Volgens Ndlovu demonstreer Merkel se aanmerkings haar “fascistiese en rassistiese neigings”.
Hy het voortgegaan deur te sê: “Sy behoort haar mond te hou oor Zimbabwe of haarself te verskoon. President Mugabe is sonder twyfel ʼn onteensegbare ikoon van Afrika-nasionalisme, ʼn Pan-Afrikaan, ʼn revolusionêr en bevryder van Zimbabwe, tesame met wyle dr. Joshua Nkomo."
“Hy het die spitsberaad in eie reg as ʼn staatsman van hoogstaande reputasie bygewoon. By die spitsberaad het hy die kalklig gesteel deur sommige Europese staatshoofde en sy kritici, Angela Merkel, inkluis, soos dwerge te laat lyk.”
Volgens hom praat Duitsland uit sy beurt as hy Zimbabwe bespreek en behoort hom by die ooreengekome beginsel van die spitsberaad te beperk het.
“Zimbabwe is nie ʼn kolonie van Duitsland nie. Dit is rassisme van die eerste orde deur die Duitse staatshoof,” het Ndlovu voortgegaan.
Gister het die Duitse minister van buitelandse sake, Frank-Walter Steinmeier, die Zimbabwiese chargé d’affaires na die buitelandse ministerie in Berlyn ontbied. “Dit is baie duidelik aan hom gestel dat aanmerkings soos dié oor die kanselier op geen manier verdra kan word nie,” het ‘n regeringswoordvoerder gesê.
Mugabe het by sy terugkeer in Harare egter ongestoor voortgegaan met sy tirade teen Westerse lande, onder andere Brittanje. “Ons het Brittanje ʼn neerlaag toegedien, ons was die oorwinnaars oor die Britte. Wat is Brittanje na alles? Hulle dink die Britse Ryk is nog aan die gang,” het hy aan die Herald gesê.
