Sarkozy het verder bevestig dat Frankryk vandag kontrakte ter waarde van meer as vyf biljoen Euro met Algerië sal onderteken. Sowat 100 Franse sakemanne vergesel die Franse president tydens hierdie staatsbesoek. Die kontrakte handel hoofsaaklik oor die oprigting van moderne infrastruktuur soos die bou van tremstelsels, werk aan die moltreinstelsel van Algiers, die bou van paaie en spoorweë, asook fabrieke, damme en kragsentrales. Daar sal verder ’n ooreenkoms geteken word ten opsigte van samewerking oor kernkrag.
Die Franse president het Algerië se stryd teen “barbaarse terrorisme” die afgelope paar jaar in hulle eie land geloof en gesê dat “elke vorm van rassisme, Islamhaat en anti-Semitisme" beveg moet word. Vir hom is Islamhaters en anti-Semiete ewe dom en haatdraend. “Die Algerynse regering se oorwinning oor terrorisme is ’n groot sukses vir ons almal, want ’n Taliban-regering in Algiers sou nie net ’n tragedie vir Algerië gewees het nie, maar ook ’n katastrofe vir al die lande rondom die Middellandse see,” het die Franse president vervolg.
Hierdie is Sarkozy se sewende besoek aan Algerië en reeds die tweede amptelike besoek sedert hy vroeër vanjaar president van Frankryk geword het. Verhoudinge tussen die twee lande was nog altyd delikaat, veral sedert onafhanklikheid in 1962. Kort voor Sarkozy se aankoms hierdie week het die Algerynse minister verantwoordelik vir die welsyn van oud-soldate, Mohammed Chérif Abbas, vir verleentheid gesorg toe hy na Sarkozy se Joodse herkoms verwys het.
Volgens hom was dit “die Joodse lobby” aan wie Sarkozy sy verkiesing as president te danke had. Hierdie uitspraak van die Algerynse minister het hewige reaksie in Frankryk uitgelok en organisasies soos die Bond van Menseregte het ’n beroep op Sarkozy gedoen om sy besoek aan Algerië af te stel. President Bouteflika het sy minister egter tereggewys en Sarkozy telefonies verseker dat Abbas se uitspraak “glad nie” die Algerynse standpunt verteenwoordig nie. Die Franse president het gevolglik besluit om met sy besoek voort te gaan.
Sedert oud-president Jacques Chirac in 2005 wetgewing ingevoer het wat “die positiewe rol van kolonialisme” sou uitlig (dit is sedertdien gekanselleer) het ’n groepie Algerynse politici aangehou om “verskonings” van Frankryk te eis.
Sarkozy sal later vandag Algerynse studente toespreek. Hy sal ook die Romeinse ruïnes van Tipaza besoek, sowat 70 km wes van Algiers. Die Franse skrywer Albert Camus was baie lief vir hierdie dorpie. Daarna sal hy ’n gedenksteen vir Algeryne, wat tydens die onafhanklikheidsoorlog van die vyftigerjare die lewe gelaat het, besoek. Sarkozy keer môre na Frankryk terug.
