Union Jack in Basra gestryk
LONDEN – Britse soldate het Sondag begin om hul laaste basis in die suidelike Irakese stad Basra te verlaat, waarmee die weg voorberei is vir verdere troepeverminderings. Kommer oor die veiligheid van die land se tweede grootste stad en die omliggende streek het egter ook toegeneem.
V.S. en Irakese owerhede het hul kommer uitgespreek dat ’n breër Britse terugtrekking die streek se ryk oliebronne, asook die voorradelinie van Koewait na Bagdad en verder, in gevaar kon stel. Sommige ontleders vrees ook dat die Britse onttrekking ’n gewelddadige stryd tussen mededingende Sjiïtiese groepe in die sekte se suidelike hinterland kan vererger.
Ongeveer 550 soldate is besig om die Basrapaleis in die middestad, een van afgesette president Saddam Hoessein se voormalige vestings, te verlaat, om aan te sluit by 5 000 ander personeellede by ’n lugmagbasis 11 kilometer vanaf die buitewyke van die stad. Verdedigingsamptenare sê die onttrekking verloop glad maar kan etlike dae neem om te voltooi.
Die Irakese leër het honderde versterkings na die stad gestuur om Sjiïtiese milisies en misdaadbendes te verhoed om hul invloed uit te brei as die Britte eers weg is.
Die voormalige Britse eerste minister, Tony Blair, het die aantal Britse troepe in Irak van 7 000 tot 5 500 verminder in Februarie en het die keuse oopgelaat om nog 500 te onttrek sodra Basrapaleis aan die Irakiërs terugbesorg sou word.
Die huidige eerste minister, Gordon Brown, is veronderstel om toekomstige strategie vir die Britse operasies in Irak aanstaande maand in ’n toespraak aan die parlement uit te stippel.
Die Britse verdedigingsministerie het gesê dat magte wat vanaf Basra-lugmagbasis opereer “veiligheidsverantwoordelikheid vir Basra sal behou totdat ons dit aan die provinsiale Irakese beheer oorhandig, wat waarskynlik in die herfs sal plaasvind”.
Basrapaleis het Britse soldate en diplomatieke personeel gehuisves ná die V.S.-geleide inval in 2003 en verkeer oor die afgelope maande onder daaglikse mortier- en vuurpylaanvalle.
“Dis ’n besonder verstandige militêre besluit,” het ’n verteenwoordiger van die Konserwatiewe opposisie, Patrick Mercer, gesê. “Dit sal ons toelaat om meer troepe van Irak in die herfs te onttrek, op dieselfde tydstip as wat Brittanje haar hoeveelheid troepe in Afghanistan vermeerder.”
In Basra het majoor Mike Shearer, Brittanje se militêre skakelbeampte, aan verslaggewers gesê: “Ek kan bevestig dat ’n operasie tans plaasvind, maar gaan geen verdere besonderhede verskaf nie.”
Amerikaanse amptenare het kwellinge uitgespreek oor die gedagte van Britse troepe wat die stad verlaat en dit aan die invloed van Sjiïtiese godsdienspartye en gewapende groepe sou oorlaat, waarvan sommige bande met Iran handhaaf, ná die verkiesing in Januarie 2005 wat eerste minister Noeri al-Maliki aan die mag gestel het.
Die polisiemag is swaar geïnfiltreer deur die gewapende groepe. Politieke mededingers, drankhandelaars, DVD-winkeleienaars en enigeen wat verskillende groepe se interpretasies van Islam oortree, is onderhewig aan sluipmoorde deur moordbendes.
Die afgetrede V.S.-generaal Jack Keane, wat stafhoof was toe die Irakoorlog begin het, het verlede week in ’n onderhoud gesê dat Brittanje nooit genoeg troepe ontplooi het om die streek te stabiliseer nie en ’n slegte veiligheidsituasie laat vererger het.
“Dit was nog altyd ons voorneme om troepe in Basra te verminder soos wat die Irakese weermag en polisie se gereed raak om veiligheidspligte oor te neem,” het ’n segsman vir Brown se Downingstraatkantoor gesê, op voorwaarde dat hy anoniem bly.
Die International Crisis Group, ’n dinkskrum wat in Brussel gesetel is, het in hul Junieverslag gesê dat onbeheerde gewapende groepe besig was om Basra te destabiliseer en dat die plaaslike bevolking glo dat Britse magte verdryf is.
“Onophoudelike aanvalle op Britse magte het hulle trouens van die strate af en na toenemend afgeleë vestings verdryf,” lui die verslag. “Die inwoners van Basra en lede van gewapende groepe sien dit nie as ’n geordende onttrekking nie, maar as ’n oneerbare neerlaag.”
Met bykomende Irakese soldate in die strate, sê inwoners dat toestande oor die afgelope weke stiller geraak het.
Maar verlede week het die hoof van die Basra-stadsraad se veiligheidskomitee, Hakim al-Mijahi, “’n mate van wanorde” ná die Britse onttrekking van die stad voorspel omdat hy vrees dat Irakese magte nie in staat is om wet en orde te handhaaf nie.
games casinoФильчаков прокурор