Trump vermorsel Jeb Bush met Bin Laden-onthulling

Die voormalige goewerneur van Florida, Jeb Bush, het Dinsdag vir oulaas tevergeefs probeer om die Republikeinse voorloper in die presidentsnominasiestryd, Donald Trump, in ’n regstreekse televisiedebat aan te vat, het Reuters berig.

Die meeste ander aanspraakmakers op die nominasie was egter katvoet vir die vurige miljardêr. Hul versigtigheid was ’n erkenning van Trump se vermoë om aanvalle te weerstaan en sy man te staan.

Verlede week het Trump skokgolwe deur die Republikeinse kamp gestuur met sy voorstel om alle Moslems te verbied om Amerika binne te kom.

Sy teenstanders het hom hieroor gepak, net om agter te kom baie Republikeine deel Trump se sentiment en sy gewildheid in meningsopnames het toegeneem.

Al was Bush genadeloos in sy aanslag op Trump, was dit waarskynlik te min te laat om sy sukkelende veldtog te red.

“Donald is goed met een-sin-aanhalings, maar hy is chaos as ’n kandidaat en sal ’n chaotiese president wees,” het die 62-jarige Bush gesê.

Trump (69) het teruggekap: “O ja, en jy is ’n sterk ou wat in die meningspeilings in gewildheid afneem.”

Trump het ook onthul dat die Bush-gesin toegesien het dat Osama bin Laden se hele familie uit die VSA gesmokkel word, direk na 9/11 toe alle lugverkeer gestrand was.

Dit het die FBI se ondersoek in die wiele gery omdat hulle nie sleutelgetuies kon ondervra oor die grootste terreuraanslag in die VSA nie.

Trump het ook gerugte dat hy as onafhanklike kandidaat sou staan indien hy nie die Republikeinse party se nominasie kry nie, die nek ingeslaan.

“Ek is totaal verbind tot die Republikeinse party en voel geëerd om die voorloper te wees,” het Trump gesê.

Trump en Carson voorlopers in Republikeinse debat

Aanspraakmakers in die Republikeinse party se nominasiestryd om presidentskandidaat het Dinsdag tydens die vierde verkiesingsdebat kleigetrap met nie een wat uit die bondel kon ontsnap nie.

Die debat is gekenmerk deur snydende aanmerkings oor immigrasie en nasionale veiligheid, maar minder persoonlike stekies.

Die afgetrede neurochirurg Ben Carson en die miljardêr Donald Trump is steeds die voorlopers in meningspeilings, ondanks die feit dat hulle nog geen politieke ampte beklee het nie.

Hul meer gevestigde politieke teenstanders het egter die leiding in die debat geneem en op onder meer ekonomiese beleid en die waarskynlike Demokratiese kandidaat, Hillary Clinton, gefokus.

Carly Fiorina, die voormalige hoof van Hewlett-Packard en die enigste vrou in die wedloop, het die skerpste kritiek teen die Demokratiese voorloper gelewer.

“’n Clinton-presidensie sal die karakter van die nasie aftakel. Hoekom? Omdat dit die Clinton-manier is: Sê wat jy ook al moet sê; lieg so lank as wat jy daarmee kan wegkom,” het Fiorina gesê.

Australië doen weg met ridderskappe

Premier Malcolm Turnbull het ‘n ongewilde besluit van sy voorganger om Australiese ridderskappe terug te bring, omgekeer.

Monargiste is bekommerd dat ander koninklike oorblyfsels ook gaan waai.

Brittanje se Prins Philip is verguis nadat hy ‘n inheemse Australiese boorling in 2002 gevra het: “Gooi julle nog spiese na mekaar?”

Dit was een van die redes waarom Australiërs die voormalige premier Tony Abbott se ridderskap aan Koningin Elizabeth se man gekritiseer het nadat Abbott die gebruik teruggebring het.

Die monarg moes die toekenning van die Orde van Australië aan haar eggenoot boonop self goedkeur.

Baie het gevoel dat Philip, wat reeds van medaljes oortrek is, nie die modelkandidaat is nie omdat hy ‘n bespotting maak van Abbott se eensydige 2014-besluit om ridders en dames ná drie dekade weer terug te bring.

Die Australiese Republikeinse wag tans vir die regte oomblik om terug in die kollig te tree.

“Dit is die eerste van ‘n reeks stappe,” sê joernalis Peter FitzSimons, verbonde aan die Australiese Uitsaaikorporasie.

Hy glo die Republikeinse beweging sal Australiërs aanstons vra of hulle ‘n Australiese staatshoof in plaas van ‘n Britse een wil hê en meen dit sal binne die volgende vyf jaar gebeur.

Die ongewilde Prins Charles en sy tweede vrou, Camilla, sal aanstaande week besoek bring aan Australië en Nieu-Seeland.

Charles is bekend as ‘n intellektuele onderpresteerder, een van die redes waarom die bejaarde ou koningin Elisabeth II nog klou aan die troon.

Vaalseun Bush ver agter in nominasiestryd

Jeb Bush het vasgeval in die Republikeinse nominasieproses nadat sy kandidatuur in die Amerikaanse presidentsverkiesing ‘n ernstige knou gekry het, het AFP berig.

Bush was aanvanklik vol vertroue dat dit ‘n maklike stryd sou wees.

Om die seun van een en die broer van nog ‘n oudpresident te wees, blyk nie genoeg van ‘n aanbeveling te wees om sy sukkelende veldtog te red nie.

Hy loop ver agter die voorloper het na berig word 40 persent van sy verkiesingsbegroting wat vir personeel bestem is, gesny en selfs sy reiskoste ingeperk.

Bush is nou een van die aanspraakmakers wat hulle in die middel van die bondel bevind.

In die begin van die veldtog het die voormalige goewerneur van Florida, wat met ‘n bruin vrou getroud is, groot geld van ondersteuners gekry.

Bush het egter ‘n knou gekry met die enorme steun wat die miljardêr en tans voorloper, Donald Trump, geniet.

In ‘n poging om hernude lewe in die veldtog van Bush te blaas, het drie geslagte van sy bekende familie in Houston, Texas saamgetrek om skenkers die versekering te gee dat ‘n derde Bush-president meer as net ‘n skrale moontlikheid is.

Oudpres. George H.W. Bush en George W. Bush, onderskeidelik Jeb se pa en broer, was byderhand om blad te skud en saam met ondersteuners met dik beursies vir foto’s te poseer terwyl die 2016-kandidaat sy bes gedoen het om gemotiveerd te lyk vir die stryd wat voorlê.

Ondersteuners sê hulle glo Bush kan nog ‘n haas uit ‘n hoed trek, maar die prentjie lyk donker.

Teen die middel van Julie was Bush die voorloper met twee keer soveel steun as Trump. Vandag is die prentjie aansienlik anders met Trump wat meer as drie keer soveel steun as Bush geniet.

Met net 7% steun, loop die vaal Bush ook agter die afgetrede swart neurochirurg, Ben Carson – wat soos Trump nog nooit ‘n openbare amp beklee het nie – en senatore Marco Rubio en Ted Cruz.

Self Bush-ondersteuners gee toe dat hierdie eerste rondtes van die presidentsveldtog aansienlik anders is as in vorige jare. Gevolglik word die Republikeine se veldtogte, insluitende dié van Bush, heroorweeg.

Trump, wat gestand doen aan sy reputasie van skerp politieke stekies, het met Bush gespot en gesê hy “ontmoet vir mamma en pappa” in Houston.

Bush het intussen sy moedeloosheid met die toedrag van sake in die wedloop uitgeblaker.

“Ek het regtig baie ‘cool’ dinge wat ek kan doen, eerder as om rond te sit en teneergedruk te wees, na mense te luister wat my slegsê en verplig te voel om hulle weer sleg te sê. Verkies vir Trump as dit is wat julle wil hê.”

Trump loop los voor in benoemingstryd

Die voorloper onder Republi­keinse aanspraakmakers op die party se nominasie as presidentskandidaat, Donald Trump, voormalige goewerneur Jeb Bush, en die oud-sakevrou Carly Fiorina en ander voornemende presidentskandidate het in Woensdag se TV-debat mekaar gekarnuffel.

Die debat, wat veronderstel was om die kandidate se mening oor belangrike standpunte uit te lig, is hoofsaaklik deur Trump oorheers. Die ander Republikeinse kandidate is in hoek en probeer naarstiglik keer dat Trump die presidentskandidaatskap inpalm.

Woensdag was die eerste keer dat die Republikeinse Party se enigste vroulike kandidaat, Fiorina, op die debatsverhoog was. Haar gewildheid is besig om toe te neem ondanks die feit dat Trump haar onlangs beledig het en gesê het niemand sal vir “daardie gesig” stem nie.

Sy het Trump daaroor aangevat, maar hy het net vorentoe geleun en vir haar gesê sy is ’n mooi vrou. Fiorina het daarna opgemerk dat Trump se maatskappy al vier keer om bankrot­skap aansoek gedoen het.

“Waarom moet ons jou vertrou?” het sy gevra. Fiorina het egter vergeet dat Trump besonder goed van al vier terugslae herstel het.

‘n Meningspeiling deur Reuters/Ipsos toon dat Trump weliswaar met 32%-steun steeds voorloop. Die afgetrede neurochirurg Ben Carson is tweede met 15% en Bush is derde met 9% van die steun.

Daar was altesaam 11 kandidate op die verhoog vir die debat wat in die Ronald Reagan Presidential Library in Simi Valley gehou is. Die ander wat aan die hoofdebat deelgeneem het, was Scott Walker, Ted Cruz, Marco Rubio, Mike Huckabee, John Kasich en Chris Christie.

Een van die kandidate wat aan die “undercard”-debat deelgeneem het vir kandidate wat nie so gewild is nie, het die Republikeinse dilemma jeens Trump perfek opgesom.

Trump beskik oor geloofwaardigheid onder kiesers, terwyl nie een van die ander kandidate dieselfde kan sê nie. Die res van die Republikeinse aanspraakmakers is deur invloedsmouse gekoop.

Intussen het Rabbi Dov Zackheim Trump in die Joodse media aangeval as ‘n “onverkiesbare” kandidaat. Die rabbi het gesê alhoewel Trump ‘n reputasie het as filo-Semities, behoort Jode nie vir hom te stem nie.

Zakheim het tydens die ampstermyn van president George W. Bush as ondersekretaris van Verdediging gedien tussen 2001-2004.

‘Hoeveel f—-n Jode dink dié mense is daar in die VSA?’

Die konserwatiewe ontleder Ann Coulter sê sy haat nie Jode nie, net die Republikeinse kandidate wat by hulle kruip.

Coulter, ‘n ondersteuner van die Republikeinse kandidaat Donald Trump, het tydens die laaste minute van CNN se marathondebat ergerlik gevra: “How many f—ing Jews do these people think there are in the United States?”

Die histeriese reaksie teen Coulter is begroet met talle wat hul goedkeuring gewys het met die hutstekenondersteuning #IStandWithAnn.

In ‘n onderhoud met The Daily Beast, het Coulter gesê die omstredenheid is weens ‘n misverstand.

Sy het nie bedoel om te sê dat die Jode invloed in die VSA monopoliseer nie. “Ek beskuldig die Republikeine wat dink die Jode het soveel mag. Hulle is die mense wat komieklik optree in hierdie drama waar Jode alles beheer,” sê Coulter.

Dit is nie die eerste herrie van sy soort nie. ‘n Republikein wat “fok” en “Jood” saam gebruik het, was die Staatsekretaris James Baker, in 1989.

Baker, wat onder Ronald Reagan gedien het, het oor die Jode wat konserwatiewe beleidsrigtings probeer saboteer, gesê: “Fok die Jode. Hulle stem in elk geval nie vir ons nie.”

Jay Michealson van die Daily Beast het aan Coulter gevra of haar kritiek teen Republikeinse kandidate wat behep is met Israel, nie nog steeds problematies is nie: “Dit is soos om te sê dat ‘n groep politici dink Jode het te veel mag?”

“Wel,” het Coulter geantwoord: “Hierdie episode gaan nie ‘n lang pad om dit te weerlê nie.”

Coulter het haar eie geskiedenis van opruiende opmerkings wat gerig is teen die Jode. Sy het by ‘n vroeëre geleentheid vir die Joodse onderhoudvoerder Donny Deutsch gesê dat die Jode hulself tot die Christendom behoort te bekeer, want “Jode moet verbeter word.”

Ongeveer 2% van die VSA se bevolking is Joods. In neo-konserwatiewe kringe het die meeste Jode hul Israeli-paspoorte behou.

Jeb Bush kla dat Hillary nie oorlogsugtig genoeg is nie

Die voormalige goewerneur van Florida, Jeb Bush, sê “hernude Amerikaanse leierskap” is in die Midde-Ooste nodig om die militante Islamitiese Staat-groep (ISIS) en ’n ideologie wat die “fokus van boosheid in die moderne wêreld is”, te verslaan.

“Die bedreiging van ’n globale jihad en ISIS in die besonder, vereis al die krag, eenheid en selfvertroue wat net Amerikaanse leierskap kan bied,” het Bush gesê. Hy het in Simi Valley, Kalifornië, opgetree.

“ISIS het gegroei terwyl Amerika belangstelling in die Midde-Ooste verloor het en die bedreiging geïgnoreer het. Waar was die minister van buitelandse sake, Clinton, toe dit gebeur het?” het Bush gevra.

Hy sê Clinton het “rondgestaan” toe die harde oorwinning deur Amerikaners en hul bondgenote “weggegooi” is. “In al haar rekordaantal buitelandse reise het sy presies een keer in Irak gestop.”

Amerikaanse troepe het Irak in Desember 2011 verlaat ingevolge ’n 2008 veiligheidsooreenkoms met oudpresident George W. Bush. Albei kante wou graag sien dat etlike duisende Amerikaanse troepe ná die sperdatum in Irak moes aanbly om ’n demper op spanning onder Islamitiese sektes te plaas.

Die Irakse regering het egter geweier dat Amerikaanse magte in die land aanbly nadat pres. Barack Obama se administrasie op “geregtelike immuniteit” aangedring het om die magte te beskerm.

Obama, wie se veldtog om die president­skap grootliks gevoer is op die beëindiging van die oorlog in Irak, het die geleentheid aangegryp om Amerikaanse magte aan Irak te onttrek.

“Dit was ’n geval van dodelike haas om te onttrek en om die tragiese gevolge iemand anders se probleem te maak,” het Bush gesê. “Om weg te vlug van gevaar is net so onwys as om in gevaar in te storm. Die koste is ewe groot,” het hy bygevoeg.

Republikeinse debat gee Trump hupstoot

Die Republikeinse party se voorloper in die presidentswedloop, Donald Trump, het Sondag geweier om verskoning te vra vir sy antwoorde aan ‘n aanvallende vroue-joernalis van Fox News.

Trump het later gesê hy het niks teen die verslaggeefster nie, maar dat sy tydens die Republikeinse debat onregverdige vrae aan hom gevra het.

Dit is duidelik dat die impak van Trump se jongste opmerkings sy verkiesingskanse ‘n hupstoot gegee het.

Voor Donderdag se debat het hy met 24 persent van die nasionale Republikeinse steun gespog, teenoor sy naaste teenstander, die oudgoewerneur van Florida Jeb Bush, se 13 persent.

Die voormalige goewerneur van Florida en George W Bush se broer, het na die sewende plek gedaal vanaf derde by Iowa se kiesers oor die afgelope maand, wat ‘n totale insinking verteenwoordig.

In die verlede het Trump se omstrede opmerkings oor onder meer ongewensde Meksikaanse immigrante, die oorlogrekord van die Republikein, John McCain, en die intelligensie van sy Republikeinse teenstanders, bygedra om sy gewildheid te laat toeneem.

Ontleders meen Trump hou ‘n groot gevaar in vir sy mededingers wat namens sekere belange optree en dat hulle sal moet begin vuilspeel om van hom ontslae te raak.

Een opsie is glo om sy gewildheid te laat piek lank voor die Republikeine se nominasiestryd beslis word en hom dan uitmekaar te trek in die media kort voor die verkiesing moet plaasvind.

Trump meer steun as volgende twee kandidate saam

Net dae voor die eerste Republikeinse presidensiële debat in Cleveland, Ohio, is kandidate en hul adviseurs raadop met Donald Trump. Die slimste strategie het nog nie gewerk om hul mededinger vas te vat nie.

Trump se verrassende uithouvermoë het selfs die mees gehardes in Washington sonder antwoorde gelaat.

Die grootste nuus is die toename in menings wat Trump in ‘n goeie lig beskou, met 52% wat gunstig reageer en slegs 35% wat ongunstig reageer.

Trump is gewild onder mans en vroue, jonk en oud, konserwatiewe Republikeine en liberale Republikeine, Tea Party Republikeine asook nie-Tea Party Republikeine.

Sy teenstanders in die media en in sy eie party het vroeër voortdurend sy hoë aantal ongunstige stemme uitgewys as ‘n teken dat sy potensiaal van ondersteuning te laag is vir hom om die Republikeinse nominasie wen.

Nadat hy egter die oorlogrekord van John McCain, die oorlogsugtige Arizonasenator wat meer as vyf jaar ‘n gevangene in Viëtnam was, verkleineer het, het sy veldtog spoed gekry.

Die miljardêr tel daagliks momentum op en nege ander Amerikaanse Republikeine wat hoop op die presidentskap, se kanse is besig om te taan.

Tien kandidate sal deelneem aan die Republikeine se eerste ­televisiedebat in Cleveland eerskomende Donderdag op Fox News. Die tien Republikeine het die hoogste persentasie steun in die vyf laaste peilings uit 16 kandidate behaal.

Trump sal na verwagting die debat van 90 minute oorheers met kaalkopwaarhede.

Volgens die jongste peilings bly Trump die voorloper met 26% van die steun onder Republikeinse kiesers, teenoor Scott Walker se 12% en Jeb Bush se 11%.

Walker en Bush saam het nie eens soveel steun soos Trump nie. Trump se steun het sedert Julie verdubbel, terwyl Bush se steun afgeneem het.

Trump losvoor ten spyte van McCain-opmerkings

Die miljardêr Donald Trump, wat hom as presidentskandidaat vir die Republikeinse party in die 2016 Amerikaanse presidentsverkiesing beskikbaar gestel het, het byna twee keer die ondersteuning van sy naaste teenstander.

Alhoewel sy onlangse uitlatings hom die argwaan van baie van sy partygenote op die hals gehaal het, was Trump se kritiek teen John McCain baie gewild by kiesers.

Hy het onvriendelike uitlatings oor die 2008 Republikeinse presidentskandidaat, senator McCain, gemaak en aangevoer dat hy “net gepraat het en niks gedoen het” om die lot van militêre veterane te verbeter nie.

Hy het ook gesê hy het meer bewondering vir diegene wat dit regkry om nie as krysgevangene geneem te word nie.

McCain het meer as vyf jaar in ’n krygsgevangenekamp in Viëtnam deurgebring nadat sy vliegtuig afgeskiet is en hy is gemartel. McCain het ook geweier­ om vóór medekrygsgevangenes vry­gelaat te word.

Ondanks kritiek van mede-­Republikeine, is amptenare van die party bekommerd om kiesers te verloor wat aangetrokke is tot Trump se supersterstatus.

Meningspeilings van die wedloop om die party se nominasie toon dat Trump steeds boaan die lys van Republikeinse aanspraakmakers is.

Winkelgroep verbreek bande met Trump

Die winkelgroep, Macy’s het alle bande met Donald Trump verbreek, nadat hy uitgevaar het politieke korrektheid en onwettige immigrante wat dwelms, misdaad en verkragting na die VSA bring.

Trump se uitlatings word as ‘n klein bonus vir die Demokrate beskou wat meeding met die Republikeine om Latino-stemme te trek.

Ten spyte van die opskudding, het Trump se gewildheid in twee sleutelkieserstate, Iowa en New Hampshire, die hoogte ingeskiet.

Macy’s is die tweede maatskappy wat afstand doen van die televisiepersoonlikheid ná sy neerhalende opmerkings oor Meksikane.

Die winkel sal Trump se mansklerereeks uitfasseer, wat hemde, dasse, mansjetknope en pakke insluit.

Die reeks word al sedert 2004 by Macy’s verkoop, maar hulle sê hulle kan nie diskriminasie in enige vorm aanvaar nie.

Derde Bush vir die Withuis?

Die Withuis kan ‘n derde Bush dalk te wagte wees en ‘n tweede keer dat ‘n Bush ‘n Clinton die stryd aansê.

Jeb Bush, ­voormalige goewerneur van die deelstaat Florida, is een van die Republikeinse Party se ­sterkste kandidate in die aanloop tot ­volgende jaar se benoemingstryd vir 2017 se presidentsverkiesing.

Bush is die seun van oudpres. George H. Bush en die jonger broer van oudpres. George W. Bush.

Mitt Romney, die Republikeine se vorige presidentskandidaat in 2012, het Vrydag gesê dat hy nie vir 2017-verkiesings sal staan nie en aan Bush daarmee ‘n stewige hupstoot besorg.

Ná Romney se vroeë onttrekking is Bush se kanse om die Republikeinse voorloperkandidaat tot die benoemingstryd te wees, baie goed, het The Washington Post berig.

Bill Clinton het George H. Bush in die presidentstryd in 1992 verslaan.

Die jong Bush en Hillary ­Clinton sal volgende jaar weet hoe hulle in die Republikeinse en Demokratiese Party se benoemingstryde gevaar het.

Clinton het nog nie haar amptelike kandidatuur bekend gemaak nie. As sy deelneem, sal senator ­Elizabeth Warren van Massachusetts haar sterkste mededinger wees.

Die Republikeinse teenstanders is goeweneurs Scott Walker en Chris Christie en senators Marc Rubio, Ted Cruz en Rand Paul.

Gaan die Republikeine verder oorlog maak?

President Barack Obama se administrasie sal in sy laaste twee jaar ‘n opdraende stryd moet voer, nadat die opposisie – die Republikeine – beheer oor die Senaat in die middeltermynverkiesing gewen het.

Elke Senaatskomitee sal nou onder voorsitterskap van ‘n Republikein staan, alles van buitelandse beleid tot Hooggeregshofaanstellings.

Die Republikeine beheer die Huis van Verteenwoordigers sowel as die Senaat.

Die party het ses bykomende setels in die senaat benodig om ‘n meerderheid te behaal, en het daarin geslaag om sewe setels te verower.

Die toekoms wat die VSA se buitelandse beleid betref, is egter duister, aangesien gewone Amerikaners toenemend gekant is teen oorlog, maar weens drakoniese binnelandse wetgewing nie in opstand kom teen hulle heersers se konflikgedrewe uitbreidingsug nie.

Onder aanvoering van NAVO is Bulgarye, Estland, Letland, Litoue, Romenië, Slovakye, and Slovenië reeds onder die VSA se hak en is die Nuwe Koue Oorlog in die Oekraïne aangekondig.

Republikeine het sedert 1970 binnelandse veiligheid beklemtoon.

Vir byna al die afgelope 40 jaar, het stembusse getoon dat die Amerikaners die Republikeine met veiligheid, buitelandse sake en die weermag vertrou, maar met George Bush het dié ingesteldheid dalk verander.

Sedert 1972, was dit vir die Republikeinse Party maklik om kiesers te vertel dat hulle militêre uitgawes beheer.

Dit was verreweg hul topbestedingsprioriteit, terwyl Demokrate oënskynlik altyd veg teen armoede.

Gewapen met meerderheid in beide huise, kan ‘n Republikeinse Kongres President Obama egter in die verleentheid stel met veranderinge aan sy gesondheidsorgplan.

Die GOP kan ‘n 1996-Wet gebruik om feitlik enige regulasie te stop, ten minste totdat Obama sy veto uitoefen, wat die politieke gang in Washington kan vertraag.

Die president se immigrasieplanne is natuurlik ook van die baan met felle Republikeinse teenkanting en ‘n onmiddellike befondsingsmeganisme vir die Keystone-oliepyplyn kan so gou as Januarie gebeur.

Vir die militêr-industriële kompleks in Washington is dit die Pentagon wat hul winsgrense waarborg. Oorlogskoors uit daardie oorde sal dus nie gou taan nie. Dit het ook nie onder die Demokrate en ‘n swart president gewapen met ‘n Nobelvredesprys nie.

Washington se werklike teiken is Rusland wat oorloop van natuurlike energiehulpbronne. Dit sal interessant wees om te sien hoe die Republikeine dit gaan benader.

 

Republikeine sal waarkynlik die Senaat oorwen

Dit wil voorkom asof die Amerikaanse Demokratiese Party se doppie geklink is in die Senaat.

Meningspeilings dui daarop dat die Demokrate van president Barack Obama groot verliese kan lei in vandag se mediumtermynverkiesings.

Daar is ten minste ‘n sewe uit tien kans dat die Republikeine die ses setels sal inpalm om in die Senaat ‘n meerderheid te vorm, volgens die drie grootste verkiesingspeilings in die VSA.

Die Demokrate beheer tans die Senaat, terwyl die Republikeine die meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers het.

Indien die Republikeine so suksesvol is as wat voorlopige peilings aandui, sal Obama in sy laaste twee jaar as president ‘n vyandiggesinde Kongres moet trotseer.

Dit sal pogings om die sukkelende ekonomie te stimuleer en immigrasie hok te slaan, waarskynlik aanhelp.

Die Republikeine het veral Obama se ongewilde gesondheidsorg-hervormings as strydpunt in die verkiesingsveldtog gebruik.