“Die negatiewe effek van die ANC se besluit om nie beleggingsbeskermingskontrakte as deel van Suid-Afrika se bilaterale beleggingsooreenkomste met lidlande van die Europese Unie (EU) te hernieu nie, het die week duidelik geblyk in skerp kritiek van die EU op Suid-Afrika se optrede,” sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.
Die Europese Unie se handelskommissaris, mnr. Karel de Gucht, het ‘n harde waarskuwing aan die Suid-Afrikaanse regering gerig dat beleggers hom ‘deeglik dophou’ na die opskorting van kontrakte met 28 lidlande van die EU.
Volgens adv. Alberts het die VF Plus die regering verlede jaar reeds hierteen gewaarsku en het toe gesê die kontrakte wat nie hernieu is nie, het ondermeer waarborge gebied aan handelsvennote teen die moontlik nasionalisering van hul bates in Suid-Afrika.
Volgens adv. Alberts bestaan die vraag steeds of dit gedoen is om die Suid-Afrikaanse regering te beskerm teen skadevergoedingseise van miljarde rande indien nasionalisering wel sou plaasvind.
“Die VF Plus het minister Rob Davies (minister van handel en nywerheid) gewaarsku dat die EU nie positief sou wees oor die kansellering van beleggingsooreenkomste nie. Nou sien ons die gevolge daarvan.
“Die ANC-regering is arrogant om te dink hy sal kan wegbeweeg van die EU as Suid-Afrika se grootste handelsvennoot en dat hy hom sonder meer kan vervang met ander handelsvennote soos China en Indië.
“Dit is ook wensdenkery om te dink dat Suid-Afrika se lidmaatskap van BRICS daarvoor sal kan vergoed indien die EU handel en beleggings aan die land sou onttrek.
“Dit is duidelik dat die ANC roekeloos omgaan met Suid-Afrika se ekonomie deur die EU op hierdie wyse te behandel en hy verdien om geroskam te word deur die EU se handelskommissaris,” sê adv. Alberts.
Hy sê daar is niks wat die EU verhinder om eerder met Nigerië bande te sluit nie. Nigerië is tans ‘baie pro-aktief’ wat beleggings aanbetref en bied goeie handelsmoontlikhede.
“Die ANC moet realisties raak en besef dat hulle nie meer spesiale behandeling kan verwag van die land se handelsvennote nie. Sake is sake. Die ANC is nie meer gewild in die EU nie weens sy arrogansie en ondermyning van vryemark-beginsels deur onder meer streng arbeidswette.
“Die daling in elektrisiteitsverbruik van industriële ondernemings is boonop ‘n sterk aanduiding dat Suid-Afrika besig is om te de-industrialiseer, terwyl minister Davies poog om die teenoorgestelde te vermag. Dit is dus nie nou die tyd om ons EU-handelsvennote stief te behandel nie.
“Ek wil my waarskuwing van verlede jaar herhaal dat dit fataal vir Suid-Afrika se ekonomie kan wees indien hy sy rug op die EU sou keer,” sê adv. Alberts.
