As ’n mens eerlik moet wees, lyk die pad vorentoe maar baie grys en selfs Pieter Mulder sal baie moed moet saamskraap om nog aan te gaan ná sy reuse poging tot dusvêr. (Dankie daarvoor, maar soos deur ander skrywers opgemerk, was julle poging skynbaar heeltemal te eerlik!?)
Ek sou bitter graag egter wou uitvind wat die ouderdomsprofiel was van mense wat vir die Vryheidsfront gestem het want ek hoop om daaruit krag te put vir die toekoms. My raaiskoot (wens) is soos volg:
Bo 60 (15%) – Die siniese groep; ook die profiel wat nie aan die verkiesing deelneem nie
50 – 65 (25%) – Die klein bietjie mense wat nog in die Afrikanerideaal glo
35 – 50 (5%) – Die afwesige selfsugtiges; hoekom moet ons iets prysgee vir ’n groter ideaal?
Onder 35 (55%) – Die jong groep wat nie ander opsies het as om dinge vir hulleself in Afrika te maak werk nie
As die Vryheidsfront dit kan regkry om hierdie jonger geslag se ideale en aspirasies in die huidige “samewerkende styl” te kanaliseer, het ek hoop vir die toekoms.
Mense, ons moet hard stry vir ten minste een volledige Afrikaanse universiteit en ander tegniese kolleges. Dít, saam met moedertaalonderrig, is die enigste manier hoe ons as groep in die toekoms kan bewys dat ons onmisbaar in Afrika is.
Hier is nog ’n paar redes hoekom ek glo Afrikaanse mense vir die DA gestem het:
1. Afrikaans / Afrikaners / Boere as ’n produk het lyk vir my sy bemarkbare status geheel en al verloor.
Om die waarheid te sê, Afrikaanse mense wens dit weg. Voorbeelde hiervan is die aanhang van Engelse predikers soos Angus Buchan terwyl daar daagliks wonderlike werk deur Afrikaanse predikante in honderde gemeentes gedoen word. ’n Ander duidelike voorbeeld is die keuse van duisende Afrikaanse mense om eerder hulle heil in ander lande te gaan soek, as om mekaar te vertrou vir ’n oplossing. Die pers het regtig daarin geslaag om die mense te breinspoel dat Afrikaans aanstoot gee en veragtelik is (so asof ’n swart moordenaar eers aan sy slagoffer vra of hy Afrikaans is voordat hy hom doodmaak).
2. Alle kiesers se stemme gaan in ons moderne tyd slegs om potensiële finansiële voordeel.
Die swart stem is ’n stem vir ’n model wat hulle glo die beste finansiële voordeel vir hulle sal bring. Die stem vir die DA is nie ’n ideologiese stem nie, maar slegs ’n poging van Westerlinge in Afrika om deel te hê aan ’n ekonomiese model wat hopelik vir hulle voordeel sal bring.
3. Die hoofstroom-Afrikaner het “common” geword.
Elke keer as ek die Robbie Wessels Vodacom-advertensie sien (en nog baie ander voorbeelde), voel ekself regtig skaam om myself daarmee te assosieer. Ek hoop regtig dat ons 21ste-eeuse kultuur meer as net rugby, braaivleis en skindertydskrifte verteenwoordig.
