Uraan is aan die begin van Augustus deur die Australiese mynmaatskappy, Murchison United, sowat 600 km oos van die hoofstad Conakry ontdek. Volgens ’n regeringsegsman stel Guinee nie net belang in kernkrag nie, maar sal die land ook uraan wil aanwend vir landbou-, medisyne- en nywerheidsdoeleindes.
Uraanpryse het oor die afgelope twee jaar viervoudig toegeneem. Al meer lande wend hulle naamlik na kernkrag te midde van toenemende besorgdheid oor die gevare wat besoedeling vir die omgewing inhou.
Lansana Conte, ’n kettingroker wat Guinee al sedert 1984 regeer, toe hy tydens ’n militêre staatsgreep aan bewind gekom het, het ook ontginningspermitte vir uraan aan twee ander maatskappye, Nova Energy en Contico, toegestaan. Die mineraalryke land het vroeër vanjaar gewelddadige betogings teen die huidige regering beleef. Sowat ’n derde van die wêreld se bouksiet (wat in aluminium gebruik word) word hier aangetref.
’n Hele paar Afrikalande het die afgelope tyd belangstelling getoon in kernkrag as ’n oplossing vir hul kragprobleme. In Junie vanjaar het president Museweni van Oeganda (waar uraan ook onlangs ontdek is) by die G8-byeenkoms klem gelê op die belangrikheid van kernkrag. Suid-Afrika is egter tans die enigste Afrikaland suid van die Sahara waar kernkrag geproduseer word. Op die oomblik maak kernkrag 6% uit van die land se totale kragopwekking en daar word beplan om dit na 15% te verhoog.
In Noord-Afrika het Algerië onlangs ’n kernsamewerkingsooreenkoms met die VSA onderteken. Libië het verlede maand ’n soortgelyke ooreenkoms met Frankryk aangegaan. Abdoulaye Wade van Senegal het op sy beurt aangekondig dat hy voor die einde van sy ampstermyn ’n kernreaktor wil laat bou.
Afrika was sowat 30 jaar gelede die wêreld se belangrikste uitvoerder van uraan. Tans is die vasteland maar vir 20% van totale produksie verantwoordelik. Australië is nou die belangrikste uraanproduseerder ter wêreld.
