Trump en Carson voorlopers in Republikeinse debat

Aanspraakmakers in die Republikeinse party se nominasiestryd om presidentskandidaat het Dinsdag tydens die vierde verkiesingsdebat kleigetrap met nie een wat uit die bondel kon ontsnap nie.

Die debat is gekenmerk deur snydende aanmerkings oor immigrasie en nasionale veiligheid, maar minder persoonlike stekies.

Die afgetrede neurochirurg Ben Carson en die miljardêr Donald Trump is steeds die voorlopers in meningspeilings, ondanks die feit dat hulle nog geen politieke ampte beklee het nie.

Hul meer gevestigde politieke teenstanders het egter die leiding in die debat geneem en op onder meer ekonomiese beleid en die waarskynlike Demokratiese kandidaat, Hillary Clinton, gefokus.

Carly Fiorina, die voormalige hoof van Hewlett-Packard en die enigste vrou in die wedloop, het die skerpste kritiek teen die Demokratiese voorloper gelewer.

“’n Clinton-presidensie sal die karakter van die nasie aftakel. Hoekom? Omdat dit die Clinton-manier is: Sê wat jy ook al moet sê; lieg so lank as wat jy daarmee kan wegkom,” het Fiorina gesê.