Toe dit aan die einde van verlede jaar bekend word dat pres. Jacob Zuma sy poligame huwelik verder gaan uitbrei, het die leier van ‘n klein party, die Christen-Demokratiese Party, dit as ‘n reuse stap terug na die donker eeue beskryf. Dit het blitssnel oor die wêreld mediadekking gekry. Hoewel dié leier dit duidelik gemaak het dit is nie ‘n aanval op die Zoeloe-kultuur en selfs die praktyk, wat wettig is nie, maar dat die president hom hierin begeef en terselfdertyd opgee dat hy ‘n Christen is. Hy is selfs ‘n ere-pastoor.
Die kritiek op die CDP-leier – ook uit intellektuele Zoeloekringe was egter asof die partyleier, ‘n dominee, ‘n aanval op die Zoeloekultuur gedoen het.
Kort hierna blyk dit egter die president het by nog ‘n vrou nog ‘n buite-egtelike kind verwek, en dieselfde partyleier beskryf toe Zuma as ‘n Bill Clinton, Tiger Woods en Henry die 8ste in een. Hierdie opmerking het blitssnel wêreldwyd versprei, en is in groot koerante oorsee opgeneem. Dié keer het niemand die partyleier tereggewys nie, nie eens deur sy woorde soos die vorige keer verdraai nie.
Die verskil in reaksie op die betrokke partyleier se opmerkings het met ‘n grootskaalse ontgogeling in pres. Zuma as president en as mens gepaard gegaan. Sedertdien kon die president min doen wat nie die teiken van uiterste kritiek geword het nie, soos sy staatsrede wat wyd as die swakste staatsrede ooit beskryf is. Brouwerk is met nog lomper lapwerk bedek.
Dat Zuma die hofnar, Julius Malema, as kroonprins gesalf het en dié ewe-eens by die dag in omstrede statuur groei, help ook nie veel om Zuma se beeld gepoets te kry nie. Selfs die Orde van die Bad wat die Britse koningin aan Zuma toegeken het, leen hom tot draakstekery in die vorm van die Orde van die Stort.
Die komende Fifa-toernooi verseker boonop dat die oë van die wêreld nou al hoe meer, en reeds tot groot skade van die land, op Suid-Afrika gefokus is. ‘n Blapsende president met ewe blapsende ministers is die laaste ding wat die land nou nodig het.
Vir baie trotse Suid-Afrikaners het Zuma nou ‘n nagmerrie geword waaruit die land enige oomblik wakker moet kan word. In verskeie koerante is die spoedige einde van Zuma se presidensie op die wenslysie geplaas en naarstigtelik word na tekens van verset, magstryde in die ANC-alliansie en ander tekens gesoek wat daarop sou dui dat Zuma se politieke lewe aan ‘n draadjie hang.
Die jongste debakel oor die verklaring van belange is nog so ‘n voorbeeld. Voorspelbaar was die reaksie van die presidensie weer uiters lomp. Die skuld word op onduidelikhede in die vertaling van die grondwet hieroor gegee. Die grondwet meld egter dat die Engelse teks die teks is wat by uitleg gebruik moet word, en dié teks laat geen ruimte vir onduidelikheid nie. Artikel 96 van die grondwet bevat onder meer hierdie bepalings: “Members of the Cabinet… must act in accordance with a code of ethics…
…may not undertake any other paid work … act in any way inconsistent with their office …or expose themselves to any situation involving the risk of a conflict of interest.”
Vanselfsprekend vereis die grondwet dat die president die grondwet moet eerbiedig en beskerm (Art 83).
Die vreemdhede versprei egter steeds soos masels. Pas het dit aan die lig gekom dat die minister van landbou nie Agri SA se veiligheidskonferensie kon bywoon nie, omdat Zuma haar juis toe na ‘n VN-konferensie oor vroueregte gestuur het. Dit is egter onverskoonbaar in die lig daarvan dat Zuma self ‘n nuwe ministerie, dié vir vroue, die jeug en gestremdes, geskep het. Hierdie minister sou immers die aangewese minister wees om VN-konferensie by te woon, sodat die minister van landbou haar kon bepaal by ‘n knellende aspek binne haar eie ministerskap.
Of is oorsese reise dele van die ministers se byvoordele wat ongeag toepaslikheid geroteer word sodat almal ewe veel kanse vir ekskursies kry?
Indien Zuma as president wil aanbly, is minstens een ding baie duidelik; hy moet óf nuwe adviseurs kry, óf hy moet na sy adviseurs begin luister.
Vanoggend dring Volksblad in sy hoofartikel aan daarop dat die president nou moet end kry daarmee om Suid-Afrikaners se intelligensie te onderskat.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.