Die Verenigde State het ‘n misdaadwaarskuwing elk vir Pretoria, Johannesburg, Durban en Kaapstad uitgereik, berig The New Age.
Die Amerikaanse staatsdepartement se buro vir diplomatieke veiligheid het die waarskuwing in ‘n dokument vrygestel.
“Gewelddadige en konfronterende misdaad is ‘n groot bekommernis in Suid-Afrika. Die soort misdade sluit in huisroof, inbrake, kapings, straatrooftogte, grypdiefstal, georganiseerde aanvalle op kommersiële en winkelsentrums, die opblaas van kitsbanke, sowel as aanvalle op transito-voertuie en -werknemers,” lui die verslag.
Die verslag waarsku besoekers dat Suid-Afrikaanse misdadigers nie huiwer om wapens te gebruik nie, en dat informele nedersettings vermy moet word.
“Buitelanders word nie net geteiken nie, maar verskeie was al slagoffers van verkragting.”
Jack Hillmeyer, woordvoerder van die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika, het gesê veiligheid- en sekuriteitsverslae is standaardpraktyk in alle lande waar die Amerikaanse departement van buitelandse sake konsulêre dienste aan sy burgers bied. Volgens hom is dit nie beperk tot Suid-Afrika nie.
“Die meerderheid van Amerikaanse burgers wat na Suid-Afrika reis keer veilig terug.”
Die Amerikaanse president, Barack Obama, sal Pretoria en Kaapstad die einde van die maand besoek.
