Polisievoertuie staan buite die Polokwane-landdroshof, waar Julius Malema en vier ander mense Donderdagoggend verskyn.
Omstreeks 07:15 is twee polisie-njalas en ten minste 10 motors buite die hof opgemerk.
Die vyf verskyn op aanklagte van ondermeer bedrog, geldwassery en rampokkery.
Die hof sal na verwagting Donderdag ‘n verhoordatum vasstel.
Malema en die vier ander beskuldigdes sal in die hooggeregshof verskyn omdat die landdroshof verlede jaar in ‘n brand in puin gelê is.
Hy word daarvan beskuldig dat hy bykans R4 miljoen uit korrupte transaksies gemaak het. Hy is vry op borgtog van R10 000.
Sy sakevennote, Kagisho Dichabe, Lesiba Gwangwa, Helen Moreroa en Makgetsi Manthata, is elk verlede jaar op 25 September borgtog van R40 000 toegestaan.
Die saak hou verband met die toekenning van ‘n tender van R52 miljoen aan die maatskappy On-Point Engineering. Malema se Ratanang Family Trust was ‘n indirekte aandeelhouer in On-Point.
