Die VN-sekretarisgeneraal Ban Ki-Moon het ‘n selfmoordbomaanval waarin 11 Afrika Unie vredesmaglede in Somalië dood is en 15 ander gewond is “ten sterkste veroordeel”, het sy perskantoor Maandag gesê.
“Daar kan geen geldige regverdiging wees vir dié en ander onlangse aanvalle op AU-magte wat ontplooi is met die doel om te help om vrede en sekuriteit te bring onder die mense van Somalië nie,” het hy in ‘n verklaring gesê oor Sondag se aanval.
Ban het gesê die vredesmag sending se “volgehoue toewyding en opoffering moet gesteun word deur wyer ondersteuning van die internasionale gemeenskap sodat dit sy mandaat meer effektief kan uitvoer in baie moeilike omstandighede.”
11 Soldate van Burundi is dood en 15 gewond in die aanval op hulle kamp in Mogadisjoe, volgens ‘n verklaring wat Maandag uitgereik is deur die Burundiese weermag in Bujumbura.
Die aanval, die dodelikste sover teen die Afrika Unie Missie in Somalië (AMISOM) het die syfer op 20 te staan gebring van Au soldate wat dood is sedert die mag ontplooi is in Maart 2007, volgens statistiek van AFP.
AMISOM, wat bestaan uit 3400 soldate van Uganda en Burundi is onderbefonds, swak toegerus en minder as die helfte van die mag van 8000 wat oorspronklik beoog is vir die missie.
Sedert die vertrek van Ethiopiese soldate verlede maand, is dit die enigste buitelandse mag in Mogadisjoe, ‘n stad wat vernietig is deur oorlog en geweld.
Die onttrekking van die Etiopiërs uit Somalië verlede maand, was die hoof eis van Somalië se Islamitiese opposisie, maar ekstremistiese insurgente het belowe om aan te hou veg teen AMISOM.
Somalië, ‘n verarmde land in die horing van Afrika is ontwrig deur burgeroorlog sedert 1991.
