Gepak met kokaïne en met die naam “doodskiste”, vaar vaartbelynde semi-duikbote noord van Colombia deur Stille Oseaan waters om tonne onwettige dwelms te lewer wat bestem is vir die Amerikaanse markte.
Die semi-duikbote sny deur die water met pype en glasveselbedekte kajuite wat soms sigbaar is. Die vaartuie is die nuutste metode wat gebruik word deur dwelmkartels om te poog om ongesiens hulle dodelike vrag verby die owerhede te smokkel.
‘n Kaptein en drie of vier bemanningslede sit in die beknopte spasie van die vaartuie se rompe op hul vaarte van Colombia se Stille Oseaankus op tot by Sentraal-Amerika of Meksiko, het die kuswag gesê.
Daar is geen badkamer of kombuis aan boord nie, en die hitte kan versengend raak in die klein spasie wat die smokkelaars deel in die agterkant van die vaartuig, net ‘n paar voet weg van die kloppende dieselenjins.
“Hulle noem dit of die doodskis of die grafkelder,” het skoutadmiraal Joseph Nimmich gesê, wat in bevel is van die Amerikaanse kuswag se gesamentlike interagentskaptaakmag.
Die bedoeling is om so lae as moontlike profiel te verkry, en om dit so moeilik te maak as moontlik vir ons om hulle te vind.”
Die taakmag waarvan Nimmich in bevel is, is ‘n oorkoepelende groep wat die Amerikaanse weermag, die Dwelm Beheer Agentskap, FBI en CIA, insluit en fokus op die monitering en opspoor van dwelmhandel in die westelike halfrond.
Daar word geskat dat tussen 60 en 75 van die vaartuie, ook bekend as “narco-subs” wat in staat is om soveel as 8 ton dwelms te dra wanneer dit vol gelaai is, elke jaar gebou word in die woude in klandestiene skeepswerwe.
Dit maak die vloot groot genoeg om bykans die hele kokaïne produksie van Colombia uit te voer per jaar. Die produksie word geskat deur VN-monitors op omtrent 600 metrieke ton per jaar.
Nimmich het verlede week met Reuters gepraat in ‘n onderhoud by ‘n vlootdok in Key West, Florida, waar een van die vaartuie uitgestal word. Die vaartuig van omtrent 18 meter lank en 3,5 meter wyd is verlede September in die Stille oseaan gevang met sy bemanning van 4 en ‘n vrag van omtrent 7 ton kokaïne.
Die “doodskis”-bynaam vir die vaartuie het ontstaan uit die feit dat in die vroeë stadiums van ontwikkeling sommige van hulle katastrofiese strukturele foute gehad het.
Nimmich het gesê die bote, wat oorspronklik ontwerp is deur Russiese, Pakistani en Sri-Lankese ingenieurs, toenemend meer gesofistikeerd word in hulle seewaardigheid, aandrywingsisteme en ander eienskappe.
Die smokkelvaarte van Colombia na Meksiko of Guatemala, waar kokaïne afgelaai word om na Amerika geneem te word, kan op tot twee weke neem. Maar dit is slegs omdat die bote met hulle sterk enjins gedurende die dag stadig vaar sodat hulle sleepspoor nie maklik gesien word nie.
Een van die nuwe eienskappe van die vaartuig wat uitgestal word by die Key West Vloot se lugstasie is ‘n onderwaterverkoelde uitlaatsisteem, wat help om die boot, wat liggrys geverf is met blou spikkels, se hitte-uitstraling, wat raakgesien kan word met infrarooi radarsisteme, te verminder.
“Baie lae tegnologiese ontwerpe kan ‘n groot impak hê op ons sensorstelsels,” het Nimmich gesê.
Tot nou toe het dit voorgekom asof die vaartuie byna eksklusief gebruik is om kokaïne te vervoer vanaf die Stille Oseaankant van Colombia, het Nimmich gesê. Maar ten minste een, met ‘n baie groot vragruim en ‘n twee-enjin aandrywingsisteem is gevind op die oostelike kant van Colombia, by die Guajira-skiereiland, het hy bygevoeg.
Onlangse verslae van bou-aktiwiteit in die Karibiese streek is nog nie bevestig nie, het Nimmich bygevoeg. Hy het gesê dat intelligensie wat wys na konstruksie van ten minste een semi-duikboot, wat kokaïne moet vervoer na Europa vanuit die Amasonerivierkom nie bevestig kon word nie, maar dat dit nie ‘n verrassing sou wees nie.
“Ons dink dat daar ‘n uitbreiding van die tegnologie in ander sektore gaan wees,” het die admiraal gesê. Die potensiaal vir terroriste-aanvalle deur van sulke vaartuie gebruik te maak is een moontlikheid, het hy bygevoeg.
Sommige van sy kollegas het vrese uitgespreek dat dwelmsmokkelaars binnekort behoorlike duikbote kan bou wat in staat sal wees om diep te kan duik en vinniger te kan vaar as die huidige geslag vaartuie.
Nimmich het gesê sulke produksie sal waarskynlik nie vinnig wees nie, selfs al is ‘n volgrootte Russiesontwerpte duikboot, wat sowat 150 ton kokaïne kan dra en in staat is om tot redelike dieptes te kan duik, deur Colombiaanse polisie gevind in ‘n pakhuis in die land se hoofstad in 2000.
“Die tegnologiese vooruitgang wat nodig is om van semi-duikboot na duikboot te gaan is dramaties. Dit is nie maklik nie,” het Nimmich gesê.
In elke geval is die semi-duikbote dalk reeds goed genoeg om die verskerpte pogings teen vliegtuie en snelbote wat met kokaïne gelaai is, teen te werk.
Vir elke semi-duikboot wat gevang word – wat omtrent $500 000 kos om te bou en gesink word as hy sy finale bestemming bereik – het Nimmich gesê daar is vier ander wat straffeloos noordwaarts ploeg deur die see.
“Teen ‘n baie goeie tempo hierdie jaar sal ons omtrent net 20% suksesvol wees met die onderskep van semi-duikbote op die huidige stadium,” het hy gesê.