Verskeie senior joernaliste bespiegel reeds weke lank oor hoe waarskynlik dit is dat ‘n opvolgstryd reeds om die kop van pres. Jacob Zuma losgebars het. Die jongste stertjie is om selfs ‘n potensiële opvolger te noem, naamlik mnr. Tokyo Sexwale.
Ten einde die waarskynlikheid van ‘n opvolgstryd te bepaal, moet die post-1994-tradisie van kabinetsamestelling verstaan word.
Oud-pres. Nelson Mandela het reeds die tradisie ingelui deur eerstens ‘n mate van nasionale kohesie deur die sogenaamde eerste linie aanstellings in die kabinet te maak. Dit is mense wat weens hul blou bloed stamverwantskap ‘n soort nasionale inbinding sal verseker, deur byvoorbeeld ‘n Swazi-prinses in te sluit, en ook mense uit die verskillende Xhosa-koningshuise, maar ook ander soos die Bafokeng.
Omdat tribalism in veral die voor-Zuma-era ‘n soort vloekwoord was, is selde weens politieke korrektheid iets oor hierdie eerste linie-aanstellings geskryf. Die bestaan hiervan moes in werklikheid deur goeie volkekundige kennis afgelei word. Hoe sterk dit in die praktyk neerslag vind, blyk uit die ANC se opoffering van Bantu Holomisa wat nie met me. Stella Sigcau kon stryk nie.
Bekwaamheid het selde iets met aanstellings in die eerste en tweede linies te make, en sukkel Onderwys steeds na dit sommer reeds in 1994 behoorlik geBengu is.
Die tweede linie is die beloning van vriendskappe wat ‘n tipe persoonlike lojaliteit verseker. Die derde linie is die tegnokrate.
Die eerste linie is in ‘n mate na ander bevolkingsgroepe uitgebrei, en is aanstellings uit die Indiër en bruin gemeenskappe in die Kabinet ‘n gegewe. Die aanstelling van blankes in die kabinet vir hierdie doel was selde baie geslaagd.
Hierdie gegewe is na ander vlakke uitgebrei, met die tweede linie wat veral by die aanwysing van Premiers baie prominent was.
Wanneer ‘n nuwe leier in tipiese eenparty-styl ‘n bewindsverandering teweeg bring, is dit gewoonlik die tweede linie wie se politieke lewens erg in die gedrang kom. Die eerste linie bly basies onaangetas met hoogstens ‘n portefeuljewisseling.
Baie afleidings oor ‘n leierskapstryd word rondom Julius Malema se skynbare onaantasbaarheid gemaak. Een hiervan is dat Zuma, met die inkorting van adjunk-pres. Mothlanthe se statuur wat nie net van instaan-president afgegradeer is nie, maar ook nie toegelaat word om in Zuma se skadu weer statuur op te bou nie, ‘n plaasvervangende olyftak na die Noord-Sotho’s moes uithang. Malema was ‘n voor die hand liggende keuse.
In die proses geld geen reël vir Malema nie. Terwyl Zuma nog slegs ANC-president was, is beide Zuma en Malema as sprekers na ‘n jeugdagviering van die staat na Botshabelo laat kom. Duisende mense van oor die Vrystaat is ook per bus, en op staatskoste, na dié funksie aangery waar Malema sy gewraakte: “Ons sal doodmaak vir Zuma”-woorde geuiter het.
Die DA het oor hierdie miskenning van die grens tussen politieke party en die staat by die Openbare Beskermer gaan kla.
Malema, steeds in geen amptelike staatspos nie, kry nou BBP-beskerming. Tussenin was daar nog die kwessie van sy beweerde spoedoortredings en voorspruitende gedrag wat skynbaar onverbiddelik in die doofpot gedruk is. Pres. Zuma het dit selfs wys geag om Malema tydens ‘n besoek aan Malema se geboortedorp as toekomstige president te salf.
Maar toe dit kom by die toestaan van tenders, is hy skielik weer ‘n gewone privaat burger wat vryelik om tenders aansoek kan doen.
Dit verbaas dus niemand dat gerugte dit nou wil hê, soos gisteraand op RSG se Kommentaar deur Max du Preez vermeld, die rondte doen dat Malema se kitsrykdom moontlik na Tokyo Sexwale en sy presidentsaspirasies herlei kan word nie.
Dat Malema se rykdom met Tokyo se aspirasies verband hou, bevat egter net soveel waarskynlikheide as onwaarskynlikhede, en is die stamverband van ‘n Mthethwa-opmerking dat Malema ‘n juweel is, meer beduidend.
