Dit is daarop gemik om voedselsekuriteit in Senegal te bevorder omdat weersomstandighede in die land nie altyd geskik is vir landbou nie. Senegal se ekonomie bestaan hoofsaaklik uit landbou en voedsel moet ingevoer word om aan die aanvraag te voldoen.
Reën word gemaak deur wolke mbv vliegtuie in die lug of generators op die grond te "bombardeer". ‘n Radar in die noorde by Linguère "wat feitlik die hele land dek met ‘n reikafstand van 480km" volgens Diop, bepaal die chemiese en fisiese eienskappe van wolke, hul ewolusie en die hoeveelheid water.
Die reënmakerprogram, wat deur 8 van die 11 lande in die streek van stapel gestuur is, het 23 operasies tussen Julie en Augustus onderneem teenoor die 35 in dieselfde tyd verlede jaar. Die sones in die noordelike dele wat baat by geïnduseerde reën se reënvalsyfers is bogemiddeld terwyl droogte die suide teister.
"Ons dink bogemiddelde reënval in die noorde en die sentrum is verwant aan operasies in dié gebied," verseker Diop sy gehoor. Volgens kenners is dit nietemin nie so voorspelbaar nie, want dit is nooit heeltemal seker of dit wel na afloop van ‘n operasie sal reën nie.
Vir die sekretaris-generaal van die Nasionale Raad vir Landelike Oorlegpleging (CNCR), Baba Ngom, is reënmakery nie "realisties" nie en wil hy niks daarmee te make hê nie. Watervore is volgens hom die antwoord en moet ‘n mens "die Senegalrivier aanwend want miljoene kubieke meter water vloei jaarliks in die see weg."
Senegal het reeds in die sestigerjare met reënmakery geëksperimenteer sonder sukses. Ten spyte daarvan glo weerkundige direkteur Matra Ndiaye, dat die werklike impak van die nuwe eksperiment wat in 2005 begin is, eers in 2010 gemeet sal kan word.
Hy het egter toegegee dat die VSA, Israel, Frankryk en Spanje al enorme bedrae op reënmakery bestee het sonder dat dit veel opgelewer het en "sonder dat die nut daarvan bewys is."
"Die grootste uitdaging is om die impak wat verkry kan word deur wolke te teiken te begryp. Sou die wolke sonder ingryping dieselfde resultate gelewer het?" wonder Ndiaye hardop.
