Baie mense het nou al voorspel dat sekulêre Frankryk die eerste Moslemland in Wes-Europa gaan word. Met sy groot en toenemend veeleisende Noord- en Wes-Afrikaanse immigrantebevolking wat tussen 10 en 15 miljoen gestel kan word, wil dit voorkom asof ʼn laeintensiteitsoorlog tussen gewapende jong mans en die Franse owerhede reeds uitgebreek het.
Vandeesweek het die Paryse voorstad Villiers-le-Bel die jongste in ʼn reeks van sogenaamde banlieues geword wat in geweld uitgebars het na ʼn padongeluk waarin twee Noord-Afrikaanse jeugdiges omgekom het. Sowel openbare as private geboue is afgebrand en daar is op die polisie geskiet met jag- en haelgewere. ʼn Primitiewe ploftoestel wat uit ʼn gassilinder met spykers daaraan vasgeplak bestaan, is insgelyks in ʼn asblik ontdek.
Sedert 2005 toe die eerste ernstige onluste deur immigrante uitgebreek het, is ʼn verbysterende aantal motors vernietig. In 2005 is 45 588 motors deur brandstigters uit die banlieues aan die brand gesteek, terwyl die syfer in 2006 effens gedaal het tot 44 157. Syfers vir 2007 is nog nie bekend nie, maar vandeesweek se onluste het sekerlik beduidend daartoe bygedra.
Afgesien van motors, het groepe immigrantejeugdiges ook skole, ʼn biblioteek en privaatondernemings soos ʼn motorhandelaar aan die brand gesteek. Miskien die onheilspellendste aspek van die onlangse geweld in Frankryk is egter deur die polisie in ʼn verklaring uitgewys: “Die onlusmakers het materiële ten gunste van menslike teikens versaak.” Sowel die polisie as die brandweer is vir aanvalle uitgesonder, met meer as 100 polisiemanne wat slegs tydens die twee nagte van onluste in Villiers-le-Bel gewond is.
ʼn Ander beroemde Fransman, August Comte, het op ʼn keer gesê: “Demografie is die noodlot.” Om te begryp wat tans in Frankryk aan’t gebeur is, moet mens die land se demografie verstaan. Die Franse Republikeinse etos sluit enige statistiese ontleding van burgers volgens ras, godsdiens of etnisiteit uit, maar mens kan ʼn ingeligte raaiskoot waag oor die groot aantal Moslemimmigrante uit Noord- en Wes-Afrika wat hulself reeds in die land gevestig het.
Amptelik bestaan daar in Frankryk 4,9 miljoen immigrante wat buite die land gebore is, met nog ʼn 6,7 miljoen wat oor Franse burgerskap beskik maar insgelyks “van vreemde oorsprong” is. As mens dié twee syfers bymekaartel, kom mens by die getal van 11,2 miljoen immigrante in Frankryk uit.
Hoewel daar byna nooit kommentaar hierop gelewer word nie, geniet Frankryk die hoogste geboortesyfer van alle Europese state. Terwyl die inheemse Franse bevolking sedert die Tweede Wêreldoorlog rondom 45 miljoen stagneer, is nog 15 miljoen mense tot die Franse bevolking toegevoeg, hetsy deur immigrasie, hetsy deur natuurlike aanwas van immigrante in Frankryk.
Dit is hier waar die prentjie ietwat mistig raak. In 2006 was daar 796 800 lewendige geboortes in Frankryk, maar hoeveel was buitelanders van Afrika-afkoms en hoeveel was Franse? ʼn Mens kan veronderstel dat die immigrantegeboortesyfer beduidend hoër as die Franse is, wat die groot aantal ontevrede, sogenaamde “jeugdiges” sou verklaar wat tans op polisiemanne losbrand en lukraak aanvalle op Franse lewens en eiendom loods.
Die rede waarom die Paryse streek, wat die Ile de France genoem word, op die voorpunt van die huidige etniese konflik verkeer, is dat byna die helfte van alle immigrante in daardie gebied woonagtig is. Sedert die Middeleeue is Parys een van die grootste en belangrikste ekonomiese en kulturele sentra in Europa. Daarom bestaan daar vandag ʼn Derdewêreldstrandhoof in die hart van Europa, met Parys en sy onstabiele banlieues wat reeds ʼn teater van kultuurkonflik geword het.
Die kulturele gevolge van die Afrika-inval in Frankryk is min of meer deur die nuustydskrif Time in ʼn onlangse uitgawe opgesom met die volgende woorde op die voorblad: The death of French culture. Volgens die Time-verslaggewer, Don Morrison, “het Frankryk ʼn multi-etniese basaar van kuns, musiek en letterkunde vanuit die banlieues en verskeie uithoeke van die nie-blanke wêreld geword.”
Die Amerikaanse tydskryf sien uit na ʼn grondverskuiwende verandering in die Franse kultuur waardeur “die land se woedende, ambisieuse minderhede” oorheersend gaan raak en “ʼn skerper, meer poëtiese weergawe van Amerikaanse rap” deur Kongolese rapsangers voortaan as eksemplaries van Franse smaak gereken sal word.
Nie eens Time met sy voorspelbare onderdanigheid jeens multikulturalisme kan egter ontken dat Frankryk ʼn etniese slagveld geword het nie, met potensieel funeste gevolge vir Europa en die Weste in sy geheel.want toлобановский александр отзывы