Maar blykbaar het die Franse regering besluit om die Libiese leier, wat tot onlangs as ʼn internasionale terrorismestoker beskou is, met die volle eer vir ʼn besoekene staatshoof te ontvang. Die rooi tapyt is vir hom uitgerol en die Franse Republikeinse wag het hom voor die parlementsgebou, die Assemblée Nationale, gesalueer. Persoonlik beskou Kadhafi verkiesings as ʼn “klug” en steur hy hom nie aan kritiek dat daar nooit in Libië verkiesings gehou word nie.
Ook tydens sy ontvangs by die Elysée-paleis is hy met dieselfde oordadige eerbetoon ontvang, nadat hy in in ʼn lang, slap, wit kar opgedaag het. Moontlik het Kadhafi teruggedink aan die vorige keer toe hy so in Frankryk ontvang is, deur president Georges Pompidou in 1973. Die jong revolusionêr was toe net 31 jaar oud en het nie eens moeite gedoen om vir die geleentheid aan te trek nie, met net ʼn eenvoudige rooi polotrui, iets wat destyds ʼn sensasie ontketen het.
Vyf-en-dertig jaar later is sy silhoeët geyk, sy gebare stadiger, sy gesig uitdrukkingloos. Die ritueel van die vuis in die lug om die aanwesiges te groet is steeds daar maar het ietwat meganies geraak.
Tussen twee amptelike afsprake, tref mens Moeammar Kadhafi in ʼn okerkleurige “abaja” (toga) met ʼn “kebboes” (fes) op sy kop aan, of in sobere pak klere aan in sy tent wat in die tuin van die hôtel Marigny opgeslaan is. Hier in die tent en nie in die gebou agter hom nie, word sy besoekers ontvang.
“Hy slaap nie daar nie, maar kuier daar saam met sy gaste as ʼn teken van erkentlikheid aan sy Bidoeiëneoorsprong,” verduidelik ʼn lid van sy afvaardiging. Kadhafi besit verskeie sulke tente wat elkeen omtrent 200 m2 groot is en met Libiese motiewe en tapyte versier is. Op elkeen van sy reise of staatsbesoeke neem hy een van hulle saam.
Bidoeïenedanseresse het Maandag ʼn vertoning in die tent gelewer. Kadhafi is ʼn groot voorstander van sy land se kunsvorme en skryf self kortverhale en gedigte oor die liefde of met ʼn nasionalistiese inslag.
Gerugte wil hê dat hy ʼn karige dieet volg, bestaande uit kameelmelk en dadels. Tydens die staatsbanket Maandagaand in die Elysée, is koeskoes en groente, sy gunstelingdis, tesame met lamsvleis en sjokeladekoek, bedien.
Parys het so te sê tot stilstand gekom met skerpskutters op die dakke, alles deel van die buitengewone veiligheidsmaatreëls wat getref is om sy indrukwekkende stoet van honderd voertuie te ontvang.
Kadhafi vertrou net sy persoonlike lyfwagte en sy handvol “amasones” om hom te beskerm. Die “amasones”, vroulike lyfwagte in kamoefleerdrag, bestaan uit studente of vroueoffisiere van die militêre akademie in Tripoli en volg hom oral waar hy gaan.
Vier van hulle het hom Dinsdag vergesel toe hy die ontvangslokale van die Ritz binnegekom het, ʼn duur Paryse hotel waar hy openbare persoonlikhede sou ontvang.
Oral tref mens verwysings na Afrika aan. Kadhafi dra ʼn soort borsspeld wat uit ʼn kaart van die kontinent bestaan, presies op harthoogte. Die afvaardiging het aangekom aan boord van drie vliegtuie van die Ifrikija-redery (“Ifrikija” beteken Afrika) met ʼn ebleem wat uit drie syfers bestaan 9 9 99, die datum waarop die Afrika-unie gestig is.
Tydens ʼn byeenkoms het Kadhafi teen sy gashere uitgevaar omdat hulle nie dieselfde regte aan immigrante uit Afrika toestaan as aan Europeërs nie. Die gehoor, waaronder ʼn groot klomp swartes uit Wes-Afrika, het hom staande toegejuig.
Kadhafi geniet al die aandag en hou daarvan om die media te verras. Oënskynlik weens sy obsessie oor sy persoonlike veiligheid, is sy hele program in geheimsinnigheid gehul. Gaan hy die chateau van Versailles besoek? Sal hy aan ʼn jagtog in die Franse woude deelneem en, indien wel, wanneer?
Daar heers ook ʼn gerug dat Kadhafi besoek wil bring aan die gedenkteken van Colombey-les-deux-Eglises in die ooste van Frankryk om hulde te bring aan die Fransman wat hy die meeste bewonder, niemand minder as die konserwatiewe generaal De Gaulle nie.
