Die regering het in antwoord op ‘n geskrewe vraag van die Vryheidsfront Plus erken dat geld van die pensioenfonds vir staatsdienswerkers wel gebruik gaan word om te belê in die Independent News & Media-groep wie se Suid-Afrikaanse beleggings deur die ANC-georiënteerde konsortium Sekunjalo Independent Media gekoop is.
Dit beteken in effek dat die ANC met staatspensioenfondse invloed gaan kry oor ‘n koerantgroep wat as kragtige ANC-propagandamedium gebruik kan word. Die aandeel wat Sekunjalo van Independent gekoop het, sluit van die land se voorste koerante in, waaronder The Star, Pretoria News, Cape Argus en The Sunday Independent.
Volgens adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies en die media, is dit ‘skrikwekkend’ dat die ANC staatsgeld gaan gebruik om ‘n vastrapplek in die land se hoofstroom-media te verkry. “Daar is egter ook vraagtekens oor die sinvolheid van die tipe belegging in ‘n tyd waarin meeste koerante wêreldwyd se sirkulasiesyfers aan die afneem is. Al die tekens is daar dat hierdie eerder ‘n politiek-geïnspireerde transaksie is ten einde nog ‘n pro-regeringskoerant tot stand te bring benewens die Gupta-beheerde The New Age-koerant,” het Alberts verder gesê.
Alhoewel geen amptelike syfers nog bekend gemaak is nie, lui mediaberigte dat die transaksie sowat R2 miljard gaan beloop.
Uit ‘n voorlegging aan die Mededingingskommissie waaroor ook reeds berig is, blyk dit dat die pensioenfonds deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ‘n belang van sowat 25% in die transaksie sal hê. Die bedrag sal sowat R500 miljoen beloop.
Dit is reeds bekend dat die drie persone aan stuur van sake by Sekunjalo noue bande met die ANC het. Hulle is dr. Iqbal Survé, hoof van die konsortium, die prominente sakeman en ANC-fondswerwer Sandile Zungu en die ANC parlementslid Mandla Mandela, ‘n kleinseun van oud-president Nelson Mandela.
Die ANC was reeds in die spervuur oor sy omstrede befondsing van The New Age-koerant deur middel van staatsadvertensies en borgskappe van staatsbeheerde maatskappye. The New Age word deur die Gupta-familie besit.
Die vrae van adv. Alberts aan die minister van finansies was of die pensioenfonds vir staatsamptenare wel ‘n belegging in die transaksie gaan maak, wie die rolspelers is, wat die bedrag is en wat die terme van die mandaat en strategie van die belegging is.
In antwoord het die minister bevestig dat die OBK die belegging goedgekeur het onderhewig aan die goedkeuring van die Reserwebank en die Mededingingskommissie.
Die ‘finale beleggingsbedrag’ kon nie bekend gemaak word nie aangesien daar nie uitsluitsel is oor die rol van ander moontlike beleggers nie.
Die transaksie was ook ‘in ooreenstemming’ met die pensioenfonds se private beleggingsmandaat wat op winsbejag en breë swart ekonomiese bemagtiging gerig is, lui die antwoord.
