Adjunkpresident Kgalema Motlanthe vergader vandag in Pretoria met belangrike rolspelers in die mynbedryf.
Die Presidensie sê die vergadering is deel van die pogings om die bedryf te stabiliseer en ‘n volhoubare oplossing vir die probleme te kry.
Die National Union of Mineworkers, die vakbond AMCU, Solidariteit, NACTU, Cosatu, die Kamer van Mynwese en die Suid-Afrikaanse Mynontwikkelingsvereniging sal dit na verwagting bywoon.
Die spanning tussen die NUM en AMCU in die platinumsektor het vererger, wat gelei het tot geweld en stakings. AMCU het intussen ‘n beplande staking by Lonmin se platinummyne in Noordwes uitgestel.
Die vakbond sê die besluit hang af van ‘n positiewe uitslag van die vergadering met Motlanthe.
AMCU wil as die meerderheidsvakbond by die maatskappy se myne erken word. AMCU sê in ‘n verklaring hulle wil die adjunk-president die geleentheid gee om ‘n deurbraak te bewerkstellig.
