Hillary lyk gedaan, sukkel met bottel agurkies

Gerugte dat Hillary Clinton nie fisies geskik is vir die Withuis nie, wil nie gaan lê nie.

Maar die Demokratiese presidentskandidaat sê hierdie uitsprake kom van van die Republikeinse kandidaat, Donald Trump, en is deel van sy “mal strategie” en ‘n “alternatiewe realiteit”.

Clinton wil waarskynlik graag die aandag aflei van die nuus wat aanhoudend deursyfer oor kriminele bedrywighede rakende haar epos.

Trump het na die Clinton Foundation verwys in ‘n toespraak in Akron, Ohio, as ‘n “speel vir deel” toegangsroete vir buitelandse entiteite en regerings om invloed te koop in die VSA.

Hy het gesê haar optrede was krimineel en die gehoor het gedreunsing dat sy toegesluit moet word. Clinton verteenwoordig die korrupsie wat hoogty vier in Washington, waar invloed en besluite gekoop word, het hy gesê onder groot toejuiging.

Trump het ook verwys na haar Moslem-raadgewer, Huma Abedin, en haar ma wat ‘n fundementalistiese Moslem is. Albei dien op die redaksie van ‘n tydskrif wat fundementalisme bevorder.

Abedin se man, Anthony Weiner, ‘n ongeneeslike sekspes, het geen beheer oor homself nie, het Trump gesê. Hy het bygevoeg dat dié soort mens onder meer met staatsgeheime vertrou is.

Hillary, wat nie gesond lyk nie, het tydens ‘n opname van ABC se Jimmy Kimmel Live gesê. “Ek moet in ‘n alternatiewe realiteit instap en soos jy weet, vrae beantwoord of ek lewendig is en so aan.”

Clinton sê sy bevraagteken nie Trump se gesondheid nie en glo hy is “so gesond soos ‘n os.”

“Dit het een van hul temas geword,” sê sy. “Maak seker of ek lewendig is.”

Sy het daarna ‘n bottel agurkies met groot moeite oopgedraai – in haar “realiteit” – om te wys hoe gesond sy is. Maar die bottel was reeds vir haar oopgemaak want die kenmerkende geluid van die vakuum onder die deksel wat gebreek word, was hoorbaar afwesig.

Dit is die eerste keer dat Clinton teengekap het oor gerugte oor haar gesondheid, wat kommer wek onder haar eie ondersteuners.

Baie van die spekulasie spruit uit harsingskudding wat Clinton in Desember 2012 opgedoen het nadat sy flou geword het, ‘n episode wat haar dokter later aan ‘n maagvirus en ontwatering toegeskryf het, maar sy moes lank ‘n spesiale bril dra vir dubbelvisie na bloeding op die brein.

Dit word egter verswyg.

Dit is nou al byna ‘n jaar wat Clinton weier om enige mediakonferensies te hou.

NYT loods histeriese aanval teen Trump

Vyftig sogenaamde Republikeinse veiligheidskenners, insluitende ‘n voormalige direkteur van die Amerikaanse intelligensiediens (CIA), het Maandag die party se presidentskandidaat, Donald Trump, uitgekryt as ongekwalifiseerd om die land te lei en gesê hy sal die “mees roekelose president in Amerika se geskiedenis” wees.

Die verklaring is die jongste verwerping van Trump se kandidatuur deur veteraan Republikeinse veiligheidspesialiste en word deur die felheid van die taalgebruik gekenmerk.

“Mnr. Trump skiet te kort aan karakter, waardes en ondervinding om president te wees. Hy verswak Amerika se morele gesag om die leier van die vrye wêreld te wees. Hy beskik nie oor basiese kennis en geloof in die Amerikaanse grondwet, Amerikaanse wetgewing en Amerikaanse instansies, insluitende geloofsvryheid, mediavryheid en ’n onafhanklike regbank nie,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring sal nie een van die vyftig ondertekenaars vir Trump stem nie.

“Uit ’n buitelandse beleidperspektief, is Donald Trump nie bevoeg om president of opperbevelvoerder te wees nie.

Ons is inderdaad daarvan oortuig dat hy ’n gevaarlike president sal wees wat die land se nasionale veiligheid en welstand in gevaar sal stel,” lui die verklaring wat eerste in die New York Times gepubliseer is.

Trump het die koerant voorheen daarvan beskuldig dat hulle partydig is en nie belangstel daar in om objektief te wees nie. Hy het ook gesê hy vrees dat die verkiesing in November ‘n gekonkel gaan wees.

Intussen het Julian Assange op die Nederlandse televisieprogram Nieuwsuur gesuggereer dat Seth Rich (foto bo), ‘n Demokratiese medewerker die bron vir die Wikileaks-eposkraak was en nie die Russe nie.

Die Clinton-veldtogvoerders het Rusland die skuld gegee vir die vrystelling van gekraakte eposse wat aantoon hoe Clinton die Demokratiese verteenwoordigers manipuleer.

Rich is vermoor.

Obama en Hillary koer vir mekaar en ignoreer Islam

Pres. Barack Obama en Hillary Clinton, wat nooit veel van mekaar gehou het nie, het soos twee duifies vir mekaar gekoer by die Demokrate se benoemingsbyeenkoms.

Die soetsappige innigheid was so aangeplak, dat ‘n mens daaran kon verstik. Die kandidate het deur die hele byeenkoms nie een keer na radikale Islam verwys nie, die hoofitem van alle nuusberigte die afgelope twee weke.

Bywoning van die geleentheid was besonder swak, behalwe vir swart vroue. Terwyl Clinton die gehoor toegespreek het, was die meeste sitplekke leeg.

In wat waarskynlik sy laaste toespraak voor ‘n groot gehoor as president was, het Obama Hillary Clinton se lofprysinge besing.

Hy het onder meer probeer om Clinton op te hemel deur Donald Trump af te kraak en as die “plaaslike demagoog” te beskryf. Klaarblyklik kon hy nie veel oor Clinton self sê nie.

Obama het net gesê Hillary is by verre die “bekwaamste presidentskandidaat”, selfs meer as hy of rokjagter oudpres. Bill Clinton was.

Hy was Woensdagaand op die verhoog op die derde dag van die Demokrate se nasionale konvensie.

Slegs visepres. Joe Biden het ‘n emosionele betoog ten gunste van Clinton gelewer.

Intussen sê straatverkopers daar is min belangstelling in hulle knopiespelde en t-hemde van Hillary. Die Washington Post berig dat kopers liewer aandenkings van Bernie Sanders wou koop, maar nie van Hillary nie.

Die genomineerde visepresidentskandidaat, senator Tim Kaine van Virginia, is ook by die geleentheid voorgestel.

Almal het Trump aangeval wat Rusland aangemoedig het om Hillary Clinton se verlore 30 000 eposse te help soek.

“Gaan soek vir ons daardie 30 000 e-posse van Clinton,” het Trump gesê. Hillary en haar span gooi wal oor haar gebruik van ‘n privaatbediener waarmee sy klaarblyklik geklassifiseerde inligting rondgestuur het.

Die Demokrate beweer Rusland het haar bediener gekraak, maar die eposse is deur die Clintons self verwyder.

Trump het gesê pres. Wladimir Poetin van Rusland sal nie Amerikaners soos Hillary respekteer nie.

In ‘n desperate verklaring het Clinton se beeldpoetsers gesê ‘n “presidentskandidaat moedig ‘n ander land aan om op ‘n Amerikaanse teenstander te spioeneer”

Mike Pence, Trump se visepresidentkandidaat het gesê indien Rusland met die Amerikaanse verkiesing begin inmeng, daar sal ernstige gevolge wees.

“Sou dit gebeur, sal albei partye in Amerika seker maak die gevolge is ernstig,” het Pence in ‘n verklaring gesê.

Bernie kom tot Hillary se redding, maar Ginsburg nie

Bernie Sanders het sy steun aan sy Demokratiese opponent, Hillary Clinton, toegesê in die hoop dat hy energie kan verleen aan die veldtog teen die Republikeine se Donald Trump.

Hillary se blatante leuens oor die gebruik van ‘n privaat eposbediener is kort voor die onlangse swart onrus deur die FBI ontbloot.

In ‘n vorige stryd het Clinton enkele dae ná die voorverkiesings in 2008 haar steun aan Obama as kandidaat toegesê. In teenstelling hiermee het Sanders byna ‘n maand gewag vir die stof om te gaan lê.

Sanders en Clinton was Dinsdag vir die eerste keer terug in New Hampshire nadat hy haar in ‘n sterk vertoning met 22 punte in die voorverkiesing verslaan het.

Die hoop is dat die geleentheid in Portsmouth ‘n verenigde Demokratiese front sal stel, ná ‘n verdelende veldtog tussen Clinton en Sanders om die Demokrate se nominasie van ’n presidentskandidaat.

Die Republikeine sal volgende week amptelik vir Trump as hulle kandidaat by die nasionale konvensie in Cleveland nomineer.

Clinton het reeds saam met pres. Barack Obama en Massachusetts se senator Elizabeth Warren Demokrate gewaarsku oor die “gevaar” van ‘n Trump-presidensie.

Intussen het ‘n Amerikaanse Appèlhofregter, Ruth Bader Ginsburg (foto hierbo) ook uitgevaar teen Trump en gesê sy sal die land verlaat as hy wen.

Dié poging om Hillary se veldtog ‘n hupstoot te gee, was ‘n monumentale fout aangesien dit die onpartydigheid van die Amerikaanse regbank nou in gedrang gebring het.

“Dit was ‘n merkwaardige onnosel en misplaasde kommentaar vir ‘n Appèlhofregter om op die rekord te plaas,” het die Washington Post na haar uitbarsting gereageer.

Regters mag nie kant kies in ‘n presidensiële veldtog nie, onder meer omdat Ginsburg se openlike vyandigheid haar sal dwing om haarself te onttrek van enige sake waar Trump ter sprake is.

Clinton het verlede week planne bekend gemaak om kolleges en universiteite meer bekostigbaar vir studente te maak en om gesondheidsorg uit te brei.

Goedkoper studie was een van die redes waarom jonger Amerikaners vir Bernie gestem het.

Onlangse meningspeilings dui daarop dat baie van Sanders se ondersteuners beplan om vir Clinton te stem, maar dat hulle haar eerlikheid in twyfel trek.

Intussen word berig dat die dood van die vyf wit polisiebeamptes in Dallas die Demokratiese presidentskandidaat, Hillary Clinton se taak aansienlik bemoeilik.

Hillary het probeer om wit kiesers te paai oor maatskaplike onrus, terwyl sy swart aktiviste teen wit polisiegeweld probeer aanhits het.

Sy het wit kiesers se begrip gevra vir die swart “babas” wat deur die polisie gedood word, alhoewel nie een swart baba deur ‘n wetstoepasser geskiet is nie. Die swartes wat doodgeskiet is, was almal geharde kriminele.

Clinton kan nie bekostig om die swart kiesers te vervreem voor die verkiesing in November deur sterk standpunt in te neem teen die onlangse oproer in Louisiana en Minnesota waar honderde mense in hegtenis geneem is nie.

Maar sy kan ook nie bekostig dat gematigde kiesers na Donald Trump oorloop na al die anti-wit geweld regstreeks op televisie gebeeldsend is nie.

Dit, sowel as haar oneerlikheid, kan haar die verkiesing kos.

Ryk Hillary kry Donald nie afgeskud nie

Luidens ‘n nuwe verslag wat deur die Amerikaanse Federale Verkiesingskommissie bekendgemaak is, het Hillary byna 10 meer hulpbronne om die presidentsverkiesing aan te pak.

Die kommissie toon aan dat die Demokratiese party se waarskynlike presidentskandidaat Clinton, bykans nege keer meer geld en tien keer meer personeel beskikbaar het vir haar verkiesingsveldtog as haar Republikeinse teenstander, Donald Trump.

Die Trump-veldtog het na bewering aan die einde van Mei net meer as drie miljoen dollar in die bank gehad teenoor Clinton se 26 miljoen dollar.

Trump, wat ‘n sakeman is, het vir ‘n geruime tyd sy eie veldtog gefinansier.

Bernie Sanders, wat die knie moes buig voor Clinton, het $9 miljoen in die bank oor.

Trump het tans minder geld as die veldtogte van Ted Cruz en Ben Carson, wat albei in die vorige maande uit die wedloop moes tree.

Ten spyte van dié geweldige voorsprong kan Clinton dit skynbaar nie regkry om Trump af te skud nie.

Clinton is effens voor Trump in Florida met 8 persentasiepunte, maar die twee is feitlik kop-aan-kop in Pennsylvania en in Ohio, volgens ‘n Quinnipiac-meningspeiling wat Dinsdag vrygestel is.

Clinton is voor Trump met 47% teen 39% in Florida, terwyl albei 40 persent stemme in Ohio trek en sy ‘n klein voorsprong van 42-41 persent in Pennsylvania kon behaal.

Die peiling fokus op die drie belangrikste slagveldstate, omdat geen kandidaat sedert 1960 die presidensiële wedloop gewen het sonder om ten minste twee van die drie deelstate in te palm nie.

Trump en Bernie Sanders pla Hillary

Bernie Sanders het Dinsdagaand Oregon ingepalm nadat hy ‘n laataanslag deur Hillary Clinton afgeweer het.

Die Amerikaanse deelstaat Kentucky se voorverkiesingstryd is naelskraap deur Clinton gewen.

Donald Trump het Clinton gespot omdat sy so gesukkel het om Kentucky te wen.

“Dink jy die kroek Hillary sal uiteindelik die transaksie sluit?” het Trump getwiet. “As sy Kentucky nie kan wen nie, moet sy uit wedloop val. Die sisteem is skeef!”

Sanders se oorwinning het die broodnodige momentum aan sy veldtog verskaf, wat dalk kan lei tot vuurwerke by die Demokratiese Konvensie as ‘n presidentskandidaat aangewys word.

Donald Trump en Hillary Clinton is voorheen as voorlopers in die wedloop na die Withuis beskou.

Die Reuters-Ipsos-peiling onder waarskynlike kiesers landwyd in die VSA, toon dat die presidentsverkiesing op naelbyttryd tussen dié twee kan afstuur.

In die volgende ses maande vóór die verkiesing op 8 November kan verrassings oplewer, maar dat Clinton sal sukkel teen Trump, is reeds duidelik.

Trump se gewildheid het verder die hoogte ingeskiet nadat hy die stryd om as die Republikeinse Party se kandidaat aangewys te word, gewen het.

Ted Cruz en John Kasich moes die handdoek ingooi en aan die wedloop onttrek.

Die peiling wys dat 41% van die waarskynlike kiesers Clinton in hierdie stadium ondersteun en 40% vir Trump, met 19% wat besluiteloos is. Die peiling is oor ’n tydperk van vyf dae onder 1 289 mense gedoen.

Die Washington Post berig dat Trump met Henry Kissinger ontmoet het om oor buitelandse beleid te gesels.

Sanders het gesê hy wil niks met Kissinger te make hê nie en opgemerk dat Kissinger het die weg gebaan vir een van die ergste gevalle van volksmoord in die moderne geskiedenis

Volgens Sanders was Kissinger verantwoordelik vir die massiewe bombardement van Kambodja en die daaropvolgende grondinval, wat kommunistiese Chinese gerugsteun het om die Khmer Rouge aan bewind te kry.

Trump looi globaliste oor oorlog en chaos

Die voorloper in die stryd om die benoeming as Republikeinse presidentkandidaat in die VSA, Donald Trump het ‘n striemende aanval op globalisme gedoen.

As die tema bekend was, was Trump se ernstige toon nie. Hy het staatgemaak op ‘n teleleser in plaas van om uit die vuis te praat soos gewoonlik.

“Ons sal nie meer hierdie land of sy mense oorgee aan die valse lied van globalisme nie. . . Ek is skepties oor internasionale verbonde wat ons inbind en aftrek in Amerika. En onder my administrasie, sal Amerika nooit enige ooreenkoms aangaan wat ons vermoë om ons eie sake te beheer, verminder nie,” het hy gesê, met verwysing na die NAFTA-ooreenkoms .

Trump het elke leier na Ronald Reagan blameer – wat dié Republikeinse George W. Bush insluit – omdat hulle almal “die pad heeltemal byster geraak het”.

In die komende konfrontasie met Clinton – wat meer aggressief as Obama is – het Trump probeer om homself uit te beeld as ‘n gedissiplineerde leier wat Amerikaanse belange voorop stel.

Hy het die Clinton-Obama-span gelooi oor die chaos wat hul inmenging in die buiteland veroorsaak het, met verwysing na die omverwerping van president Hosni Mubarak in Egipte, die ingryping in Libië en militêre optrede in Sirië.

Hy Clinton skerp gekritiseer vir haar hantering van die dodelike aanvalle op die VSA in Benghazi.

Trump het ook die president se hantering van buitelandse sake as roekeloos en ‘n totale ramp beskryf.

Hy sê Amerika se bondgenote betaal nie ‘n regverdige deel van die sekuriteitsrekening nie, en dat enige land wat deur Amerika verdedig word, sal moet begin opdok.

Hy het Obama ook gekritiseer omdat hy, soos Trump dit stel, Amerika se goeie vriend, Israel afjak en Iran te goedgesind is.

Iran se Opperleier, die Ayatollah Ali Khamenei sê egter Obama probeer sakelui afskrik om in Tehran te belê en ‘n ondermyn ‘n ooreenkoms om internasionale sanksies op te hef.

Khamenei se kommentaar kom kort voor die tweede ronde van Iran se parlementêre verkiesings.

Trump het ook weer sy kommer oor die verspreiding van radikale Islam uitgespreek, en gesê dat die land ‘n langtermynplan in die opsig benodig.

Clinton uitgevang dat sy lieg oor Benghazi

Die konserwatiewe groep Judicial Watch het dokumente vrygestel wat verband hou met die aanval in Benghazi op 11 September 2012, waartydens ‘n Amerikaanse ambassadeur en ‘n paar CIA-grootkoppe vermoor is.

Die dokumente bewys dat die Obama-administrasie en in besonder Hillary Clinton geweet dat die aanval in Benghazi deel was van ‘n Al-Qaeda-operasie.

Clinton en die Obama-administrasie het in die openbaar beweer die aanval was in reaksie op ‘n anti-Moslem film wat op die Internet versprei is.

Judicial Watch het telefoontranskripsies van die aand van 11 September 2012 vrygestel waarin die destydse minister van buitelandse sake Hillary Clinton die destydse Egiptiese premier Hisham Kandil vertel die terreuraanval “het niks te doen met die film nie”.

Clinton het ook haar dogter ingelig per e-pos dat die aanval deur ‘n “Al-Qaeda-agtige groep” uitgevoer is.

Die Amerikaanse administrasie kon dit nie erken nie, aangesien hulle besig was om die terreurgroep te befonds om ‘n staatsgreep in Sirië te gaan uitvoer.

Net ure voordat die ambassadeur vermoor is, het hy gesprekke met ‘n Turkse verteenwoordiger gehad wat die Siriese operasie sou bestuur. Clinton kon nie bekostig dat dit op die lappe kom nie.

Clinton en Demokrate kry min belangstelling

Hillary Clinton en ander Demokratiese aanspraakmakers op die party se nominasie as presidentskandidaat, het Donald Trump as politieke strooipop gebruik toe hulle Saterdagaand aan die party se debat deelgeneem het.

Die debat het op ’n Saterdagaand ­plaasgevind midde die hoogtepunt van die stormloop vir Kersinkopies en op die eerste naweek sedert die ­bekendstelling van die nuwe Star Wars-fliek, wat ­meegebring het dat nog minder mense ingeskakel het om na die ­regstreekse uitsending te kyk.

Die Demokrate het soos regte verloorders die Republikeinse voorloper se anti-Moslem-retoriek ook ingespan vir hul eie stemvee.

Die voormalige minister van ­buitelandse sake, Clinton, senator Bernie Sanders en die ­oudgoewerneur van Maryland, Martin O’Malley, het klem gelê op die noodsaaklikheid om nasionale veiligheid te verbeter, minimum lone te verhoog en die regte van vroue, minderhede en ­minderbevoorregtes te beskerm toe hulle mekaar in New Hampshire die stryd aangesê het.

Clinton het nie om verskoning gevra vir die vele leuens wat sy herhaaldelik opdis nie, maar wel dat sy ‘n lewendige televisie-uitsending moes laat wag omdat sy in ‘n tou moes wag by die dames-geriewe tydens pouse.

Die debatsorganiseerders het toegelaat dat die uitsending sonder haar voortgaan.

Harde woorde het geval oor die ekonomie, vuurwapens, hoe om die terreurbedreiging die hoof te bied en die rol van Amerika in die buiteland.

Met net meer as ses weke voordat die eerste stemme uitgebring sal word in die nominasiewedloop wat op 1 Februarie in Iowa begin, is Sanders en O’Malley besig om stoom te verloor in ’n poging om die momentum van die voormalige eerste dame en minister van ­buitelandse sake te stuit.

Hillary is 25 punte voor haar naaste teenstander, Sanders, in ­nasionale ­meningspeilings, ten spyte van haar versinsels oor geklassifiseerde eposse wat sy rondgestuur het. O’Malley is ver agter in die meningsopnames.

Dit was die Demokrate se derde debat, die laaste van 2015 en hul eerste sedert die dodelike aanvalle in San ­Bernardino, Kalifornië, waar ’n radikale Moslemegpaar 14 mense doodgeskiet het.

Die kandidate het beurte gemaak om Trump aan te val en as slaansak te gebruik om te moraliseer oor sy gewilde uitlatings oor immigrante en sy onlangse beroep om Moslems te verbied om Amerika binne te kom.

Amerikaners, het Clinton gesê, “moet seker maak die werklik ­diskriminerende boodskappe wat Trump die wêreld instuur, val nie op ontvanklike ore nie”.

“Hy is besig om die ­Islamitiese ­Staat-groep se beste werwer te word,” het sy bygevoeg. Sy beweer die­ ­jihadiste vertoon Trump se video’s waar hy Moslems en Islam beledig ten einde meer radikale jihadiste te werf.

Trump het in reaksie gesê: “Niemand is in staat om bewyse te gee [van sulke werwing] nie. Dit is nonsens. Net nog ‘n Hillary-leuen. Dis gek hoe sy lieg oor alles. Of dit nou reise is waar sy amper doodgeskiet word in ‘n helikopter of ‘n vliegtuig, sy is ‘n leuenaar en almal weet dit. Sy maak sommer net dinge op.”

Hillary is verantwoordelik vir die dood van senoir Amerikaanse diplomate in Benghazi, Libië wat met hul wapensmokkelary aan terroriste in ‘n lokval gelei is. Sy het ook gelieg dat terroriste op haar helikopter geskiet het.

Hy het bygevoeg dat haar optrede tot verskriklike geweld en dood in die Midde-Ooste gelei het. Oral waar sy aangedoen het, het geweld losgebars en honderde duisende mense moes met hul lewens boet vir haar foute.

O’Malley het ook op die wa probeer klim en gewaarsku teen die “politieke gevaar” wat Trump inhou. Amerika sal volgens hom opstaan teen die uitdaging van ISIS-­ekstremiste, maar nie onder die invloed van “­fascistiese oproepe van miljardêrs met groot monde” nie.

Clinton het die aand afgesluit met ‘n patetiese kniebuiging na die fliek want tans in teaters draai: “Dankie, goeie nag en ‘may the Force be with you’.”

‘Red Haïti’ sê Clinton

Die voormalige Amerikaanse president, Bill Clinton, het korporatiewe sakeleiers by die Wêreldekonomiese Forum aangemoedig om die ramp in Haïti te gebruik as ‘n geleentheid om die rampgeteisterde Karibiese eilandbevolking van geslagtelange armoede te red.

“Hulle moet gehelp word deur hierdie vreeslike ramp,” het Clinton in sy toespraak gesê.

Die VSA vrees ‘n toestroming van swart vlugtelinge ná die aardbewing die eiland in puin gelê het.

Dit volg nadat reddingswerkers Woensdag ‘n 16-jarige meisie, Darlene Etienne, na 15 dae onder die puin uitgehaal het.

Volgens dokters is sy stabiel, maar ongelooflik gedehidreer, aan boord ‘n Franse hospitaalskip.

“Ek kan dit nie medies verduidelik nie, maar sy het vanoggend vir my gesê dat sy niks geëet of gedrink het nie,” het Evelyne Lambert, die hoof-dokter aan boord die Siroco, gesê.

Bure het Woensdag haar noodroep gehoor en reddingswerkers na die toneel ontbied.

Dokters was bekommerd dat haar hart sal gaan staan omdat sy so swak was. Sy is sover die persoon wat die langste vasgekeer was na die aardbewing en dit oorleef het.

Internasionale fondse wat vir Haïti ingesamel is het Donderdag die $2 miljoen-perk  bereik, het die Verenigde Nasies verklaar, maar ‘n groot taak lê egter voor om die land weer op die pad van herstel te plaas.

саун иФильчаков прокуратура харьков