hy onderteken het, het Titus se vooroordeel en vyandigheid uit die staanspoor geblyk toe hy, soos ons verwag het, die hele aangeleentheid oor die boeg van rassisme en ‘n terugkeer na “apartheid” probeer gooi het — ‘n tema wat hy herhaaldelik gedurende die gesprek na vore gehaal het. Die Voorsitter van die Volksraad het daarop aan hom ‘n omvattende navorsingstuk oor die erkenning van volke se reg op selfbeskikking in die Volkereg, oorhandig, wat deur ‘n medewerkende prokureur nagevors en opgestel is.

Voorts het hy die Volksraad se aanspraak op verteenwoordiging betwis weens die feit dat daar nie méér geregistreerde kiesers op die VVK se kieserslys geregistreer is nie. Hy wou weet hoeveel Swartes en Kleurlinge aan die verkiesing deelgeneem het, waarop die Volksraad hom daarop gewys het dat dit ‘n volksverkiesing was vir lede van óns volk wat die verklaring op die registrasievorm kon en wou onderskryf. Hy het trouens beweer dat die aantal vryheidsgesinde Afrikaners daal en ‘n stelling wat in The Economist gemaak word, as bron vir die bewering aangehaal. Die Voorsitter van die Volksraad het voorgestel dat as ‘n billike bepaling van die aantal volksgenote wat vryheid begeer, verlang word, die Kommissie by die Regering moet aanbeveel dat ‘n landwye meningsopname in die vorm van ‘n referendum, wat uit die Staatskas (d.w.s met ons belasting) befonds word, onder Afrikaners gehou moet word.

Die ander vraag (wat ook te wagte was), was wáár die Volksraad ‘n eie gebied vir selfbeskikking in die oog het. Die Kommissie is daarop gewys dat die Volksraad in sy skrywes en vryheidseis vermy het om grense te trek, aangesien dit nou om die erkenning van die beginsel gaan. Daarna moet oorgegaan word tot die bepaling van die praktiese aspekte. Sou die selfbeskikkingsbeginsel aanvaar word, kan aan bestaande volksnedersettings soos Orania en Kleinfontein reeds ‘n hoë mate van selfbeskikking toegeken word, en voorsiening gemaak word vir die geografiese uitbreiding daarvan, terwyl volwaardige eie departemente vir terreine soos byvoorbeeld onderwys daargestel kan word. Sodoende kan selfbeskikking ‘n evolusionêre proses wees wat kan uitbrei totdat die eindideaal, te wete geografiese onafhanklikheid, bereik word.

Titus het beweer dat die beginsel van selfbeskikking reeds in artikel 235 van die Grondwet erken word. Die Volksraad se antwoord was dat dit sonder praktiese uitvoering ‘n dooie letter is. Ons dring aan op praktiese uitvoering daarvan.

Die vraag is gevra waarom ‘n regime wat die Afrikaner sigbaar haat, ons volk steeds onder sy gesag wil hou en nie bereid is om uitvoering te gee aan ons aanspraak op selfbeskikking nie. Ons afleiding is dat hulle ons slegs beskou as ‘n belastingbron wat getap kan word.

Vele ander vrae is gevra en argumente gevoer, waaruit die Kommissaris se kwade gesindheid, onbegrip en selfs moedswilligheid duidelik geblyk het. Daaraan geoordeel, is die Kommissie se bevinding en finale antwoord voorspelbaar. Hy erken enersyds dat die bevolking van Suid-Afrika uit verskillende volke (peoples) bestaan, nogtans gaan dit vir hulle om slegs één ding, naamlik die gelykskakeling en eendersheid van alle mense in Suid-Afrika kragtens die Grondwet. Voor die oppergesag van die mensgemaakte Grondwet — waaraan ons geen deel gehad het nie — moet die harde feite van ons eie volkskap, geskiedenis en identiteit wyk. Volgens Titus sal die Kommissie dieselfde standpunte voor die Internasionale Menseregtekomitee stel, sou die Volksraad hom tot dié liggaam wend.

Die gesprek en die benadering van die Kommissaris het opnuut die onbeskryflike yslikheid van De Klerk en sy meelopers se verraad teen ons volk onderstreep, waardeur ons in ‘n posisie geplaas is dat mense wat self geen volksidentiteit, volksgeskiedenis en volkstrewe het en daarom niks daarvan verstaan nie, oor die Boere-Afrikanervolk en ons nasionale aspirasies uitspraak kan lewer. Dit oortref die gekombineerde verraad van al die joiners in die Tweede Vryheidsoorlog omdat die gevolge daarvan vir ons volksbestaan soveel groter is.

Die Volksraad sal voortgaan om die opdrag wat hy met sy verkiesing gekry het, onverbiddelik uit te voer en roep volksgenote op om laer te trek ter beskerming van ons volkskap en om ons strydvaardig te maak teen die aanslae wat daarteen gerig word.

Andries Breytenbach

Voorsitter

14 Mei 2013

* Danny Titus is ook die Uitvoerende Direkteur: Kultuur van die ATKV! Behoede ons kultuur!

Kom ons ondersteun Kanadese besluit

Die ANC-regering het beswaar aangeteken teen die verlening van vlugtelingstatus aan 'n witman van S.A. en 'n Kanadese Federale hof hersien nou glo die beslissing.

Kom ons neem die geleentheid te baat en maak beswaar by die Kanadese regering se geswig voor die ANC se politieke druk. Ons is almal in besit van gegewens oor die moorde, verkragting en misdaad (dws die algehele disrispek vir lewe); die ontbinding van die kommando's wat die boere op die plase beskerm het; die vernietiging van Afrikaanse onderwysinrigtings; die ontsegging van beroepsgeleenthede en geleenthede om kontrakte te bekom tensy jou besigheid effektief aan swartes oorgemaak is; die aandele-afpersing deur swartes (sg. BEE); die voortdurende vernietigng van ons kultuurerfenis deur naamsveranderinge (altyd net Afrikaanse name wat verander word); die miskenning en onderdrukking van ons taal in howe en staatsdepartemente (die SAPD het glo nou weer opdrag gegee dat alle polisiewer, insluitend afneem van verklarings, slegs in Engels mag geskied); die dreigemente en opstokery teen blankes deur swartes se slagspreuke en openbare uitsprake, insluitende Zuma se "bring my my masjiengeweer"-liedjie; statistiek oor blankes wat al geëmigreer het omdat ons ballinge in ons eie land geword het; ens.

Stuur vir hulle die gegewens en foto's van verminkte blankes, sodat hulle volumes getuienis sal hê om te oorweeg. Ons het ook almal familie en kennisse in die buiteland of databasisse met sulke name. Moedig hulle aan om ook hulle verhale van misdaad en veronregting aan die Kanadese regering te stuur sodat dit aan die Federale Hof voorgelê kan word. Dink net watter impak dit kan hê as daar duisende sulke getuienisse op die Kanadese hersieningshof begin reën!

Hierdie saak het nou internasionale aandag getrek, laat ons die geleentheid te baat neem om ons kant van die saak en die ANC se wanadminstrasie van die eens florerende Suid-Afrika onder die internasionale aandag te bring. Almal wat gereeld pleit dat ons moet "saamstaan": hier is nou 'n geleentheid om dit te doen.

Heronder verskyn die adresse waarheen dit gerig kan word:

High Commission of Canada to South Africa in Pretoria

Address, Telephone, Fax, Email

Street Address

1103 Arcadia Street

(Corner Arcadia and Hilda Streets)

Hatfield, Pretoria, South Africa

Postal Address

High Commission of Canada

Private Bag X13

Hatfield, 0028, Pretoria, South Africa

Telephone: +27-12 422 3000

Fax: +27-12 422 3052

Email: pret@international.gc.ca

gothicАлександр Фильчаков Васильевич