British Council nekomgedraai

Die Russe het die British Council versoek om al hul streekskantore in Rusland te sluit. Die Russiese ministerie van buitelandse sake het in ‘n verklaring gesê dat dié instelling onwettig in Rusland werk en Russiese belasting- en ander wette en die Weense Konvensie van 1963 oortree. Die ministerie het die kantore in Ekaterinburg en St. Petersburg gesluit verklaar vanaf 1 Januarie 2008.

Die Britte het met uiterste verontwaardiging gereageer op die aankondiging en gesê die sluiting is verregaande. ‘n Segspersoon vir die Britse ambassade in Moskou het verklaar dat "die Council ‘n nie-politieke kultuurorganisasie is" wat "mense help" om Engels te leer. Hy het ook gewaarsku dat Rusland se optrede "in stryd is met internasionale reg". James Kennedy, direkteur van die British Council in Rusland, het beaam dat die besluit nie geregverdig kan word nie en dat die Council sedert 1994 in Rusland is danksy ‘n bilaterale kultuurooreenkoms tussen die twee lande.

Rusland volg die voorbeeld van Belarus wat in 2000 die laaste British Council kantoor in dié land gesluit het. Gemaskerde belastingpolisie, geklee in swart, het reeds drie jaar gelede op die Council se hoofkantoor in Moskou toegesak en betogings is verlede week voor die Britse ambassade gehou, terwyl die Britse ambassadeur, Tony Brenton, gereeld lastig geval word.

In Augustus verlede jaar het die Kremlin besluit om die BBC se FM-uitsaaifrekwensie op te skort vanweë anti-Russiese propaganda wat die diens klaarblyklik aanhoudend uitgesaai het. In die lig van die besluit om die British Council se aktiwiteite ook in te perk, is dit duidelik dat die aanstaande president, Dmitri Medvedev, nie beplan om gou ‘n einde te maak aan die gespanne verhoudinge wat tussen Rusland en Brittanje heers nie.

‘n Russiese woordvoerder van buitelandse sake het gesê dat die Council se werkswyse "abnormaal" is omdat dit vanuit Britse konsulate in Rusland bedryf word. Hy het bygevoeg dat dit in stryd is met die Weense Konvensie wat konsulêre bedrywighede reël. Denis MacShane, eertydse Britse minister vir Europa, het gesê dat die British Council nog lank ná die huidige Russiese politieke leiers se vertrek sal bly bestaan. Of dit só sal wees, sal net die toekoms leer aangesien al 15 streekskantore gesluit gaan word en selfs die Russiese personeel die trekpas gaan kry.

детская железная дорога киевДанильченко Юрий Брониславович