praag.co.za

Tag: Ierland

  • Karel Combrinck: Wil jy of wil jy nie — ‘n Engelse tameletjie

    Karel Combrinck: Wil jy of wil jy nie — ‘n Engelse tameletjie

    Binne enkele weke breek die oomblik uiteindelik aan vir Brittanje om die Europese Unie te verlaat. Of liewer, so lyk dit, want op daardie eilandjie is niks meer seker nie. Selfs in hierdie laat stadium is finaliteit oor die vorm wat hierdie uittrede moet aanneem, nog steeds nie in sig nie. Die huwelik tussen Brittanje en die Europese Unie was nooit ‘n gelukkige een nie. Gedurende die verlowingstadium al is die verhouding herhaaldelik verbreek en die egskeiding gaan skynbaar nog pynliker wees as wat die huwelik was.

    Hierdie wankelmoedige verhoudiing lê aan die wortel van die Engelse se besluit om formele bande met die Europese Unie te verbreek. As rede waarom hulle dit juis nou wil doen, word aangevoer die invloei van werkers uit Oos-Europa, Pole, Tsjeggië, Roemenië ens. wat bereid is om vir laer salarisse te werk en dus die Engelse werkers se arbeidsekerheid in gevaar stel.

    Eienaardig genoeg het die Engelse minder beswaar teen die instroming oor baie jare reeds, van Indiërs, Pakistani’s en Nigeriërs.

    Maar nou het dit tyd geword om die tasse te pak. En nog steeds word geredekawel oor of daar ‘n ooreenkoms moet wees of nie, of daar vir verdere uitstel onderhandel moet word of nie , of gelde wat deur Engeland aan die EU verskuldig is, betaal moet word of nie en selfs of daar weer ‘n referendum oor uittrede gehou moet word, ensomeer.

    Maar die mees tergende probleem is die posisie van Ierland. Die situasie is naamlik, soos ons weet, dat Noord-Ierland (of Ulster) ‘n Engelse provinsie is terwyl Ierland (Eire) ‘n onafhanklike republiek is. Wanneer Engeland dan finaal uittree uit die Europse Unie beteken dit dat Ulster outomaties ook uittree terwyl die Ierse Republiek lidland van die Europese Unie bly. En dit beteken op sy beurt natuurlik ‘n grens tussen Ulster en die Ierse Republiek met grenspolisie, doeaneposte, grensbelastings en wat ook al met grense tussen lande gepaard gaan.

    Ná jare van vrede en vrye beweging tussen Ulster en Ierland is ‘n harde grens ‘n nare vooruitsig wat deur alle partye vermy wil word. Om hierdie situasie te beredder, het die Europese onderhandelaars ‘n oplossing aan die hand gedoen wat gerieflikheidshalwe die ” Backstop position” genoem word. Die Backstop position kom daarop neer dat wanneer Engeland uit die EU tree, dan is die EU bereid om vir ‘n onbepaalde oorgangstydperk toe te laat dat daar geen harde grens tussen Ulster en Ierland sal wees nie. Dit beteken dus voortdurende vrye beweging van mense en goedere heen en weer. Die Engelse sien in hierdie oplossing die spook van vereniging van die twee ” Ierlande”, ‘n spook wat hulle hare laat regop staan. ‘n Aspek wat hiermee saamgaan, is dat die Britse Konserwatiewe Party deurgaans die wense in ag moet neem van die Ulster-parlementslede sonder wie se steun die party nie aan die lewe kan bly nie.

    Die Engelse het dus ‘n stokkie gesteek voor die Backstop-oplossing wat die hele onderhandelingsituasie steeds totaal oop laat. In hierdie (laat) stadium is daar  na jare van onderhandelings dus nog geen uittree-ooreenkoms nie en ook nog geen verstandhouding oor wat in Ierland gaan gebeur nie. Het iemand gepraat van afkophoenders of verkeerdeveerhoenders? ‘n Ooreenkoms wat mev Theresa May met die EU beding het, is deur die Britse parlement verwerp. Mnr Johnson, knaend oorhoops met sy eie parlement oor hierdie of daardie aspek van Brexit, het onlangs selfs sover gegaan as om die Britse parlement te ontbind, iets wat die Britse Hoërhof terstond weer ongeldig verklaar het.

    Hierdie tameletjie skep natuurlik ondraaglike probleme vir die duisende Europeërs wat in Engeland woon en werk en dieselfde vir Engelse wat in Europa woonagtig is.

    ‘n Ontwikkeling wat ook nog onder die oë gesien moet word, is dat die Skotte, wat nie ten gunste van Brexit was nie, na die Britse uittrede uit die EU van die Verenigde Koninkryk mag afskei. Daarna sal daar nog ‘n koninkryk wees, maar weinig meer om te verenig.

    Mnr Johnson het pas teruggekeer van Brussel waar ‘n nuwe ooreenkoms bereik is oor Britse uittrede uit die EU. Die ooreenkoms verskil in geringe mate van dié  wat bereik is met mev Theresa May ‘n jaar gelede, wat deur die britse parlement verwerp is en tot mev May se bedanking gelei het. Die Britse parlement het die naweek (19 Oktober) oor mnr Johnson se ” nuwe ” ooreenkoms gestem en dit ook verwerp. Hierdie week word weer oor die ooreenkoms gestem en skynbaar ook oor ‘n voorstel om die datum van uitttrede uit te stel.

    Dit is wat ‘n mens ‘n fiasko noem en die vraag is wie nou eintlik vir die fiasko verantwoordelik is.

    Minstens hierop is die antwoord redelik duidelik. Engeland het ‘n probleem geskep toe hulle ná jare se wik en weeg uiteindelik toegetree het tot ‘n gemeenskap waarvoor hulle in die eerste plek nie eintlik tande gehad het nie en waaruit hulle nou na vyftig jaar van lidmaatskap wil padgee. En as ‘n mens mooi nadink, het hulle die probleem in Ierland ook geskep deur in die eerste plek ‘n Britse kolonie daar te vestig. Dit is m.a.w. die soort gemors wat hulle wêreldwyd nagelaat het waar hulle kolonies gehad het, insluitende in ons eie land.

  • Ierland stem oorweldigend vir gay huwelike

    Ierland het in ‘n geskiedkundige referendum oorweldigend ten gunste van die wettiging van huwelike tussen dieselfde geslag gestem.

    Meer as 62 persent van die stemme was ten gunste van die wysiging van die land se grondwet om homoseksuele paartjies toe te laat om met mekaar te trou.

    Ierland is die eerste land in die wêreld wat sulke soort huwelike sal wettig ná ‘n algemene stemming.

    Dr Dan Roodt van PRAAG het op Twitter gesê daar behoort ‘n referendum gehou te word in Suid-Afrika oor die kwessie aangesien die land demokrasie as ‘n nastrewenswaardige voorbeeld voorhou.

    Sogenaamde “Grondwetkenners” in Kaapstad het die idee van ‘n referendum oor gay huwelike fel gekritiseer en in reaksie gesê dit is reeds in die Grondwet “verskans” en kan nie “verander” word nie.

  • Die Springbokke in Ierland: Daar is nie woorde…

    Die Springbokke in Ierland: Daar is nie woorde…

    Schalk BurgerSchalk Burger het ‘n drie gedruk.

    Die Ierse losskakel het vyf strafskoppe oorgeskop.

    Morné Steyn en Ruan Pienaar het vyf skoppe misgeskop.

    Die Springbokke het veertienmiljoen keer die bal in die lug op geskop.

    Die Ierse heelagter het veertienmiljoen keer die bal gevang.

    As ‘n stokou rastasanger met knielengte grillokke voor die tyd die nasionale deuntjie gesing het, was daar iets om oor te grinnik en derhalwe iets om oor te skryf, maar die Iere het, soos die Italianers, dit net met ‘n blaasorkes gespeel.

    Iere 15, Springbokke 10.

    So ‘n toetswedstryd verdien nie meer woorde as dit nie.

    Waar is Ra(as)s Dumisani as mens hom nodig het?

    gladiator videoАлександр Фильчаков

  • Springbokke se grand finale

    Springbokke se grand finale

    'n Selfversekerde Victor Matfield, 'keiser van lynstane'Die Springbokke het aan die begin van hierdie jaareindetoer rugby gespeel soos wat Ras Dumisani gesing het, maar hulle maak keel skoon om vandag hulle lang seisoen op ‘n hoë noot af te sluit, ‘n hoë-C, glinsterend en glorieryk soos Luciano Pavarotti s’n in “Ah mes amis” uit Donizetti se La fille du regiment. Net soos wat dit vir enige span amper onmoontlik is om elke wedstryd te wen, is dit baie moeilik vir ‘n kampioenspan om in ‘n string wedstryde te ploeter. Net soos wat elke Curriebekerspan ten minste een goeie wedstryd in ‘n seisoen het, so het die Springbokke minstens een goeie wedstryd in ‘n jaareindtoer in hulle. Die Engelse het dít nie verstaan nie en is verlede jaar nie net geklop nie, maar dit met sulke spogrugby en so oortuigend dat Martin Johnson se rooinekke nou nog sukkel om die gevolge daarvan af te skud.

    Al is dit so dat die toerorganiseerders die moeilikste vir die laaste gelos het, gaan die Springbokke vandag onoorwinlik wees. Vir ‘n hoogtepunt is dit gepas om teen die beste te speel, en die Iere is die beste wat daar Noord van die ewenaar is. Dit is, kortom,  die Noorde se beste teen die Suide se beste van hierdie jaar – ‘n behoorlike crescendo vir ‘n onvergeetlike Springbok-seisoen.

    Dit is meer as net ‘n seisoenale bioritmiese toeval; die Springbokke het uiteindelik die regte personeel om die beroemde pronkende gasel op hulle truie te poleer. Die gedoemde voorryeksperiment van P. De Villiers is (voorlopig) iets van die verlede en John Smit gaan ‘n tweede asem op haker kry met daardie onstuitbare klein domkrag, BJ Botha op vaskopstut en die Ondier Mtawarira op loskop.

    Adrian Jacobs het ook een vir die span gevat, as’t ware, en homself genoegsaam beseer om die wedstryd op ‘n gemakstoel by die huis te kan volg. Van die begin van Peter de Villiers se breierstermyn is óf Jaque Fourie, óf Wynand Olivier uitgestoot om vir Jacobs plek te maak – en albei van hulle, van die bestes ter wêreld in hulle posisies, is strate beter as Jacobs op sy beste. Vandag begin Olivier op binnesenter met verlede jaar se Suid-Afrikaanse speler van die jaar, Jean de Villiers, wat die dennehout as reserwe gaan warm sit.

    Schalk Burger keer terug op flank en Danie Rossouw skuif diagonaal agtertoe na agsteman wat beteken dat Ryan Kankowski sy plek afstaan, en dit nie net in die beginspan nie, want die losvoorspelers wat ‘n impak moet maak, is Jean Deysel en Dewald Potgieter wat aan sy eerste van ‘n hele hoop toetse behoort deel te neem. Andries Bekker is ook op die bank om vir die keiser van lynstane, Victor Matfield, plek te maak.

    Met die Springbokskrum wat soos die regte artikel behoort te lyk, en genoeg lynstaanballe, met Brüssouw vir wie geen opponerende span al ‘n oplossing geproduseer het nie, en met ‘n agterlyn wat venyn op die aanval kan afwissel met ferm verdediging, is dit moeilik om te sien waar die Iere, gehard in die voorpak en met hope slaankrag agterlangs soos wat hulle het, die Springbokke terminaal kan kwes.

    Maar wat vertroue in die Springbokke wek, is juis dat hierdie hulle laaste toets van die jaar is. Daar gaan ‘n uitbundigheid, ‘n intuïtiewe dodelikheid, in hulle spel wees wat hulle algeheel onstuitbaar gaan maak.

    firestormОлександр Васильович Фільчаков

  • Habana uitgewys vir skop

    Habana uitgewys vir skop

    Bryan HabanaDie Springbok-vleuel is uitgewys vir ‘n tikkie met sy skoen teen ‘n teenstaander. Dit is deur beamptes as ‘n skop geïnterpreteer. Dit het tydens die Springbokke se nederlaag teen Frankryk plaasgevind, sê die Ses Nasies-dissiplinêre komitee.

    Habana sal in ‘n dissiplinêre verhoor voor die Internasionale Rugbyraad verskyn. Die verhoor vind Maandag plaas.
    Suid-Afrika speel dié naweek teen Italië en sluit hulle toer daarna teen Ierland af.

    In 2007 is Habana as die Internasionale Rugbyraad se speler van die jaar aangewys.

    камин в частном домелобановский александр биография

  • Nog ‘n Suid-Afrikaner vra asiel

    Nog ‘n wit Suid-Afrikaner sê haar lewe sal in gevaar wees danksy rassediskriminasie indien sy na Suid-Afrika teruggestuur word.

    Dianne Louise Jefferson (22), wat by Boston Scientific in Galway, waar sy woon, werksaam is, het in Dublin se hoërhof aansoek gedoen om in Ierland te mag bly.

    Regter Elizabeth Dunne het ‘n interimmaatreël waarvolgens Jefferson nie gearresteer, aangehou of oorgeplaas mag word nie, toegestaan.

    Jefferson het in haar aansoek gesê sy voel “as ‘n wit Suid-Afrikaner dat daar ‘n werklike moontlikheid bestaan van rassediskriminasie teen haar en dat sy vrees vir haar welstand en uiteindelik haar lewe indien sy gedeporteer word”.

    Sy het Suid-Afrika op 1 Junie 2002 verlaat na die dood van haar ouma en na ierland verhuis om by haar pa te wees.

    In die sewe jaar wat Jefferson in Ierland gewoon het, het sy haar skolloopbaan voltooi, gestudeer, in die huwelik getree en as ‘n projekbouer in 2006 by Boston Scientific aangesluit.

    Op 16 September hierdie jaar het die Ierse Naturalisasie en Immigrasiediens haar verwittig dat haar verblyfkaart geweier is en dat sy vanaf 20 September ‘n onwettige inwoner sou wees.

    Sy is aangeraai om huistoe te gaan.

    Sy is deur haar regsverteenwoordiger aangeraai om vir Ierse burgerskap aansoek te doen. Sy is in 2005, op die ouderdom van 18, met Kevin Curran getroud, maar Curran woon tans in Nederland vir werksdoeleindes alhoewel hy gereeld in Ierland by sy vrou kuier.

     

    купить детские комбинезоны для девочекФильчаков прокурор харьков