Verhoor oor Amcu-erkenningsooreenkoms uitgestel

Amcu-lede
Amcu-lede

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddelling en Arbitrasie het ‘n verhoor oor die erkenningsooreenkoms tussen vakbonde en die platinummynmaatskappy Lonmin, tot aanstaande maand uitgestel.

Die mynvakbond AMCU het in Mei met onderhandelinge oor ‘n erkenningsooreenkoms begin.

Samesprekings tussen Lonmin en AMCU het vasgeval en die vakbond het die geskil na die KVBA verwys.

Die NUM het vroeër die maand ook ‘n geskil oor sy erkenning by Lonmin na die KVBA verwys, nadat die vakbond sy meerderheid by die myn verloor het en sy kantore teen die 16de van die maand moes ontruim.

Die NUM het daarna ‘n dringende aansoek by die Arbeidshof ingedien om Lonmin te keer om sy erkenningsooreenkoms op te skort.

Die hof het dié aansoek verwerp op grond daarvan dat dit nie dringend is nie.

Die vakbond Amcu het ‘n beroep gedoen op sy lede wat by Xstrata se Steelpoortmyn in Limpopo afgedank is, om nie deel te neem aan gewelddadige betogings nie.

‘n Mynwerker is Vrydag in onrus by die myn dood. Drie werkers is ook in hegtenis geneem nadat ‘n bus en ‘n vragmotor aan die brand gesteek is.

Die Amcu-takleier, Zeb Mabilu se broer, Leon Mabilu is die mynwerker wat Vrydag dood is.

Mabilu sê Amcu veroordeel Vrydag se geweld. Hy sê Amcu-lede gaan aanhou betoog, maar dit moet op ‘n vreedsame wyse geskied. – RSG

Vakbonde druk myne

mynarbeidDie Kamer van Mynwese het ‘n dispuut met die vakbond Amcu verklaar oor salarisonderhandelinge in die goudsektor.

Dit sal waarskynlik beteken dat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie by salarisonderhandelinge vir die hele sektor betrokke moet wees.

Die Kamer sê Amcu het goudprodusente se gewysigde aanbod van ‘n vyf persent verhoging in salarisse en voordele verwerp.

Drie verskillende vakbonde het verlede week ‘n amptelike dispuut met goudprodusente verklaar. Die salarisonderhandelinge word bestempel as van die moeilikste arbeid onderhandelinge sedert die einde van apartheid.

Dit is as gevolg van toenemende strydlustigheid by vakbonde, sowel as stygende kostes en dalende goudpryse.

Intussen het die mynwerkersvakbond die NUM die Kamer van Mynwese daarvan beskuldig dat hy werkers uitlok om te staak.

Werkers van die NUM eis ‘n salarisverhoging van tot 100 persent, afhangend van senioriteit.

‘n Woordvoerder, Frans Baleni sê hulle is bekommerd oor die dispuut, maar hulle hoop dat ‘n oplossing gevind kan word sonder dat die situasie in ‘n staking eindig. – RSG

Suid-Afrika ver agter wat internetreklame betref

sleutelbord_digitaalSuid-Afrikaanse maatskappye bestee slegs 2% van hul reklamebegrotings aan digitale media, terwyl dié syfer in die VSA reeds op 35% staan. Die meeste advertensiegeld word op radio en TV uitgegee, wat 63% van die koek ontvang en 30% op gedrukte media.

Volgens die digitale bemarkingsmaatskappy Amorphous is die syfer in SA geweldig laag. Sy uitvoerende beampte, Grant Shippey, sê: “Selfs al beskik ‘n kleiner gedeelte van Suid-Afrika oor internettoegang vergeleke met die VSA, is die toewysing aan digitaal steeds oogluikend laag.

“Plaaslike maatskappye plaas te veel klem op tradisionele bemarking sonder dat daar enige tasbare opbrengs op hul belegging is. Dis ook waar van die reklamebedryf wat uit ‘n omgewing kom waar daar min tot geen prestasiemaatstawwe bestaan nie.

“Gevolglik erken die bedryf steeds ‘n geslaagde veldtog aan pryse of toekennings, eerder as resultate. Toekennings bly ‘n sleutelmaatstaf waarmee agentskappe beoordeel word.”

Volgens Shippey neig data om twyfelagtig te wees deur van fokusgroepe of straatopnames gebruik te maak. “Daar is ‘n persepsie van skaarsheid maar ons het oorgenoeg data, veral in die digitale sfeer. Deur sodanige data te gebruik, kan maatskappye ‘n beter begrip verkry van hoe bemarking hulle kan bystaan in die opstel van sakestrategieë.”

 

NUM, Solidariteit waarsku dat goudstaking dreig

Du Plessis en Baleni
Du Plessis en Baleni

‘n Verlammende staking dreig in die goudmynbedryf nadat salarissamesprekings tussen die vakbonde Solidariteit, die NUM en UASA in Johannesburg misluk het.

Goudprodusente het ‘n salarisverhoging van vyf persent aangebied, na ‘n aanvanklike aanbod van vier persent. Dit het daartoe gelei dat die drie vakbonde hulle aan die onderhandelings onttrek het.

Die hoofsekretaris van die NUM, Frans Baleni, sê die gaping tussen die salarisaanbod en wat vakbonde vra is baie groot en indien ‘n oplossing nie gevind kan word nie, sal die alternatief ‘n staking wees

Die hoofsekretaris van Solidariteit, Gideon du Plessis, het vroeër gesê daar word nie ernstig onderhandel nie. Hy sê hulle kry die indruk dat hoewel die Kamer van Mynwese se onderhandelaars in goeder trou optree, hulle aan bande gelê word deur sommige van die mynhuise se bestuurshoofde.

Du Plessis sê die enigste uitweg is om ‘n dispuut te verklaar. Die proses sal nou deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) oor die volgende 30 dae hanteer word.

Terwyl die KVBA se betrokkenheid nie ongewoon is in die goudsektor se loongesprekke nie, is die tydsberekening ongewoon, het die myne se hoofonderhandelaar Elize Strydom gesê.

Die betrokkenheid van die KVBA is geen waarborg daar sal nie ‘n staking sal wees nie. Gesprekke in 2011 onder beskerming van die KVBA het ‘n dooie punt bereik, wat tot ‘n vier-dag-staking gelei het, die eerste in twee dekades.

Die NUM en Solidariteit het besluit om ‘n dispuut te verklaar om die saak te dwing sê Solidariteit se hoofsekretaris Gideon du Plessis.

Die NUM wil ‘n 60%-verhoging vir intreevlak–werkers se lone en 15% vir ander werknemers hê.

Die Vereniging van Mynwerkers en Konstruksie Unie (Amcu) het gevra vir ‘n 150%-verhoging vir intreevlak-werkers ondergronds. UASA en Solidariteit wil 18% en 10% onderskeidelik hê.

Nie een van die vakbonde wou hul eise Woensdag aanpas nie.

Werkers by die Transhex diamantmyn op Alexanderbaai in die Noord-Kaap staak nou reeds bykans ‘n week lank.

Die werkers eis ‘n 13 persent loonverhoging, terwyl die mynbestuur agt-persent aanbied. ‘n Woordvoerder van die NUM, Abubakah Frederick, sê hulle het hulle eise afgeskaal. – RSG

 

ANC roekeloos met EU-handelsvennote

“Die negatiewe effek van die ANC se besluit om nie beleggingsbeskermingskontrakte as deel van Suid-Afrika se bilaterale beleggingsooreenkomste met lidlande van die Europese Unie (EU) te hernieu nie, het die week duidelik geblyk in skerp kritiek van die EU op Suid-Afrika se optrede,” sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Die Europese Unie se handelskommissaris, mnr. Karel de Gucht, het ‘n harde waarskuwing aan die Suid-Afrikaanse regering gerig dat beleggers hom ‘deeglik dophou’ na die opskorting van kontrakte met 28 lidlande van die EU.

Volgens adv. Alberts het die VF Plus die regering verlede jaar reeds hierteen gewaarsku en het toe gesê die kontrakte wat nie hernieu is nie, het ondermeer waarborge gebied aan handelsvennote teen die moontlik nasionalisering van hul bates in Suid-Afrika.

Volgens adv. Alberts bestaan die vraag steeds of dit gedoen is om die Suid-Afrikaanse regering te beskerm teen skadevergoedingseise van miljarde rande indien nasionalisering wel sou plaasvind.

“Die VF Plus het minister Rob Davies (minister van handel en nywerheid) gewaarsku dat die EU nie positief sou wees oor die kansellering van beleggingsooreenkomste nie. Nou sien ons die gevolge daarvan.

“Die ANC-regering is arrogant om te dink hy sal kan wegbeweeg van die EU as Suid-Afrika se grootste handelsvennoot en dat hy hom sonder meer kan vervang met ander handelsvennote soos China en Indië.

“Dit is ook wensdenkery om te dink dat Suid-Afrika se lidmaatskap van BRICS daarvoor sal kan vergoed indien die EU handel en beleggings aan die land sou onttrek.

“Dit is duidelik dat die ANC roekeloos omgaan met Suid-Afrika se ekonomie deur die EU op hierdie wyse te behandel en hy verdien om geroskam te word deur die EU se handelskommissaris,” sê adv. Alberts.

Hy sê daar is niks wat die EU verhinder om eerder met Nigerië bande te sluit nie. Nigerië is tans ‘baie pro-aktief’ wat beleggings aanbetref en bied goeie handelsmoontlikhede.

“Die ANC moet realisties raak en besef dat hulle nie meer spesiale behandeling kan verwag van die land se handelsvennote nie. Sake is sake. Die ANC is nie meer gewild in die EU nie weens sy arrogansie en ondermyning van vryemark-beginsels deur onder meer streng arbeidswette.

“Die daling in elektrisiteitsverbruik van industriële ondernemings is boonop ‘n sterk aanduiding dat Suid-Afrika besig is om te de-industrialiseer, terwyl minister Davies poog om die teenoorgestelde te vermag. Dit is dus nie nou die tyd om ons EU-handelsvennote stief te behandel nie.

“Ek wil my waarskuwing van verlede jaar herhaal dat dit fataal vir Suid-Afrika se ekonomie kan wees indien hy sy rug op die EU sou keer,” sê adv. Alberts.

Pretoria kry reuse casino, vermaakgeriewe

Sun International wil ‘n R3 miljard “stedelike vermaak bestemming” in Pretoria oprig, deur die sukkelende Morula Casino te hervestig.

Dit is volgens ‘n verklaring wat deur die maatskappy Dinsdag uitgereik is.

Sun International het ‘n “aansoek by die Gauteng Dobbelraad ingedien om sy Morula casino-lisensie te wysig om die casino te verskuif vanaf Mabopane na Menlyn, Tshwane”.

“Die Morula Casino Hotel en het vir ‘n geruime tyd ‘n beduidende afname in inkomste getoon hoofsaaklik as gevolg van die relatief ontoeganklike ligging en die groei van nie-casino dobbel-aktiwiteite in die opvangsgebied,” sê Sun International se Graeme Stephens.

Die ontwikkeling sal deel vorm van die nuwe grootskaalse “Green City”-projek wat tans onder ontwikkeling is en wat bekend staan ​​as Menlyn Maine in die oostelike voorstede van die stad.

Menlyn Maine, sal in sy finale vorm ‘n R8 miljard, 315,000 m2 gebied wees, wat ‘n winkelsentrum, duur residensiële komponent, ‘n kantoorpark en hotelle sal insluit.

Die fasiliteite sal bestaan ​​uit ‘n vyfster-hotel en konferensiesentrum met 100 luukse kamers en suites sowel as ‘n binnenshuise vermaakarena met sitplek vir 8 000 mense vir internasionale en plaaslike vermaak, konserte, sportbyeenkomste en konferensies.

Ander besienswaardighede sluit in ‘n wye verskeidenheid van kleinhandel-winkels, kroeë en restaurante wat besoekers van regoor die provinsie sal lok, met parkering vir 2 785 voertuie.

“Ons marknavorsing het getoon dat daar ‘n duidelike behoefte vir die hotel en konferensieruimte sowel as vermaak in Tshwane is,” het Sun International se voorsitter, Valli Moosa gesê.

Die totale beraamde inkomste aan die regering wat die projek oor ‘n tydperk van vyf jaar sal genereer, word geskat op R2.7-miljard, sê Sun International.

Vermoede bestaan dat diensverskaffers Medupi melk deur vertragings

‘n Woordvoerder van die vakbond NUMSA, Steve Nhlapo, sê die verlenging van die spertyd vir die voltooiing van die Medupi-kragstasie sal tot voordeel van sommige van Eskom se kontrakbestuurders werk.

Nhlapo sê daar word vermoed dat die proses doelbewus vertraag word sodat diensverskaffers meer geld daaruit kan maak.

Die vakbond het gevra vir ‘n ondersoek na Eskom se besluit om die spertyd vir die voltooiing van sy eerste eenheid by die multimiljardrandse Medupi-kragstasie op Lephalale in Limpopo uit te stel.

Die spertyd is van die einde van die jaar verskuif na die middel van aanstaande jaar. Die kragverskaffer sê dit is gedeeltelik oor die voortslepende arbeidsonrus. 

Die president van die Lephalale Kamer van Koophandel, Wayne Derksen, het intussen gesê hulle is tevrede met die uitstel.

Nóg ‘n petrolskok kom!

Business Report berig dat nog ‘n petrolskok op Suid-Afrikaners wag.

‘n Voorlopige som deur die departement van energie, wys dat petrol tot 61c per liter meer kan kos van Augustus af.

Dit is op internasionale oliepryse gesbaseer, sowel as die verhandelingskoers van die rand wat tussen 28 Junie tot 2 Julie bereken is.

Motoriste betaal van Woensdag af 84c meer vir petrol.

Die prys van 95 oktaan-petrol in Gauteng is nou ‘n rekordprys van R13,23 per liter, en by die kus R12,86 per liter.

Plaaslike petrolpryse is geskoei op die verhandelingskoers van die rand, sowel as internasionale oliepryse in die tydperk vanaf 28 Junie tot 1 Augustus.

ANC-konsortium gebruik staatsdienspensioenfonds om Independent-nuusgroep mee te koop

Die regering het in antwoord op ‘n geskrewe vraag van die Vryheidsfront Plus erken dat geld van die pensioenfonds vir staatsdienswerkers wel gebruik gaan word om te belê in die Independent News & Media-groep wie se Suid-Afrikaanse beleggings deur die ANC-georiënteerde konsortium Sekunjalo Independent Media gekoop is.

Dit beteken in effek dat die ANC met staatspensioenfondse invloed gaan kry oor ‘n koerantgroep wat as kragtige ANC-propagandamedium gebruik kan word. Die aandeel wat Sekunjalo van Independent gekoop het, sluit van die land se voorste koerante in, waaronder The Star, Pretoria News, Cape Argus en The Sunday Independent.

Volgens adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies en die media, is dit ‘skrikwekkend’ dat die ANC staatsgeld gaan gebruik om ‘n vastrapplek in die land se hoofstroom-media te verkry. “Daar is egter ook vraagtekens oor die sinvolheid van die tipe belegging in ‘n tyd waarin meeste koerante wêreldwyd se sirkulasiesyfers aan die afneem is. Al die tekens is daar dat hierdie eerder ‘n politiek-geïnspireerde transaksie is ten einde nog ‘n pro-regeringskoerant tot stand te bring benewens die Gupta-beheerde The New Age-koerant,” het Alberts verder gesê.

Alhoewel geen amptelike syfers nog bekend gemaak is nie, lui mediaberigte dat die transaksie sowat R2 miljard gaan beloop.

Uit ‘n voorlegging aan die Mededingingskommissie waaroor ook reeds berig is, blyk dit dat die pensioenfonds deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ‘n belang van sowat 25% in die transaksie sal hê. Die bedrag sal sowat R500 miljoen beloop.

Dit is reeds bekend dat die drie persone aan stuur van sake by Sekunjalo noue bande met die ANC het. Hulle is dr. Iqbal Survé, hoof van die konsortium, die prominente sakeman en ANC-fondswerwer Sandile Zungu en die ANC parlementslid Mandla Mandela, ‘n kleinseun van oud-president Nelson Mandela.

Die ANC was reeds in die spervuur oor sy omstrede befondsing van The New Age-koerant deur middel van staatsadvertensies en borgskappe van staatsbeheerde maatskappye. The New Age word deur die Gupta-familie besit.

Die vrae van adv. Alberts aan die minister van finansies was of die pensioenfonds vir staatsamptenare wel ‘n belegging in die transaksie gaan maak, wie die rolspelers is, wat die bedrag is en wat die terme van die mandaat en strategie van die belegging is.

In antwoord het die minister bevestig dat die OBK die belegging goedgekeur het onderhewig aan die goedkeuring van die Reserwebank en die Mededingingskommissie.

Die ‘finale beleggingsbedrag’ kon nie bekend gemaak word nie aangesien daar nie uitsluitsel is oor die rol van ander moontlike beleggers nie.

Die transaksie was ook ‘in ooreenstemming’ met die pensioenfonds se private beleggingsmandaat wat op winsbejag en breë swart ekonomiese bemagtiging gerig is, lui die antwoord.

Motlanthe vergader met myn-rolspelers

Adjunkpresident Kgalema Motlanthe vergader vandag in Pretoria met belangrike rolspelers in die mynbedryf.

Die Presidensie sê die vergadering is deel van die pogings om die bedryf te stabiliseer en ‘n volhoubare oplossing vir die probleme te kry.

Die National Union of Mineworkers, die vakbond AMCU, Solidariteit, NACTU, Cosatu, die Kamer van Mynwese en die Suid-Afrikaanse Mynontwikkelingsvereniging sal dit na verwagting bywoon.

Die spanning tussen die NUM en AMCU in die platinumsektor het vererger, wat gelei het tot geweld en stakings. AMCU het intussen ‘n beplande staking by Lonmin se platinummyne in Noordwes uitgestel.

Die vakbond sê die besluit hang af van ‘n positiewe uitslag van die vergadering met Motlanthe.

AMCU wil as die meerderheidsvakbond by die maatskappy se myne erken word. AMCU sê in ‘n verklaring hulle wil die adjunk-president die geleentheid gee om ‘n deurbraak te bewerkstellig.

SA, EU vergader agter geslote deure oor sitrus

Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale verhoudinge, en die Europese Kommissie se vise-president Barones Catherine Ashton het Maandag sitrusinvoere bespreek.

“Ja, ons is besig op die sitruskwessie en daar is ‘n onderneming, en produsente sal steeds betrokke wees,” het Mashabane het aan verslaggewers gesê in België.

“Onderhandelinge is reeds versnel, en wetenskaplike navorsing sal voortgaan [in die sitrus swartvlekprobleem].”

Die gesprek is agter geslote deure gehou by die Europese Buitelandse Sake se hoofkantoor in België se hoofstad, Brussel.

Die Europese Unie (EU) dreig om die invoer van ondermeer Suid-Afrikaanse sitrusvrugte te beperk, het Mxolisi Nkosi, Suid-Afrika se ambassadeur aan België, gesê.

“Daar is ‘n tendens van toenemende proteksionisme wat die EU wil aanwend om sommige van ons uitvoere, insluitend sitrusuitvoere, te staak,” het hy tydens ‘n vergadering met Suid-Afrikaanse diplomate by sy huis in Brussel gesê.

“Ons is bekommerd hieroor. Ons sal dit by die vergadering bespreek en kyk hoe ons ‘n oplossing kan vind.”

Die Suid-Afrikaanse afvaardiging van die departement van internasionale betrekkinge het Saterdag in Brussel aangekom vir bilaterale samesprekings.

Die groep vergesel Maite Nkoane-Mashabane, minister van die departement, wat vandeesweek met verskeie Europese beamptes vergader.

Nkosi het gesê die sitrusbedryf dra R6 miljard by tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP).

Sowat 70% van Suid-Afrika se sitrusuitvoere gaan aan die Europese Unie, wat dit een van die land se belangrikste markte maak. Suid-Afrika is die grootste uitvoerder van heel lemoene ter wêreld en die grootste verskeper van pomelo.

“Dit is ‘n groot bedryf,” het Nkosi gesê.

Sitrusinvoere is gestaak nadat sitrus met swartvlek in sommige versendings gevind is.

Swak rand wek kommer

Die skerp daling in die waarde van die rand kan die tekstielbedryf negatief raak, het die Kaapse Sakekamer Vrydag gewaarsku.

“In die Wes-Kaap sal die klerebedryf meer moet betaal vir die invoer van materiaal, en omdat 80% van die materiaal wat gebruik word, ingevoer word, kan dit die bedryf skade berokken,” het Viola Manuel, hoof van die organisasie, gesê.

“Behalwe daarvoor is daar ook ‘n invoerbelasting van 22% op ingevoerde materiaal. Dit alles beteken werksgeleenthede is in die gedrang.”

Die rand het Donderdag tot ongeveer R10 teen die Amerikaanse dollar geval, enkele ure ná pres. Jacob Zuma die land en beleggers probeer verseker het dat die regering hard werk om ‘n einde te bring aan arbeidsonrus in veral die mynwese.

Die rand is tans op sy laagste vlak in vier jaar.

Die geldeenheid het teen Vrydagmiddag op ‘n vlak van sowat R10.15 tot die dollar verhandel.

Manuel het gesê die skielike daling moet gesien word as ‘n sterk negatiewe reaksie teen die manier waarop die land bestuur word.

“Dis duidelik dat die wêreld nie tevrede is nie oor die onstabiliteit in arbeidsverhoudinge en party van die onlangse besluite oor sake soos elektrisiteit en tolpaaie, sowel as die skandale wat aan die lig gekom het.”

NUM-leier geskiet

‘n NUM-leier is doodgeskiet en ‘n ander gewond by ‘n Lonmin Platinum-myn in Suid-Afrika, sê die vakbond.

Dodelike geweld, onwettige stakings en binnegevegte teister Suid-Afrika se platinumgordel sedert verlede jaar.

Die geweld kom te midde van verhoogde spanning na ‘n reeks dodelike aanvalle op die platinum-myn.

Die plaaslike skagleier “is dood voor die uniekantore,” het die National Union of Mineworkers (NUM) se streeks-woordvoerder Mxhasi Sithethi gesê.

Die skietery by die Marikana-myn naby Rustenburg, noordwes van Johannesburg, volg na die moord van ‘n leier van die NUM se mededingervakbond, die Vereniging van Mynwerkers en Konstruksie-unie (Amcu), verlede maand.

Augustus verlede jaar, het die polisie minstens 34 mense in ‘n enkele dag by die Marikana-myn doodgeskiet tydens onrus.

Maandag, het twee onbekende mans die NUM-leier omstreeks 10:00 genader en op hom gevuur, het Sithethi gesê.

“Daar was geen konfrontasie nie. Niks nie,” het hy gesê. “Hy is terug na die kantoor. Hulle het hom gevolg en hom doodgemaak.”.

Die slagoffer, wie se identiteit nie bekend gemaak is nie, het na ten minste twee skietwonde aan die kop gesterf. Die aanvallers het daarna minstens ses keer op die Unie-tesourier gevuur toe hy hulle gekonfronteer het, volgens Sithethi.

Die tesourier is in ‘n “kritieke toestand” in die hospitaal, volgens NUM se sekretaris-generaal, Frans Baleni. Die polisie was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Maandag, het Business Day berig Lonmin het ingestem om bedingingsregteregte aan die vakbond Amcu  toe te staan en sodoende die mededingende vakbond National Union of Mineworkers (NUM), uit kollektiewe bedinging uit te sluit.

Die Business Day het Maandag berig Lonmin het tydens onderhandelinge met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ingestem om bedingingslregte van 35% vir basiese regte en 45% vir kollektiewe bedinging toe te staan aan voltydse vakbondverteenwoordigers.

Abey Kgotle, hoof van Lonmin se menslike hulpbronne, het gesê die regte van die meerderheid vakbond sal op 50% bly staan.

ʼn Vakbond sal hierdie vlakke van verteenwoordiging in die arbeidsmag moet kan behaal om die spesifieke regte te geniet.

Amcu verteenwoordig tans 70% ongeskoolde werkers en masjien-operateurs in die bedingingseenheid. Dit beteken dat NUM nie organisatoriese regte onder die lae-geskoolde werkers het nie. Na wat berig word verteenwoordig NUM slegs 20% van die mynwerkers by Lonmin.

Stakings nie ‘n probleem nie, sê Zuma

Pretoria – Stakings deur vakbonde kan verwag word in ‘n demokratiese land en moenie as ‘n probleem gesien word nie, het pres. Jacob Zuma Donderdag gesê.

Zuma het aan joernaliste by die Uniegebou in Pretoria gesê dat die regering kies nie kant tussen die mededingende vakbonde – National Union of Mineworkers and Association of Mineworkers en Construction Union (Amcu) – in die mynsektor nie.

“Ons kies glad nie kant nie. Daar is elemente wat poog om die mynboubedryf uit te beeld asof daar groot probleme in die mynbousektor bestaan.

“Stakings is in ‘n demokratiese land normaal. Dit is slegs in ondemokratiese lande waar daar geen stakings is nie,” het hy gesê.

“Ek dink nie ons moet stakings as ‘n probleem sien nie, want werkers in ‘n demokratiese land word deur die grondwet toegelaat om te staak.”

Zuma het gesê die feit dat Cosatu in ‘n alliansie met die ANC verkeer, beteken nie dat die regering sal versuim om dinge “regverdig” te hanteer nie. – Sapa