Twee Suid-Afrikaners wat vir die wapenvervaardiger Denel werk is Woensdag in ‘n aanval in Somalië dood, het die maatskappy in ‘n verklaring gesê.
“Ek kan bevestig dat twee van ons werknemers in die aanval op die Verenigde Nasies in Somalië dood is, het ‘n woordvoerder vir Denel, Vuyelwa Qinga, gesê.
Die oorledenes se name is nog nie vrygestel nie
‘n Woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge, Nelson Kgwete, het alle navrae na Denel verwys.
Qinga het gesê sy het tans geen verdere inligting oor die twee Suid-Afrikaners tot haar beskikking nie.
Reuters het berig dat Somalië se ministerie van binnelandse sake bevestig het dat twee Suid-Afrikaners onder die 15 mense is wat in die aanval op die VN-kamp in die hoofstad Mogadisjoe dood is.
Al-Shabaab-rebelle, wat bande met Al-Kaida het, het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.
Dit is die eerste groot aanval op die VN sedert die verskuiwing na Mogadisjoe.
