praag.co.za

Tale sterf al hoe vinniger

Die wêreld het Manx verloor op die eiland Man, Ubykh in Turkye en verlede jaar is Alaska se laaste persoon wat Eyak gepraat het, ook oorlede. Marie Smith Jones het die inheemse taal saam met haar na die graf geneem.

Van die 6 900 tale wat in die wêreld gepraat word, is sowat 2 500 bedreig, het die VN se kulturele agentskap UNESCO Donderdag gesê met die vrystelling van die jongste atlas van wêreldtale.

Dit verteenwoordig 'n veelvoudige toename sedert die atlas se verskyning in 2001 met 900 tale aangedui wat bedreig word met uitwissing.

Daar is 199 tale in die wêreld wat gepraat word deur minder as 'n dosyn mense, insluitend Kahraim, wat deur 6 mense in Oekraine gepraat word en Wichita, wat deur 10 mense gepraat word in die staat Oklahoma.

Die laaste vier mense wat Lengilu praat bevind hulle in Indonesië.

Vooruitsigte is effens beter vir 178 ander tale, wat gepraat word deur tussen 10 en 150 mense.

Meer as 200 tale het uitgesterf oor die laaste drie geslagte soos Ubykh, wat in 1992 verdwyn het toe Tefvic Esenc oorlede is, Aasax in Tanzanië wat verdwyn het in 1976 en Manx in 1974.

Indië is bo aan die lys van lande met die grootste hoeveelheid bedreigde tale, 196 in totaal, gevolg deur Amerika, wat die kans staan om 192 te verloor en Indonesië waar 147 tale bedreig is.

Australiese taalkundige, Christopher Moseley, wat die atlas se span van 25 kundiges gelei het, het opgemerk dat die lande met 'n ryk talediversiteit soos Indië en Amerika ook die grootste bedreiging ervaar van tale wat kan uitsterf.

Selfs Afrika, suid van die Sahara, se smeltpot waar sowat 2000 tale bestaan, sal na verwagting 10% van die tale verloor oor die volgende eeu, volgens UNESCO.

Op UNESCO se graderingskaal word 538 tale as kritiek beskou, 502 is ernstig bedreig, 632 is definitief bedreig en 607 is nie meer veilig nie.

Op 'n vroliker noot, het Papua-Nieu-Guinee, die land met 800 tale, die mees diverse land in die wêreld wat dit betref, net 88 dialekte wat bedreig is.

Sekere tale toon selfs tekens dat dit weer begin herleef, soos Cornish, 'n Keltiese taal wat in Cornwall in die suide van Engeland gepraat word en Sishee in Nieu-Kaledonië.

Regerings in Peru, Nieu-Seeland, Amerika en Meksiko was suksesvol in hulle pogings om inheemse tale te red voor dit uitgesterf het.

UNESCO se adjunkdirekteur, Francoise Riviere, het regerings se poging om talediversiteit te ondersteun geloof, maar bygevoeg dat "mense trots moet wees om hulle taal te praat" om te verseker dat dit sal gedy.
www slots gamesФільчаков прокурор

Comments

Leave a Reply