Stakings nie ‘n probleem nie, sê Zuma

Pretoria – Stakings deur vakbonde kan verwag word in ‘n demokratiese land en moenie as ‘n probleem gesien word nie, het pres. Jacob Zuma Donderdag gesê.

Zuma het aan joernaliste by die Uniegebou in Pretoria gesê dat die regering kies nie kant tussen die mededingende vakbonde – National Union of Mineworkers and Association of Mineworkers en Construction Union (Amcu) – in die mynsektor nie.

“Ons kies glad nie kant nie. Daar is elemente wat poog om die mynboubedryf uit te beeld asof daar groot probleme in die mynbousektor bestaan.

“Stakings is in ‘n demokratiese land normaal. Dit is slegs in ondemokratiese lande waar daar geen stakings is nie,” het hy gesê.

“Ek dink nie ons moet stakings as ‘n probleem sien nie, want werkers in ‘n demokratiese land word deur die grondwet toegelaat om te staak.”

Zuma het gesê die feit dat Cosatu in ‘n alliansie met die ANC verkeer, beteken nie dat die regering sal versuim om dinge “regverdig” te hanteer nie. – Sapa

Maak 'n opvolg-bydrae