Sun International wil ‘n R3 miljard “stedelike vermaak bestemming” in Pretoria oprig, deur die sukkelende Morula Casino te hervestig.
Dit is volgens ‘n verklaring wat deur die maatskappy Dinsdag uitgereik is.
Sun International het ‘n “aansoek by die Gauteng Dobbelraad ingedien om sy Morula casino-lisensie te wysig om die casino te verskuif vanaf Mabopane na Menlyn, Tshwane”.
“Die Morula Casino Hotel en het vir ‘n geruime tyd ‘n beduidende afname in inkomste getoon hoofsaaklik as gevolg van die relatief ontoeganklike ligging en die groei van nie-casino dobbel-aktiwiteite in die opvangsgebied,” sê Sun International se Graeme Stephens.
Die ontwikkeling sal deel vorm van die nuwe grootskaalse “Green City”-projek wat tans onder ontwikkeling is en wat bekend staan as Menlyn Maine in die oostelike voorstede van die stad.
Menlyn Maine, sal in sy finale vorm ‘n R8 miljard, 315,000 m2 gebied wees, wat ‘n winkelsentrum, duur residensiële komponent, ‘n kantoorpark en hotelle sal insluit.
Die fasiliteite sal bestaan uit ‘n vyfster-hotel en konferensiesentrum met 100 luukse kamers en suites sowel as ‘n binnenshuise vermaakarena met sitplek vir 8 000 mense vir internasionale en plaaslike vermaak, konserte, sportbyeenkomste en konferensies.
Ander besienswaardighede sluit in ‘n wye verskeidenheid van kleinhandel-winkels, kroeë en restaurante wat besoekers van regoor die provinsie sal lok, met parkering vir 2 785 voertuie.
“Ons marknavorsing het getoon dat daar ‘n duidelike behoefte vir die hotel en konferensieruimte sowel as vermaak in Tshwane is,” het Sun International se voorsitter, Valli Moosa gesê.
Die totale beraamde inkomste aan die regering wat die projek oor ‘n tydperk van vyf jaar sal genereer, word geskat op R2.7-miljard, sê Sun International.
