Hulle vlieg so lekker want hulle lieg so lekker…

Onlangs maak iemand in ‘n kommentaar op ‘n woernaal-artikel die volgende “stelling” : “Hoe weet ‘n mens as ‘n politikus lieg?”

Hy antwoord self: “Wanneer sy lippe beweeg.”

Oor die jare van my skouerskuurdery met politici het ek dit self menigmaal beleef. Soms het ek die indruk gekry die leuens is kompulsief, ander kere wanneer die spreker tydens ‘n media-onderhoud nie die feite ken nie en in plaas van om te sê hy sal uitvind en terugkom, doodgewoon ongesteurd kluitjies bak.

Trouens, selfs die “uitvind en terugkom” kan in kluitjies bak ontaard. Tydens ‘n voorverkiesingstoer (ek meen voor die vorige landswye munisipale verkiesing) het die ANC op ‘n “road show” deur die Vrystaat gegaan en veral groepe boere toegespreek. In die Oos-Vrystaat het die gewone woordvoerders ander verpligtinge gehad, en moes ‘n ander ringkop instaan. Sommer gou het dit geblyk hy het nie ‘n koekieng kloe nie, en neem hy toe die vrae om later terugvoer te gee.

Die boere wag steeds, en intussen is van hulle verwag om vir die ANC te stem.

Dis egter nie al nie.

By geleentheid spreek eerw. Melkkoe ‘n groep mense in Bloemfontein toe, en ‘n bejaarde dame (toevallig die dogter van ‘n oud-president) vra hoekom die ACXP (onherkenbaar verander) niks oor plaasaanvalle uitreik nie.

Soos blits sê Melkkoe maar die ACXP doen, dis net die media wat dit nie plaas nie.

Enigeen wat meen ek bak nou kluitjies, kan op die ACXP se webwerf deur sy nuusverklarings blaai. As hulle een kry wat Melkkoei uitgereik het, moet hulle my asseblief laat weet by moegoe@voetsek.co.za

Trouens, kort tevore was daar ‘n plaasaanval in Noordwes. Ek het geweet die provinsiale leiers is op pad vir ‘n vergadering met Melkkoe, en sien ‘n kans om dié swye te breek. Ek stel ‘n mediaverklaring inderhaas in Afrikaans en Engels op, en e-pos dit na ‘n provinsiale leier wat nog  nie van sy huis af vertrek het nie, met die versoek – om die tafel – kry asb Melkkoe se OK hiervoor.

En ek wag en ek wag. Die ACXP stuur niks uit nie.

Met terugkeer by die huis laat weet daardie provinsiale leier Melkkoe sê aikôna, elke keer as hy so iets doen sê die ANC hy is ‘n Boeremeeloper. Maar die verklaring kan in die naam van daardie provinsiale leier uitgaan. En het, en het baie mediadekking gekry.

Trouens, die ACXP het heelwat mediaverklarings oor plaasaanvalle uitgereik, gewoonlik my handewerk, en deur die provinsiale leiers uitgestuur, en het heelwat mediadekking gekry. Gaan kyk bv op Volksblad, Beeld en Die Burger se argiewe. Hieroor is gereeld aan Melkkoe verslag gedoen.

Daar was ander voorbeelde met ander, soos die dominee wat met sy motorfiets in die riool gegly het, en volgens ‘n provinsiale leier ‘n eis teen die betrokke misipaal sou instel. Toe dit blyk ‘n duimsuigstorie te wees word ek sommer die sondebok gemaak.

Hierdie ellelange aanloop bloot om te kom by ‘n paar verwikkelings nou.

Seker die eerste is die onderhoud of nie onderhoud nie van Comrade Winnie. Terwyl Winnie ontken het sy het die onderhoud gevoer, plaas die Britse pers ‘n foto van Winnie saam met die artikelskryfster en dié skryfster se Nobelpryswennerman, voor Winnie se huis.

Die internetsoektog om te probeer bepaal of die verslaggeefster ‘n gewoonte maak van stories uit haar duim suig, lewer hoofsaaklik berigte op wat haar lofliedere besing, maar ook ander wat beweer dat sy begin lieg die oomblik as sy haar pen aan papier waag.

Soos die keer toe die media berig dat Zola Budd (Pieterse) wat R10 000 by die regering gekry het na aanleiding van ‘n belofte van Piet Promises dat die eerste Suid-Afrikaner na daardie toespraak wat ‘n wêreldrekord verbeter so ‘n meevaller gaan kry.

G’n niks sprake van nie, en die media het woorde in Piet se mond geplaas. En hier is ‘n kopie van die toespraak – g’n niks g’n so ‘n belofte nie. Toe speel die verslaggewer die bandopname van die toespraak, en daar is die belofte. Terloops, Zola het nié die geldjie gekry nie.

En nou die ANC se bontpratery oor Malema se kafpratery. Die Jeuliga gaan so ver om te sê Malema het g’n dié woorde tydens sy onlangse vergadering by Wits gesê nie. SAPA krap nou kop, want die media het berig dis by die UJ gesê, nie Wits nie.

Presies wat is nou ontken? Ek kry ‘n vreestoeval, want lyk mos nou kepleet Malema maak soos olie Saddam wat dubbelgangers gehad het om die Irakese nog banger te maak. Ek hoop net elkeen van hulle kry nie blouligbeskerming teen R300 000 per maand nie.

Eers haal die media pres. Jacob Zuma wyd aan dat hy sê hy gaan Malema nie aanspreek nie, want dit sou na ‘n teruggryp na apartheid lyk.

Daarna sê sy kantoor dat Zuma in sy gesprek met Afrikanerleiers onderneem het om met Malema te “praat” hieroor.

тамбов лежакидепутат лобановский

Zuma en kabinet wil toets vir Vigs

Themba Maseko, hoofregeringswoordvoerder, het Donderdag gesê die regering beplan om 15 miljoen Suid-Afrikaners teen Junie aanstaande jaar vir MIV/vigs te toets.

Jacob Zuma, adj.pres. Kgalema Motlanthe en die hele kabinet sal hulleself ook vir dié virus laat toets.

Slegs sowat 2 miljoen mense per jaar word tans getoets.

Dié aankondiging kom nadat die regering te kenne gegee het dat hulle nie jaar na jaar sal kan volhou om die begroting vir teenvigsmiddels te verhoog nie.

Volgens dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, sal daat voortaan baie groter klem op voorkomingsprogramme gelê word.

Die veldtog wat op 15 April in Gauteng afskop, sal fokus op inligting, onderrig, die beskikbaarheid van kondome asook die MIV/Vigs-status van alle Suid-Afrikaners.

instagramлобановский александр компромат

Weet die linkerhand….?

Vanaand voer pres. Jacob Zuma na verwagting samesprekings met bekende Afrikaners en Afrikanerorganisasies. Buitengewoon baie is op die spel.

Dié samesprekings volg kort op die hakke van ‘n nuwe nuusstorm wat Zuma se aangewese kroonprins, Julius Malema eiehandig veroorsaak het. Dié hofnar loop hom nou minstens tien klagtes van haatspraak op die lyf.

Soos gebruiklik is die werklike probleem nie dat Malema dit sê nie, maar dat die ANC laer om hom trek.

Aanvanklik is ontken dat Malema sekere woorde kwytgeraak het, maar die SABC was braaf genoeg om aan te dui dat dié instelling beeldmateriaal het wat aandui dat hy dit wel geuiter het. Die ANC se reaksie was om te ontken dat dié bevrydingslied haatspraak behels.

Die media wys egter daarop dat die ANC die lied reeds in 1993 verbied het.

In die proses het Malema nou die minister van polisie, Nathie Mthethwa, effektief gerepudieer nadat die minister op lange laas plaasmoorde baie gekwalifiseerd veroordeel het. Mthethwa het politieke partye gevra om nie politiek van plaasaanvalle te maak nie, maar hieroor steek sy eie party nou vir hom ver tong uit.

Zuma is egter ‘n ervare Houdini. Pas het hy weer die ongeneentheid met Solidariteit se misdaadveldtog in ‘n geleentheid omskep om dié vakbond met mooi woorde ‘n rukkie lank te pasifiseer, en selfs om lof aan Zuma toe te swaai.

Gaan Zuma dit vanaand weer regkry?

Dié keer is die teerling, wat die publiek betref, egter gewerp. Zuma mag dalk vanaand die afvaardiging met sy bekende sjarme om sy pinkie draai, maar in die oë van die publiek gaan die samesprekings net nog hol woorde wees as Malema nie onomwonde vasgevat word, en die probleem op ‘n manier blywend aangespreek word nie.

In ‘n sekere sin bevind Zuma hom nou tussen die duiwel en die diep blou see, en sekere mediagroepe bespiegel kliphard oor tekens dat die president se uurglas binnekort leeggeloop gaan wees.

Zuma het inderdaad nie net te kampe met, wat Jakes Gerwel en Max du Preez verregsing noem nie, maar ook groeiende verset aan die teenoorgestelde kant van die politieke spektrum waar Comrade Winnie haar mond uitspoel. Die verregsing is in ‘n groot mate die resultaat van Malema se ongetemde losbekkigheid, terwyl ander groeperings hul pond vleis begin opeis na Zuma met beloftes Kersvader gespeel het.

Zuma besef ook dit is nie meer so maklik om Malema vas te vat en sodoende polarisasie in die land te help temper nie. Waarnemers wys al ‘n geruime tyd daarop dat Malema se radikalisme ‘n breë stroom onder die swart jeug verteenwoordig. Malema self is dus nou net die oortjies van die seekoei.

Tog het Zuma in die praktyk nie vanaand ‘n keuse nie. Geen Houdiini-toertjie om Malema te laat loskom gaan meer goed genoeg wees om polarisasie te stuit nie.

Zuma moet duidelik sy voet neersit, én dit bedoel, en daar moet sigbaar van werk gemaak word. As hy nie die ruggraat hiervoor het nie, moet hy plek maak vir iemand wat wel ernstig oor die land se toekoms voel.

купить тамбов подъемники ножничныеФильчаков прокурор

President van Verleentheid

Toe dit aan die einde van verlede jaar bekend word dat pres. Jacob Zuma sy poligame huwelik verder gaan uitbrei, het die leier van ‘n klein party, die Christen-Demokratiese Party, dit as ‘n reuse stap terug na die donker eeue beskryf. Dit het blitssnel oor die wêreld mediadekking gekry. Hoewel dié leier dit duidelik gemaak het dit is nie ‘n aanval op die Zoeloe-kultuur en selfs die praktyk, wat wettig is nie, maar dat die president hom hierin begeef en terselfdertyd opgee dat hy ‘n Christen is. Hy is selfs ‘n ere-pastoor.

Die kritiek op die CDP-leier – ook uit intellektuele Zoeloekringe was egter asof die partyleier, ‘n dominee, ‘n aanval op die Zoeloekultuur gedoen het.

Kort hierna blyk dit egter die president het by nog ‘n vrou nog ‘n buite-egtelike kind verwek, en dieselfde partyleier beskryf toe Zuma as ‘n Bill Clinton, Tiger Woods en Henry die 8ste in een. Hierdie opmerking het blitssnel wêreldwyd versprei, en is in groot koerante oorsee opgeneem. Dié keer het niemand die partyleier tereggewys nie, nie eens deur sy woorde soos die vorige keer verdraai nie.

Die verskil in reaksie op die betrokke partyleier se opmerkings het met ‘n grootskaalse ontgogeling in pres. Zuma as president en as mens gepaard gegaan. Sedertdien kon die president min doen wat nie die teiken van uiterste kritiek geword het nie, soos sy staatsrede wat wyd as die swakste staatsrede ooit beskryf is. Brouwerk is met nog lomper lapwerk bedek.

Dat Zuma die hofnar, Julius Malema, as kroonprins gesalf het en dié ewe-eens by die dag in omstrede statuur groei, help ook nie veel om Zuma se beeld gepoets te kry nie. Selfs die Orde van die Bad wat die Britse koningin aan Zuma toegeken het, leen hom tot draakstekery in die vorm van die Orde van die Stort.

Die komende Fifa-toernooi verseker boonop dat die oë van die wêreld nou al hoe meer, en reeds tot groot skade van die land, op Suid-Afrika gefokus is. ‘n Blapsende president met ewe blapsende ministers is die laaste ding wat die land nou nodig het.

Vir baie trotse Suid-Afrikaners het Zuma nou ‘n nagmerrie geword waaruit die land enige oomblik wakker moet kan word. In verskeie koerante is die spoedige einde van Zuma se presidensie op die wenslysie geplaas en naarstigtelik word na tekens van verset, magstryde in die ANC-alliansie en ander tekens gesoek wat daarop sou dui dat Zuma se politieke lewe aan ‘n draadjie hang.

Die jongste debakel oor die verklaring van belange is nog so ‘n voorbeeld. Voorspelbaar was die reaksie van die presidensie weer uiters lomp. Die skuld word op onduidelikhede in die vertaling van die grondwet hieroor gegee. Die grondwet meld egter dat die Engelse teks die teks is wat by uitleg gebruik moet word, en dié teks laat geen ruimte vir onduidelikheid nie. Artikel 96 van die grondwet bevat onder meer hierdie bepalings: “Members of the Cabinet… must act in accordance with a code of ethics…

…may not undertake any other paid work … act in any way inconsistent with their office …or expose themselves to any situation involving the risk of a conflict of interest.”

Vanselfsprekend vereis die grondwet dat die president die grondwet moet eerbiedig en beskerm (Art 83).

Die vreemdhede versprei egter steeds soos masels. Pas het dit aan die lig gekom dat die minister van landbou nie Agri SA se veiligheidskonferensie kon bywoon nie, omdat Zuma haar juis toe na ‘n VN-konferensie oor vroueregte gestuur het. Dit is egter onverskoonbaar in die lig daarvan dat Zuma self ‘n nuwe ministerie, dié vir vroue, die jeug en gestremdes, geskep het. Hierdie minister sou immers die aangewese minister wees om VN-konferensie by te woon, sodat die minister van landbou haar kon bepaal by ‘n knellende aspek binne haar eie ministerskap.

Of is oorsese reise dele van die ministers se byvoordele wat ongeag toepaslikheid geroteer word sodat almal ewe veel kanse vir ekskursies kry?

Indien Zuma as president wil aanbly, is minstens een ding baie duidelik; hy moet óf nuwe adviseurs kry, óf hy moet na sy adviseurs begin luister.

Vanoggend dring Volksblad in sy hoofartikel aan daarop dat die president nou moet end kry daarmee om Suid-Afrikaners se intelligensie te onderskat.

машинка на радиоуправлении купитьДанильченко Юрий Брониславович компромат

Zuma se omstandighede is spesiaal

Die ANC het om verskoning gevra dat hulle president Jacob Zuma se sperdatum waarin hy sy belange aan die parlement moes verklaar het, nie gehaal het nie, maar hulle het gesê dat omstandighede in ag geneem moet word.

“Ons het ‘n spesiale taak in dié dat ons ‘n president met ‘n groot familie het en dus is dit nie maklik nie,” het woordvoerder Brian Sokutu Dinsdag gesê ná die onthulling dat Zuma die 60-dag spertyd verontagsaam het.

“Ons is jammer oor die feit dat die sperdatum nie eerbiedig is nie, maar soos ek voorheen gesê het, die omstandighede moet begryp word,” het Sokutu gesê.

“Wat verstaan moet word, is die feit dat die president meer as een vrou het en dat dit dus ‘n ander stel omstandighede is. En ons wil vra dat mense dit regtig moet respekteer. Hy het nie gesê dat hy nie gaan saamwerk nie.”

Zuma, wat 3 vroue en 20 kinders het, word deur prokureurs ondersteun in die saak nadat dit oorspronklik berig is dat sy kantoor gevoel het dat daar dubbelsinnigheid is in die wet oor die verklaring van sy belange.

no deposit bettingФільчаков Олександр Васильович

Zuma stel lys van sy belange op

President Jacob Zuma het begin om ‘n lys van sy belange op te stel en is gereed om dit te verklaar indien dit van hom vereis word, het sy woordvoerder Vincent Magwenya Maandag gesê.

“Mense moet ook weet dat die president, terwyl hy op terugvoering van sy regspan wag, ‘n voorlegging laat voorberei het, sou daar beslis word dat hy iets moet verklaar,” het Magwenya aan Sapa gesê.

Die DA het Maandag aangedui hulle gaan die Openbare Beskermer vra om ‘n ondersoek te loods om te bepaal of Zuma afdeling vyf van Die Wet op die Etiek van Lede van die Uitvoerende Gesag van 1998 oortree het, deur nie sy belange binne 60 dae vandat hy in Mei verlede jaar as president verkies is, verklaar het nie.

Magwenya wou dit onomwonde stel dat Zuma “deur sy kantoor dit duidelik gemaak het dat hy nie sy finansiële belange verklaar het nie.”

“Dit is nie asof die president iets wegsteek nie,” het hy gesê.

“Die president is daaraan toevertrou om ‘n deursigtige, oop administrasie te bestuur en dit is hoekom hy aan die Sunday Independent gesê het dat hy nie sy finansiële belange verklaar het nie.

“As die president iets weggesteek het sou hy nie so ‘n oop en direkte antwoord gegee het nie,” het Magwenya gesê.

Zuma wou glo sy belange verklaar, maar daar was verskeie opinies in sy kantoor oor of dit van hom vereis word.

Michael Hulley, Zuma se regsverteenwoordiger, is besig om die saak te hanteer.

Die belange van sy groot gesin en afhanklike kinders moet verklaar word. Zuma het drie vroue en 20 kinders.

“Die proses is reeds onderweg en hy wil dit so gou moontlik afhandel,” aldus Magwenya.

гигиена зубовФільчаков Олександр Васильович

Vetkatte se dans

Die tekens begin deurskemer dat die ANC ongemaklik begin raak om na die geldmag wat hulle in beheer geplaas het, se pype te dans.

Een van die redes waarom Zuma vandag president is, is omrede hy Mbeki vurig teengestaan het oor sy stille diplomatiese handtering van die Zimbabwe kwessie. Zuma het Cosatu, wat die MDC se bondgenote is, se taal gepraat en het met hulle hulp van Mbeki ontslae geraak.

Nou ewe skielik is Zuma ‘n kampvegter vir Mugabe tydens sy staatsbesoek aan Brittanje, en vra hy dat sanksies opgehef moet word. Nou wat het intussen verander? Einde Augustus verlede jaar was Zuma vir ‘n amptelike besoek aan Zimbabwe, en ek is seker ou Bob het vir hom mooi vertel hoe die dinge eintlik agter die skerms werk.

Na Zuma se besoek aan Zimbabwe word daar skielik gepraat van die nasionaliseering van die myne en banke, en selfs van die reserwebank. Daar word alternatiewe finansiering gesoek vir ontwikkeling deur pensioenfondse te roof en ‘n groot mediaoorlog word teen Zuma en Malema geloods vanuit die geldmag-beheerde pers. Ook het die Britte Zuma-hulle ingeroep vir ‘n ‘Staatsbesoek’.

Dit is nie verniet dat hierdie jaar se begrotingsrede en Zuma se toespraak in die Britse parlement melding daarvan maak dat die regering nie van plan is om die myne te nasionaliseer nie. Ons weet almal egter wat Dingaan se woord beteken…

Ons moet onthou dat die geldmag se hoofbesigheid die finansiering van regerings is. Veral oorloë, staatsgrepe en revolusies word gefinansier sodat die geldmag hulle houvas op die monetêre en politieke stelsels van lande kan kry. Daarna word die land gestroop van sy minerale rykdomme terwyl die paar krummels wat van die geldmag se tafel val gebruik word om die vetkat marionette wat die hulle in beheer hou te voer.

Ons weet van die katastrofe wat gevolg het in Zimbabwe toe Mugabe die geldmag uitgeskop het. Die hele ekonomie het in ‘n kwessie van maande in duie gestort. Dit sal dalk wys wees vir die Afrikaners om ook buitelandse geldeenhede of goud te besit. Indien die ANC voortgaan op die pad van Zimbabwe sal die Rand heel moontlik heelwat minder werd word. Op die langer termyn sal dit egter beteken dat ons makliker ons vryheid kan verkry, omrede ons ‘n duisend maal beter kans het om dit te verkry indien die geldmag nie agter ons vyand staan nie. Die geldmag het die Afrikaner al twee maal ore aangesit in die verlede. Gaan ons toelaat dat hulle ons totaal vernietig?

‘n Individu, klein organisasie en selfs ‘n politieke party kan weinig uitrig teen ‘n monster van ‘n geldmag. Dit is alleenlik wanneer daar ‘n oorkoepelende owerheid is wat alle Afrikaners outomaties saamsnoer, maak nie saak van jou siening of jou hardegat-houding nie, dat ons ‘n kans staan teen hulle.

Die sinkplaat gaan nog warm word vir die vet katte van die ANC…. want hulle speel met vuur. Die Afrikaner moet net sorg dat hy nie aan die slaap gevang word wanneer hulle sink nie, maar reg is om die geleentheid aan te gryp wanneer dit kom.

free casino no deposit bonusФильчаков Харьков

Zuma paai Britte oor myne

Jacob Zuma het Donderdag, op die derde dag van sy staatsbesoek aan Brittanje aan Britse parlementslede gesê die nasionalisering van myne is nie op die regering se agenda nie.

Zuma het dié versekering gegee nadat ANC-Jeugligaleier, Julius Malema, die nasionalisering van myne met ywer begin bepleit het.

“Laat my van hierdie geleentheid gebruik maak om te bevestig dat Suid-Afrikaanse wetgewing nié voorsiening maak vir die nasionalisering van myne nie en dat daar geen bespreking in regeringskringe daaroor gevoer word nie,” het Zuma tydens sy toespraak gesê.

Hy het ook die versekering gegee dat sokkertoeriste veilig sal wees gedurende die Wêreldbeker.

Zuma kon egter nie daarin kon slaag om die Britse eerste minister, Gordon Brown, te oortuig om sanksies teen Zimbabwe te laat vaar nie.

Die EU asook die VSA het die reisverbod en batebevriesing wat teen Suid-Afrika se buurlandleiers ingestel is, met ‘n verdere jaar verleng.

free slotАлександр Фильчаков прокурор

Zuma se toekenning

Die queen het pres. Jacob Zuma met die “Orde van die Bad” vereer.

“Moes dit nie eintlik die ‘Orde van die Stort’ gewees het nie wil mev. Blik op slag weet.

Ja-nee, daarmee kan ek nie méér as saamstem nie.

Maar, dink ek, ek is bly die queen het nie die “Orde van die Bad” óf die “Orde van die Stort” aan my toegeken nie. Ek sou dit net dalk as ‘n skimp beskou het, veral na siffel ure op ‘n vliegtuig.

“Ek dink,” sê ek na ‘n rukkie, “die ‘Orde van die Stoetbul’ sou meer gepas gewees het.

“Ja,” sê vroulief wat op ‘n plaas grootgeword het, “moes seker ‘n Drakensberger wees, want hulle kapasiteit maak dat hulle nie net hul eie troppies ‘doen’ nie, maar sommer ‘n klomp van die bure se troppe ook. G’n draad hou g’n Drakensberger in nie. Pure swart kallers die wêreld vol.”

“Dink jy die prez gaan bietjie besienswaardighede besigtig?” vra vroulief.

“Ja, ek hoor hy gaan by ‘n museum die uitstalling van Koning Henry die 8ste goed bestudeer. Volgens oorlewering is dié koning se rekord nog nie verbeter nie. Dis nou so ver ons weet.”

“Klink my Zuma is nie baie tevrede met die ‘Orde van die Bad’ nie.”

“Hoe so?”

“Ek sien hy vis al weer vir nog ‘n toekenning by Mugabe. Vertel vir die Britte die sanksies teen Mugabe is nou nie sportmanship nie, what, what.”

под потолокАлександр Фильчаков прокурор

Woed die opvolgstryd reeds?

Verskeie senior joernaliste bespiegel reeds weke lank oor hoe waarskynlik dit is dat ‘n opvolgstryd reeds om die kop van pres. Jacob Zuma losgebars het. Die jongste stertjie is om selfs ‘n potensiële opvolger te noem, naamlik mnr. Tokyo Sexwale.

Ten einde die waarskynlikheid van ‘n opvolgstryd te bepaal, moet die post-1994-tradisie van kabinetsamestelling verstaan word.

Oud-pres. Nelson Mandela het reeds die tradisie ingelui deur eerstens ‘n mate van nasionale kohesie deur die sogenaamde eerste linie aanstellings in die kabinet te maak. Dit is mense wat weens hul blou bloed stamverwantskap ‘n soort nasionale inbinding sal verseker, deur byvoorbeeld ‘n Swazi-prinses in te sluit, en ook mense uit die verskillende Xhosa-koningshuise, maar ook ander soos die Bafokeng.

Omdat tribalism in veral die voor-Zuma-era ‘n soort vloekwoord was, is selde weens politieke korrektheid iets oor hierdie eerste linie-aanstellings geskryf. Die bestaan hiervan moes in werklikheid deur goeie volkekundige kennis afgelei word. Hoe sterk dit in die praktyk neerslag vind, blyk uit die ANC se opoffering van Bantu Holomisa wat nie met me. Stella Sigcau kon stryk nie.

Bekwaamheid het selde iets met aanstellings in die eerste en tweede linies te make, en sukkel Onderwys steeds na dit sommer reeds in 1994 behoorlik geBengu is.

Die tweede linie is die beloning van vriendskappe wat ‘n tipe persoonlike lojaliteit verseker. Die derde linie is die tegnokrate.

Die eerste linie is in ‘n mate na ander bevolkingsgroepe uitgebrei, en is aanstellings uit die Indiër en bruin gemeenskappe in die Kabinet ‘n gegewe. Die aanstelling van blankes in die kabinet vir hierdie doel was selde baie geslaagd.

Hierdie gegewe is na ander vlakke uitgebrei, met die tweede linie wat veral by die aanwysing van Premiers baie prominent was.

Wanneer ‘n nuwe leier in tipiese eenparty-styl ‘n bewindsverandering teweeg bring, is dit gewoonlik die tweede linie wie se politieke lewens erg in die gedrang kom. Die eerste linie bly basies onaangetas met hoogstens ‘n portefeuljewisseling.

Baie afleidings oor ‘n leierskapstryd word rondom Julius Malema se skynbare onaantasbaarheid gemaak. Een hiervan is dat Zuma, met die inkorting van adjunk-pres. Mothlanthe se statuur wat nie net van instaan-president afgegradeer is nie, maar ook nie toegelaat word om in Zuma se skadu weer statuur op te bou nie, ‘n plaasvervangende olyftak na die Noord-Sotho’s moes uithang. Malema was ‘n voor die hand liggende keuse.

In die proses geld geen reël vir Malema nie. Terwyl Zuma nog slegs ANC-president was, is beide Zuma en Malema as sprekers na ‘n jeugdagviering van die staat na Botshabelo laat kom. Duisende mense van oor die Vrystaat is ook per bus, en op staatskoste, na dié funksie aangery waar Malema sy gewraakte: “Ons sal doodmaak vir Zuma”-woorde geuiter het.

Die DA het oor hierdie miskenning van die grens tussen politieke party en die staat by die Openbare Beskermer gaan kla.

Malema, steeds in geen amptelike staatspos nie, kry nou BBP-beskerming. Tussenin was daar nog die kwessie van sy beweerde spoedoortredings en voorspruitende gedrag wat skynbaar onverbiddelik in die doofpot gedruk is. Pres. Zuma het dit selfs wys geag om Malema tydens ‘n besoek aan Malema se geboortedorp as toekomstige president te salf.

Maar toe dit kom by die toestaan van tenders, is hy skielik weer ‘n gewone privaat burger wat vryelik om tenders aansoek kan doen.

Dit verbaas dus niemand dat gerugte dit nou wil hê, soos gisteraand op RSG se Kommentaar deur Max du Preez vermeld, die rondte doen dat Malema se kitsrykdom moontlik na Tokyo Sexwale en sy presidentsaspirasies herlei kan word nie.

Dat Malema se rykdom met Tokyo se aspirasies verband hou, bevat egter net soveel waarskynlikheide as onwaarskynlikhede, en is die stamverband van ‘n Mthethwa-opmerking dat Malema ‘n juweel is, meer beduidend.

самолигирующие брекеты damonФильчаков прокурор харькова

Malema sê joernalis het sy handtekening vervals

Die omstrede ANC-jeugleier, Julius Malema, het Sondag gesê ‘n joernalis het sy handtekening vervals met die doel om hom wat Malema is, in ‘n slegte lig te plaas.  

“Ons sal nie vernietig word deur die koerante nie. Hulle gebruik net my naam om koerante te verkoop. Die joernalis het my handtekening vervals om my sleg te laat lyk,” het Malema in Wema, Durban gesê. 

Die City Press het berig dat Malema die afgelope week vir die media gelieg toe hy op ’n mediakonferensie gesê het hy het geen aandele in ’n maatskappy met winsgewende staatstenders in Limpopo nie.

Volgens die koerant het Malema ook gelieg toe hy ontken het dat hy dokumente onderteken het om ’n bestuurslid van SGL Engineering Projects te word. Hy was glo in Mei verlede jaar nog direkteur van SGL.

Registrasiedokumentasie toon dat Malema 70% van SGL besit.

Volgens Malema is hierdie tipe beriggewing glo daarop gerig om die ANC-jeugliga te vernietig.

“As ek iets verkeerd gedoen het kan president Jacob Zuma se regering my in hegtenis neem. As ek iets verkeerd gedoen het, moet ek vervolg word,” het Malema gesê.

“Die jeugliga sal nooit vernietig word nie. Ons steel nie van arm mense nie want ons is kinders van daardie wat gesukkel het tydens apartheid.”

Malema het nie gesê of hy ‘n saak teen die joernalis aanhangig sal maak nie.

архитектурное и ландшафтное освещениелобановский депутат

Duarte bedank uit haar pos

Jesse Duarte, president Zuma se hoof van operasies, het bedank uit haar pos nadat ‘n stryd tussen haar en Lakela Kaunda, die hoof van Zuma se private kantoor, uitgebreek het.

Duarte, ‘n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het as die party nasionale woordvoerder gedien totdat sy in 2009 in die presidensie aangestel is. Sy sal as lid van die NUK en die ANC aanbly.

Volgens Duarte gaan sy nie die stryd opsê nie en sonder genade “aanhou veg in die oopte”.

Volgens die Sunday Times het Duarte Donderdag per e-posboodskap haar bedanking aan die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, gestuur. 

Kaunda was Zuma se woorvoerder toe hy die LUR van finansies in die KwaZulu-Natalse provinsiale regering was. 

болезни десен лечение народными средствамиданильченко юрій Харків

Malema is nie verkose amptenaar nie, sê Zuma

President Jacob Zuma het Dinsdag gesê daar is niks om die leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema te verbied om onverklaarde sakebelange te hê nie, want hy is nie ‘n verkose amptenaar nie.

“Ek is nie seker dat Malema geen reg tot sakebelange het nie. Op grond van wat, weet ek nie,” het hy Dinsdag aan die parlementêre persgalery gesê.

“Malema is nie ‘n werknemer van die regering nie, hy is ook nie ‘n direkteur van enigiets nie. Hy is Malema, hy is ‘n politikus, hy is die leier van die ANC-jeugliga, nie ‘n amptenaar in die regering nie. Hy val nie eers binne die reëls nie en hoef daarom niks te verklaar nie.”

“Daar is geen reëls vir mense wat nie deel van die regering is om enigiets te verklaar nie.”

Zuma het gesê hy wil geen kommentaar op Malema se sakebelange lewer wat hom glo miljoene in die afgelope twee jaar in die sak gebring het nie, omdat hy geen kennis daarvan het nie.

“Ek weet niks van Malema se sake af nie. Dit is nie my werk om elkeen se sakebelange na te gaan nie.”

Malema hou voet by stuk dat hy niks verkeerd gedoen het nie.

Hy het ook enigiemand uitgedaag om ‘n klag by die polisie te gaan lê wat glo dat ‘n maatskappy wat met hom geassosieer word, tenders van die staat deur onregmatige maniere ontvang.

купить детские заколки резинкиФильчаков прокурор харькова

Malema vra polisieondersoek oor viktimisasie

Die uitgesproke leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, het die polisie gevra om ‘n lys mense te ondersoek wat glo ondersteuners van pres. Jacob Zuma teiken, het hy Dinsdag aan die radiostasie SAFM gesê.

Hy het gesê hy gee nie om as die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ‘n oudit van sy geldsake doen nie, maar slegs as die ondersoek nie deur ‘n politieke agenda aangevuur word nie.

Malema het gesê as SAID gebruik word om die politieke belange van Cope, die OD en die DA te bevorder, is daar ‘n probleem.

“Ek sê so omdat ek ‘n lys name het en dit gaan bekend maak. Ons het dit nounet na die polisie geneem sodat hulle dit kan nagaan.

Die lys van mense wat geteiken moet word, word die “Zuma-mense” genoem, het hy gesê

Volgens Malema kom dié dokument van intelligensiepersoneel af.

SAFM het ‘n onderhoud met Malema gevoer ná berigte dat hy die direkteur van verskeie maatskappye is wat tenders van meer as R100 miljoen toegeken is.

Malema sê hy is nie meer ‘n direkteur van die maatskappye nie.

Die jeugligaleier beweer hy het sy prokureur ‘n geruime tyd gelede in kennis gestel dat hy as direkteur van die betrokke maatskappye wil bedank.

Sy naam is egter steeds op die gesaghebbende webwerf sacompany.co.za as direkteur van die ondernemings gelys.

Ná konsultasie met sy prokureur, sê Malema, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die registrasiekantoor vir maatskappye en intellektuele eiendom moontlik nie die instruksies finaliseer nie.

Bevestiging van die polisieondersoek was nie onmiddellik beskikbaar nie.

Шапки ЗимаОлександр Васильович Фільчаков