Malema vra polisieondersoek oor viktimisasie

Die uitgesproke leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, het die polisie gevra om ‘n lys mense te ondersoek wat glo ondersteuners van pres. Jacob Zuma teiken, het hy Dinsdag aan die radiostasie SAFM gesê.

Hy het gesê hy gee nie om as die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ‘n oudit van sy geldsake doen nie, maar slegs as die ondersoek nie deur ‘n politieke agenda aangevuur word nie.

Malema het gesê as SAID gebruik word om die politieke belange van Cope, die OD en die DA te bevorder, is daar ‘n probleem.

“Ek sê so omdat ek ‘n lys name het en dit gaan bekend maak. Ons het dit nounet na die polisie geneem sodat hulle dit kan nagaan.

Die lys van mense wat geteiken moet word, word die “Zuma-mense” genoem, het hy gesê

Volgens Malema kom dié dokument van intelligensiepersoneel af.

SAFM het ‘n onderhoud met Malema gevoer ná berigte dat hy die direkteur van verskeie maatskappye is wat tenders van meer as R100 miljoen toegeken is.

Malema sê hy is nie meer ‘n direkteur van die maatskappye nie.

Die jeugligaleier beweer hy het sy prokureur ‘n geruime tyd gelede in kennis gestel dat hy as direkteur van die betrokke maatskappye wil bedank.

Sy naam is egter steeds op die gesaghebbende webwerf sacompany.co.za as direkteur van die ondernemings gelys.

Ná konsultasie met sy prokureur, sê Malema, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die registrasiekantoor vir maatskappye en intellektuele eiendom moontlik nie die instruksies finaliseer nie.

Bevestiging van die polisieondersoek was nie onmiddellik beskikbaar nie.

Шапки ЗимаОлександр Васильович Фільчаков

Maak 'n opvolg-bydrae