Malema sê joernalis het sy handtekening vervals

Die omstrede ANC-jeugleier, Julius Malema, het Sondag gesê ‘n joernalis het sy handtekening vervals met die doel om hom wat Malema is, in ‘n slegte lig te plaas.  

“Ons sal nie vernietig word deur die koerante nie. Hulle gebruik net my naam om koerante te verkoop. Die joernalis het my handtekening vervals om my sleg te laat lyk,” het Malema in Wema, Durban gesê. 

Die City Press het berig dat Malema die afgelope week vir die media gelieg toe hy op ’n mediakonferensie gesê het hy het geen aandele in ’n maatskappy met winsgewende staatstenders in Limpopo nie.

Volgens die koerant het Malema ook gelieg toe hy ontken het dat hy dokumente onderteken het om ’n bestuurslid van SGL Engineering Projects te word. Hy was glo in Mei verlede jaar nog direkteur van SGL.

Registrasiedokumentasie toon dat Malema 70% van SGL besit.

Volgens Malema is hierdie tipe beriggewing glo daarop gerig om die ANC-jeugliga te vernietig.

“As ek iets verkeerd gedoen het kan president Jacob Zuma se regering my in hegtenis neem. As ek iets verkeerd gedoen het, moet ek vervolg word,” het Malema gesê.

“Die jeugliga sal nooit vernietig word nie. Ons steel nie van arm mense nie want ons is kinders van daardie wat gesukkel het tydens apartheid.”

Malema het nie gesê of hy ‘n saak teen die joernalis aanhangig sal maak nie.

архитектурное и ландшафтное освещениелобановский депутат