Kies my of chaos

Image

Wladimir Poetin

Die Russiese president Wladimir Poetin het Donderdag ’n beroep op die Russe gedoen om Sondag tydens die algemene verkiesing in die land te kies tussen sy party of ’n terugkeer na “die vernedering” en “die disintegrasie” van die verlede.

Gari Kasparof, voormalige wêreldskaakkampioen, het op dieselfde dag ná sy vrylating uit die tronk gesê Poetin maak hom skuldig aan “diktatoriale” optrede en het belowe “om die stryd verder te voer.” Kasparof is vir vyf dae opgesluit omdat hy aan ’n onwettige betoging deelgeneem het.

Poetin het tydens ’n toespraak wat op televisie uitgesaai is sy landgenote aangespoor om vir sy Verenigde Rusland-party te gaan stem. Hy het dit verder duidelik gemaak dat hy nie gaan poog om ná 2008 as staatshoof aan te bly nie. Hy het nie laat blyk wie hom moontlik kan opvolg of hoe sy eie toekoms daar gaan uitsien nie. Tans is daar oproepe vir hom om in ’n hoedanigheid as “nasionale leier” aan te bly. Na afloop van Sondag se verkiesing sal Poetin besluit of hy tot 2008 president gaan bly en of hy dalk gaan uittree om ’n gewone parlementslid te word. Ander voorstelle doen ook tans die rondte oor hoe Poetin moontlik die grondwet, wat hom verbied om vir ’n derde termyn as president aan te bly, kan omseil. Hy kan dalk eerste minister word of voorsitter van Verenigde Rusland, die party wat tans oor 60% van kiesers se steun beskik.

Poetin het in sy toespraak gewaarsku teen magsoorname deur die liberale, wat in die negentigerjare die septer onder Boris Jeltsin geswaai het. Volgens hom sal dit die gebied verder destabiliseer. Hy het die afgelope paar dae dikwels gewaarsku teen Russe wat die Weste slaafs navolg en bereid is om Rusland te verkoop, in die naam van ekonomiese opheffing. Die kanse is egter maar skraal dat die liberale Sondag skoonskip maak. Die liberale partye gaan na verwagting slegs tussen 1% en 2% van die stemme kry. Poetin het mense verder herinner aan die ekonomiese stabiliteit wat onder sy bewind ingetree het en hoeveel hy in die stryd teen terrorisme en korrupsie reggekry het. 

’n Paar uur later is Kasparof, wat ook ’n kandidaat in die verkiesing is, vrygelaat. “Dit gaan nie net hier oor my nie,” het hy gesê. “Die regering het ’n gevaarlike fase betree wat al meer na ’n diktatuur begin lyk.” Gorbatsjof het op sy beurt Kasparof se inhegtenisname veroordeel en die regerende party gekritiseer.

компрессора кондиционераДанильченко Юрий прокурор