Minister prys Mandela se medici

Oudpres. Nelson Mandela lyk goed en hy reageer het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, Donderdag gesê.

“Hy maak sy oë oop en hy knik amper asof om te sê: ‘ek is hier met julle en waardeer wat julle doen,” het die minister buite die Harthospitaal in Pretoria gesê.

Mandela het Donderdag sy 95ste verjaardag gevier.

Mapisa-Nqakula het Mandela se dokters geprys vir die werk wat hulle tot dusver gedoen het.

Op die vraag of Mandela binnekort ontslaan kan word, het sy gesê: “Dit is vir die dokters om te sê wanneer hulle voel hy is gereed om huis toe te gaan.”

Verskeie kerkleiers het by die hospitaal byeengekom om Mandela geluk te wens op sy verjaardag.

Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het vroeër in ‘n verklaring gesê Mandela se toestand verbeter.

Die voormalige staatshoof is op 8 Junie vir ‘n wederkerende longinfeksie in die hospitaal opgeneem.

Maak 'n opvolg-bydrae