Die feit bly staan dat die meeste regses wat voor 1994 vir die KP en HNP gestem het (en "nee" gestem het in die referendum), tereg besef het die Afrikaner se tyd vir partypolitiek is verby en nie gaan stem nie.
Die Vryheidsfront Plus dien tans slegs twee doele:
a) Om 'n hand vol politici op die soustrein te hou;
b) om 'n ANC-eenpartymagstaat elke vyf jaar te help rubberstempel as 'n "demokrasie".
Die Vryheidsfront Plus wil namens Afrikaners praat, maar verstaan nie die land se geskiedenis nie. Die term "Afrikaners" is geskep met Uniewording in 1910 om 'n nasie te skep uit die "Cape Dutch", die hensoppers en joiners, en dan natuurlik die bittereinders van die Anglo-Boereoorlog. Hierdie bittereinders het nog in 1914 gerebelleer teen hierdie opset wat die resultaat was van Britse Imperialisme ("De la Rey, sal jy die Boere kom lei?").
Om die sogenaamde Afrikanernasie deur sosiogeniëring te vestig het die "Cape Dutch" in die 1930s die Nasionale Party oorgeneem en die "swart gevaar"-taktiek (weet nou waar die "stop Zuma" vandaan kom?) gebruik om "Afrikaners" te konsolideer in een party. (Rasdiskriminerende wetgewing is soos deur 'n worsmasjien geproduseer). Suid-Afrika is toe sedert 1948 as eenpartymagstaat geregeer volgens die Afrikamodel.
Die sogenaamde reënboognasie is weer 'n nuwe projek in sosiogeniëring wat in 1994 begin het en teen 2009 reeds heeltemal misluk het(lees R.W. Johnson se jongste boek).
Die feit is dat Suid-Afrika soos sy naam aandui nie 'n politiek lewensvatbare staat is nie, maar 'n geografiese gebied geskep deur Britse imperialisme wat niemand weet hoe om te regeer nie of te laat sterf nie.
So waar laat dit my mede-Praaglesers? Het dit nie tyd geword dat die begrip "Afrikaner" ontbondel word in "Afrikaanses"(Naspers kan hiemee help) aan die een kant en Boere aan die ander kant nie?
Laasgenoemde groep sal moet teruggryp na die ideale (nie metodes) van die 1914-rebellie (Sal de la Rey weer die Boere kom lei?) en Orania aktief begin bemark (Johann Wingard kan hier help) as die begin van 'n alternatief vir Australië.
President Zuma is dalk die man wat met die onderhandeling van hierdie ideale kan help.
