China waarsku Obama oor Taiwan en Tibet

China het die VSA gewaar­sku om by beloftes te bly om nie separatistiese aktiwiteite te steun nie, het Reuters berig.

Dit kom op die vooraand van Taiwan se nuwe president se besoek aan Amerika en ‘n moontlike ontmoeting tussen die Dalai Lama en pres. Barack Obama.

Die selfregerende demokratiese eiland, Taiwan, en die afgeleë bergagtige streek van Tibet is twee van China se mees sensitiewe politieke en diplomatieke kwessies.

‘n Woordvoerder van China se ministerie van buitelandse sake, Lu Kang, sê albei kwessies raak die een China-beleid.

Taiwan se president, Tsai Ing-wen, sal deur Miami reis onderweg na Panama, een van die eiland se min diplomatieke bondgenote, vir ‘n seremonie om die Panamakanaal te vergroot.

Oor die Dalai Lama, wat Beijing as ‘n gevaarlike afstigter beskou, sê China Amerika moet Tibet as ‘n onafskeidbare deel van China erken.

Hongersnood dreig om die Tsjadmeer

Die Dalori-kamp naby Maiduguri in die noordooste van Nigerië is opgerig vir mense wat deur Boko Haram haweloos gelaat is.

Die prys van ‘n koppie rys het al byna verdubbel en etniese geweld dreig in Nigerië waar inwoners kla dat hulle deur Fulani-groepe met AK-47’s bedreig word wat hele statte afbrand en mense verjaag.

Minstens tien mense sterf elke dag van hongersnood in die kamp.

Intussen word die staat daarvan beskuldig dat hulle noodvoorrade steel om op die ope mark te gaan verkoop terwyl die kamp se mense van honger omkom.

Nigerië se ekonomie het ‘n knou gekry met die dalende ru-oliepryse.

Dit beklemtoon die groeiende voedselkrisis in die noordooste van Nigerië en die Tsjadmeer-gebied.

Die Verenigde Nasies het reeds in Mei aangedui dat 9,2 miljoen mense wat om die meer woon en die grens tussen Nigerië, Tsjad , Kameroen en Niger vorm, ‘n groot behoefte aan kos ondervind.

Obama wil Moslems se gevoelens spaar

Hoe President Obama reageer op geweld wat met Islam te make het, word duidelik bepaal deur ‘n spesifieke stel reëls.

In sy jongste aanval op Donald Trump na die massaslagting deur ‘n ISIS-terroris in Orlando, Florida, het die Amerikaanse president weer erg kleigetrap.

Trump het Obama se versuim om radikale Islamiste te kritiseer, ten sterkste afgekeur en gesê die president behoort te bedank.

Obama het op sy beurt die debat rondom radikale Islam “politieke afleiding” genoem.

Die president was eerder bekommerd dat Moslems se gevoelens gespaar moet bly.

Hy het gesê oproepe vir strenger beheer en ‘n verbod op Moslemimmigrasie sal Moslem-Amerikaners “verraai deur hul regering laat voel”.

Obama het aan verslaggewers gesê ná ‘n ontmoeting met die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsraad ‘n aanval deur groepe soos “Isil” (beter bekend as ISIS) “sal nie verhoed word deur die gebruik van ‘n etiket nie” en bygevoeg dat Islam “niks te doen het met die aanval nie”.

“Oproepe om ‘n bedreiging ‘n ander naam te gee, sal nie maak dat dit nie weggaan nie. Dit is ‘n politieke afleiding.”

Net daarna het hy homself liederlik weerspreek en gesê die idee dat die administrasie verward is oor die vyand, is vals want hulle voer ‘n oorlog teen “Isil” in Sirië, Irak en Libië “wat stadig gewen word”.

Die oorlog teen ISIS word tans eerder deur sy administrasie se aartsvyand, president Assad van Sirië mbv Rusland gewen.

Berigte van Amerikaanse betrokkenheid om ISIS se hand te sterk dmv hul NAVO-bondgenoot Turkye het vroeër die nuus gehaal, terwyl Obama herhaaldelik oproepe gedoen het dat “Assad moet gaan”.

Obama het Islam weer verdedig soos hy nog nooit enige ander godsdiens verdedig het nie. Soos gewoonlik het hy die swartsmeerdery, aanvalle, moorde en massamoorde op Christene geïgnoreer.

Die swart president het ook voorheen geen woord van simpatie gehad vir Colleen Hufford wat die slagoffer van ‘n wrede jihadistiese aanval was nadat ‘n toegewyde swart Moslem haar kop afgesny het nie.

In die linkse media is Hufford voorgehou as iemand wat dalk “rassisties” kon gewees het, maar sonder enige getuienis van sulke optrede. Haar beweerde “rassisme” is gebruik om die Moslem se moord te regverdig.

Obama blameer gereeld alle wit mense vir slegte dinge wat gebeur het, tans gebeur, en kan gebeur met swart mense.

Hy het trouens sy aanval op Trump afgesluit deur te sê mense wat Moslems “terroriste” noem, bevorder eintlik terreur.

Obama het in sy reaksie gesê Omar Mateen se massamoord in Orlando was ook ‘n “haatmisdaad” en “uit eie bodem, uitgevoer deur ’n moordenaar wat wapens wettig gekoop het”.

Die ander bestanddele van die Obama-resep is om alle rykes te demoniseer tensy die rykes Demokratiese Party ondersteuners is.

Trump het Obama se reaksie op die Orlando-skietery as te bangbroekig beskryf en Hillary Clinton betig omdat sy haar nie sterker teen terreur kan uitspreek nie, en bygevoeg dat sy nie aan die presidentsverkiesing behoort deel te neem nie.

“Pres. Obama het skandelik geweier om selfs die woorde ‘radikale Islam’ te gebruik.

“Om daardie rede alleen behoort hy sy amp neer te lê. As Hillary Clinton ná hierdie aanval nie die twee woorde ‘radikale Islam’ kan sê nie, moet sy uit die presidentsverkiesing tree,” het Trump in ’n verklaring gesê.

Trump het kort ná die skietery getwiet hy wil nie “gelukgewens word” omdat hy reg was oor radikale Islamitiese terreur nie; hy wil “taaiheid en waaksaamheid hê”.

Merkel bring haar negende besoek aan China

Die Duitse kanselier Angela Merkel het vandeesweek haar negende besoek aan China gebring, saam met ‘n groot afvaardiging van senior amptenare en entrepreneurs.

As onderskeidelik die tweede en vierde grootste ekonomieë ter wêreld, is China en Duitsland die groei-enjins vir Asië en Europa.

Duitsland bly steeds die ekonomiese hoop vir Europa. Danksy sy vaste industriële basis en tegnologiese spierkrag, is groei stabiel. As die grootste opkomende ekonomie, het China dus baie om te leer van Europa se reus.

Alhoewel hulle is geleë op twee uiterstes van Eurasië, het die twee lande ‘n noue en ‘n hoë-vlak strategiese en ekonomiese vennootskap wat hulle met mekaar handhaaf.

Duitsland is die land wat die meeste deur China se ekonomiese groeipotensiaal bevoordeel word. Die uitvoer van Duitsland na China het verdubbel in die afgelope dekade, en die bilaterale handelsvolume tussen die twee het verlede jaar meer as €160 miljard bereik.

Duitsland is ook die Europese land wat die meeste belê en die meeste tegnologie aan China oordra. Hoewel die groot verskille in nasionale toestande en ekonomiese grondbeginsels bly, is dit steeds ‘n voordelige verhouding.

Die twee lande het tydens die besoek ‘n konsensus bereik oor sake van strategiese belang en het ingestem om samewerking in finansies, motorproduksie, inligtingstegnologie en vliegtuie te versterk, ten einde die implementering van hul onderskeie industriële ontwikkelingsprogramme beter te koördineer, naamlik China Vervaardiging 2025 en Duitsland se Industrialisasieplan 4.0.

Duitsland moet sekere verpligtinge nakom, soos bepaal deur artikel 15 van die protokol oor die toetrede van China tot die Wêreld Handelsorganisasie, maar het tog kommer uitgespreek oor marktoegang en verbintenis tot regsbeginsels in Asië se sterkste moondheid.

Duitsland het sy steun toegesê aan China se aanbieding van die G20-beraad vanjaar in Hangzhou, terwyl die twee daadwerklike stappe sal neem om die G20-lande aan te moedig om groei te stimuleer, koördinasie in makro-ekonomiese beleid te versterk, stabiliteit van die globale mark in stand te hou, asook om die 2030-agenda vir volhoubare ontwikkeling en handel en belegging te fasiliteer.

China steun ook Duitsland se aanbieding van die G20-vergadering aanstaande jaar.

Een van die vernaamste redes vir China se volgehoue belangstelling, is Duitsland se ontwikkelde kommersiële bankstelsel en toekomsgerigte finansiële sektor.

Die klem op die strategiese status van die vervaardigingsbedryf, verhoging van insette in tegnologiese innovasie en bestendigheid, is volgens die Chinese besonder navolgingswaardig. Maar hoë arbeidskoste en die vermindering van winsverhouding in ondernemings bly ‘n kopseer wat deur Merkel se onbesonne immigrasiebeleid tot maatskaplike probleme kan lei.

Duitsland is meer koöperatief en toekomsgerig as die Verenigde State en Japan – ‘n mededinger – teenoor China, alhoewel die VSA een van die drie belangrike ankers vir die wêreld se ekonomie bly.

China beskik voorts oor die vermoë om sy strategiese ekonomiese vennootskap met Duitsland te konsolideer omdat hulle dieselfde landmassa deel, anders as wat die geval met Noord-Amerika is.

Die eerste vragtrein uit die Oos-Chinese stad Zhengzou het in 2013 in Hamburg, Duitsland aangekom.

Die trein het meer as 10 000 kilometer in net 15 dae afgelê, minder as helfte van die normale reistyd per see.

Swaar vrag wat nie vervoer kan word per vliegtuig nie, soos motoronderdele en elektroniese goedere, baat in die besonder daarby.

ISIS-aanvaller dood senior polisiebeampte in Parys

‘n Senior Franse polisiebevelvoerder is buite sy huis doodgesteek asook sy metgesel, ‘n polisievrou, in ‘n aanval deur die Islamitiese staat.

Die Franse regering het dit as ‘n “volslae daad van terrorisme” beskryf.

Die aanvaller, ‘n 25-jarige man van Marokkaanse afkoms, is tronk toe gestuur in 2013 vir hulp aan Islamitiese militante om na Pakistan te reis en was onder toesig van die intelligensiedienste.

Ten tyde van die aanval, het die polisie selfs meeluisteringstoerusting teen hom ontplooi, het polisiebronne gesê.

Die aanvaller het deel van die aanval verfilm en op Facebook uitgesaai, volgens David Thomson, ‘n joernalis wat in radikale Islamiete spesialiseer.

In sy Facebookboodskap, het die terroris die aanval aan die Euro 2016-sokkertoernooi gekoppel wat tans aan die gang is in Frankryk en gesê: “Die Euro sal ‘n begraafplaas wees.”

Die aanvaller, Larossi Abballa, het die 42-jarige bevelvoerder herhaaldelik in die maag gesteek Maandagaand.

Hy het toe homself binne-in die huis in Magnanville toegesluit, ‘n voorstad sowat 60km wes van Parys, en die man se 36-jarige metgesel en hul drie-jaar-oue seun as gyselaars aangehou.

Die vrou, ‘n sekretaresse by ‘n polisiestasie in ‘n nabygeleë woonbuurt, is vermoor met ‘n mes, het ‘n bron na aan die ondersoek gesê voordat hy deur ‘n spesiale polisie-eenheid doodgeskiet is.

Op een stadium het die terroris die na die klein seuntjie agter hom op die rusbank beduie tydens die verfilming en gesê hy weet nie wat hy met hom gaan doen nie.

Die polisie het op die liggaam van die vrou afgekom, maar die jong seun is gered.

Die seun was ongedeerd, maar in ‘n toestand van skok.

Die Islamitiese Staat het op hul webwerf vroeër bevestig dat die aanval deur ‘n ISIS-terroris uitgevoer is.

Euro2016: Britse sokkergespuis bots met Russe

Internasionale sokker is besig om in ‘n openlike rassestryd te ontaard met Britse multi-kulti-ondersteuners wat wit sokkerlande se toeskouers aanval.

Die Franse regering het ‘n beroep gedoen op stede waar Euro 2016-sokkerwedstryde plaasvind, om alkohol naby stadions en ondersteuner-sones te verbied om dronk twisgierige Britse sokkergeestdriftiges uit straatgevegte te probeer hou.

Dit volg na drie dae van skermutselinge tussen Engelse, Russiese en Franse ondersteuners en die polisie in die stad Marseille, waarin 35 mense beseer is.

Volgens The Guardian veg een Brits steeds om sy lewe nadat hy aangeval is.

Die Europese beheerliggaam UEFA ondersoek ‘n voorval waar ondersteuners van die Russiese sokkerspan glo “Britse sokkerhemde” gedra het, maar die klag lyk nie geloofwaardig nie.

Engelse ondersteuers het na bewering by die Marseille-stadion die Russe begin tart, nadat die twee spanne se kragmeting gelykop geëindig het.

Luidens ‘n berig van die Australiese uitsaaier ABC was die Russe “verregse Nazi’s”.

UEFA dreig om albei spanne uit die toernooi te skop indien daar verdere geweld tussen ondersteuners is.

Na aanleiding van die geweldstonele in Marseille Saterdag, het FIFA in ‘n sterk bewoorde verklaring teen diegene wat betrokke is uitgereik.

Fakkels en vuurwerke is deur die Britse ondersteuners op die Russe gerig laat in die tweede helfte voor die situasie handuit geruk het en in straatskermutselinge ontaard het.

Met die eindfluitjie het honderde Russiese aanhangers deur ‘n wankelrige sekuriteitskordon gebreek om hul Engelse eweknieë soos vlakhase op die vlug te laat slaan nadat die Britte gedink het hulle sal betyds die uitgange haal as hulle die Russe aanhou treiter.

Dit was helaas toe te laat vir talle Engelse moeilikheidmakers wat nou kla dat die Russe “voorbereid” was. Maar van die Franse toeskouers sê die Russe was bloot net slimmer en meer gedissiplineerd as die besope Engelse sokkergespuis.

Vroeër op Sondag, het UEFA nietemin aangekondig dat dissiplinêre stappe teen die Rusland sokkerbond geneem sal word, en FIFA beskryf die tonele as “geheel en al onaanvaarbaar”.

Maar die toernooi word deur nog meer geweld gekenmerk.

Intussen het Duitsland en die Oekraïne se ondersteuners ook gebots in die strate van Lille voor hul Euro 2016 konfrontasie.

Videomateriaal toon botsings tussen ondersteuners voor die wedstryd in die tweede Groep C na ‘n oorwinning van Pole se span oor Noord-Ierland.

Franse owerhede sê twee mense is beseer in die botsings.

Libmedia slaan vure dood ná groteske Moslemmassamoord in Orlando

Die wêreld se liberale media is besig om angstig vure dood te slaan ná die groteske massamoord deur Omar Mateen op meer as 50 mans in ‘n homoseksuele kroeg in Orlando, Florida in die VSA. Mateen, wat self in die skietery deur polisie omgebring is, was ‘n uitgesproke Moslem wat reeds jare lank dreig om homoseksuele te gaan skiet. Blykbaar het hy onlangs saam met sy vrou en kind twee mans gesien wat mekaar in die openbaar soen, wat sy woede verhoog het.

Hoewel van Afghaanse oosprong, was Mateen ‘n Amerikaanse burger.

Die massamoord het wêreldwye afgryse, asook ‘n anti-Islamsentiment veroorsaak en gaan waarskynlik die kandidatuur van mnr. Donald Trump vir die Amerikaanse presidentskap bevoordeel. Die groot liberale media soos die New York Times en die Londense Guardian is daarom besig om vure dood te slaan deur die skietery op “die beskikbaarheid van wapens in Amerika” te blameer. In sy reaksie het die Amerikaanse president, Barack Obama, ook nie na die Moslemgeloof van die aanvaller verwys nie en bloot gesê dat “die owerheid nog nie tot ‘n definitiewe oordeel geraak het sover dit die skieter se motivering betref nie”, maar dat die FBI dit as ‘n terreurdaad sou ondersoek.

Die homoklub Pulse in Orlando, Florida
Die homoklub Pulse in Orlando, Florida

Obama het ook gesê dat die VSA “nie aan vrees moet toegee nie” en bygevoeg: “Dis helder dat hy iemand was wat met haat gevul was. Oor die komende dae sal ons uitpluis hoe en waarom dit gebeur het. Dit kon in enige van ons gemeenskappe gebeur het. As ‘n land, sal ons daar wees vir Orlando, vandag, môre en vir al die dae wat nog moet kom.”

Die Londense Guardian weier om die skietery op homo’s as ‘n daad te sien wat deur Islam gemotiveer is en blameer daarom die “maklike toegang tot wapens”. Die koerant sê in ‘n hoofartikel:

“Die aaklige waarheid is dat die Amerikaanse samelewing kwesbaar vir sulke aanvalle is op ‘n manier waarop ander (samelewings) nie is nie, vanweë sy geloof dat vryheid maklike, wye toegang tot dodelike wapens vereis. Terwyl dit waar is dat wapens nie mense doodmaak nie, soos die slagspreuk lui, maak mense met wapens wel mense dood, en hulle doen dit baie vinniger en meer doeltreffend as wat mense sonder wapens kan uitrig.”

Intussen het dit ook aan die lig gekom dat, selfs al sou daar geen toegang tot wapens in die VSA wees nie, Mateen wel wapens sou gehad het omdat hy vir die Britse veiligheidsmaatskappy G4S gewerk het. As gevolg van sy werk, het hy in elk geval toegang tot opleiding en wapens gehad.

Die voorval word as die ergste massaskietery in die Amerikaanse geskiedenis beskou, aangesien 50 dood en 53 gewond is toe Mateen op klante by die homoseksuele nagklub Pulse in die middestad van Orlando losgebrand het. Volgens die owerheid het hy Sondagoggend rondom 2-uur Amerikaanse tyd op die klub afgestorm en begin vuur. Hy is later deur ‘n polisietaakmagspan op die toneel doodgeskiet.

Volgens die TV-netwerk NBC News, het Mateen oomblikke voor hy begin skiet het, die noodnommer 911 geskakel en sy trou aan die leier van die Islamitiese Staat bely. Volgens mnr. Adam Schiff (D-Kalif.) in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers en lid van die Huis-inligtingskomitee, is hy ook in ‘n verslag vertel dat die skieter “sy verbintenis met ISIS verklaar het”.

Dit blyk ook dat Mateen reeds verskeie kere op die radarskerm van die Amerikaanse veiligheidsdienste beland het weens sy radikale Islamitiese uitsprake op sosiale media, maar dat dit nie belangrik genoeg geag is nie.

 

Aanval in Tel Aviv eis vier

Na Woensdagaand se dodelike aanval in Tel Aviv, het die Israeliese weermag Palestynse toegangspermitte na Israel opgeskort.

Die Israelse polisie het gesê twee gewapende mans was vir die klaarblyklike terreuraanval ­verantwoordelik.

Vier mense is ­Woensdagaand dood en talle gewond in ‘n skiet­voorval naby Tel Aviv se gewilde Sarona-mark naby die Israeliese verdedigingshoofkwartier.

Behalwe die twee mans en twee vroue wat omgekom het, is minstens nege mense beseer.

Beide aanvallers is deur wetstoepassers geskiet en daarna ontwapen. Een van die aanvallers het glo van die toneel gevlug.

In reaksie op die aanval het die Israeliese weermag intussen permitte vir meer as 80 000 Palestyne opgeskort wat vir Ramadan sou deurrreis om die Al-Aksa-moskee te besoek.

Die Moskee is in die hart van die ou stad van ­Jerusalem en het in die verlede tot spanning tussen Israel en die Palestyne gelei.

Niemand het nog verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.

Die aanvallers was geklee in pakke met dasse en het hulle as kliënte van die restaurant ­voorgedoen voordat hulle met outomatiese aanvalswapens op die gaste losgebrand het.

Irakse magte dring Fallujah binne

Irakse elite teenterreur-magte het Woensdag dieper in die stad Fallujah, wat onder beheer van die Islamitiese Staat (ISIS) is, inbeweeg, net meer as twee weke nadat die offensief begin het om die stad te herower.

Die stad het simboliese betekenis vir die militante groep en was vir ‘n geruime tyd ‘n vesting van militante wat, sedert die 2003 Amerikaans-geleide inval in Irak, teen die besetting gekant is.

Nadat hulle Sondag die suidelike rand van die stad binnegedring het, het Irakse magte Woensdagoggend die woonbuurt Shuhada binnegegaan, het AP berig.

Volgens genl.maj. Hadi Zayid Kassar, adjunkbevelvoerder van die teenterreur-magte in Fallujah, het artillerievuur en vuurpyl-aanvalle die weg gebaan sodat die eerste kolom swart Humvees in Shuhada, in die suide van Fallujah, kon inbeweeg.

Fallujah is een van die laaste ISIS-vestings in Irak. Die militante Soenni-groep beheer reeds die afgelope twee jaar die stad, wat 65 kilometer wes van Bagdad geleë is.

Irakse magte het reeds sterk teenstand in die stryd om Fallujah teëgekom. Uitgebreide tonnels, goed opgeleide sluipskutters en bomme langs die pad wat deur ISIS geplant is, het die aanvanklike aanslag op die stad belemmer.

Ná ‘n blitzkrieg regoor die land in die somer van 2014, word die gebied nou stadig van die ISIS-militante gesuiwer.

Die operasie om Fallujah te herwin, is glo een van die moeilikstes nog, maar ISIS is reeds op die agtervoet in Libië sowel as Sirië waar Koerdiese magte op die punt staan om Raqqa te herower.

Clinton raap nominasie weg voor Bernie

Hillary Clinton het die Demokratiese presidensiële nominasie voor Bernie Sanders weggeraap.

Bernie het ‘n emosionele skare in Kalifornië toegespreek na stembusse gesluit het, en gesê die stryd sal voortgaan om ‘n regering te skep wat werk vir almal, nie net 1 persent nie.

Die voormalige eerste dame en minister van buitelandse sake het haar oorwinning in die benoeming oor Sanders saam met ondersteuners in Brooklyn, NY gevier. Met sowat ‘n derde van die stemme getel in Kalifornië, het Clinton ‘n 20 persentasiepunt voorsprong bo Sanders, berig Reuters.

Sanders het belowe om volgende Dinsdag “die stryd in die laaste primêre verkiesing” voort te sit. Sanders kan sy jonger ondersteuners uiteindelik na die Clinton-veldtog oorwen, maar die Joodse sosialis spreek nie tot meer gematigde kiesers nie.

‘n Clinton-Sanders-span, met Bernie as vise-president, sal help om die twee faksies te verenig binne die Demokratiese Party wat tans onvermoeid meeding en Sanders se ondersteuners by Hillary s’n voeg.

Duisende van Bernie Sanders se ondersteuners by die saamtrek in Santa Monica, Kalifornië, het hom ná die konfrontasie met Clinton by stembusse in die Gouestaat toegejuig.

“Demokrasie is nie oor miljardêrs wat verkiesings koop nie … ons sal ‘n gebroke kriminele regstelsel beëindig. En ons sal die groot banke op Wallstraat breek,” het die senator gesê, onder luide applous wat losgebars het.

“Ons sal werklike hervorming van immigrasie en ‘n pad na burgerskap bring. En ons sal die miljardêrklas en korporatiewe Amerika dwing om hul regmatige deel van belasting te betaal,” het hy bygevoeg.

“Ons sal nie toelaat dat regse Republikeine ons regering beheer nie. En dit is veral waar met Donald Trump as die Republikeinse kandidaat. Die Amerikaanse volk na my mening sal nooit ‘n kandidaat steun wie se groot tema dwepery is nie, wat Meksikane en Moslems beledig, en vroue, en Afro-Amerikaners,” het Sanders verklaar.