Poetin wen oorweldigend

Image

Poetin stem in Moskou

MOSKOU – Wladimir Poetin se Russiese Eenheidsparty het gister ʼn oorweldigende meerderheid in die parlementêre verkiesings behaal en sodoende die weg gebaan vir die Russiese leier om in beheer te bly, selfs na die beëindiging van sy presidentstermyn.

Die uitslag volg na ʼn Kremlinveldtog wat die president ferm ondersteun het. Poetin is veral bevoordeel deur Rusland se stygende olie-inkomste waardeur die land in ʼn stewiger internasionale posisie geplaas is.

“Die stem het die hoofidee bevestig: dat Wladimir Poetin die nasionale leier is, dat die volk sy beleid onderskryf en dat hierdie beleid sal aanhou,” het die partyleier en parlementêre speaker, Boris Grislof gesê nadat uitgangsopnames aangekondig is.

Verskeie opposisieleiers het die Kremlin van verkiesingsbedrog beskuldig en die Amerikaanse Bush-administrasie het vir ʼn ondersoek na verkiesingsongerymdhede gevra. Die leier van die Russiese Kommunistiese Party, Gennadi Zioeganof het die verkiesing  bestempel as “die onverantwoordelikste en vuilste” in die post-Sowjettydvak.

Met stembriewe in 64,4 persent van die kiesafdelings wat getel is, loop die Russiese Eenheidsparty voor met 62,8 persent, gevolg deur die Kommuniste met 11,7 persent, het die Sentrale Verkiesingskommissie gesê.

Die Kremlin het die verkiesing as ʼn plebisiet oor Poetin se byna agt jaar as president voorgestel – met die belofte dat ʼn groot oorwinning hom op een of ander manier sal toelaat om as leier aan te bly as sy tweede termyn aanstaande jaar verstryk.

Poetin word grondwetlik verbied om vir ʼn derde agtereenvolgende termyn te staan, maar duidelik het hy ondersteuning om aan bewind te bly. ʼn Beweging het oor die afgelope paar weke ontstaan om hom aan te moedig om ʼn “nasionale leier” te word, maar dit is nog onduidelik watter pligte en magte dit sou behels.

Volgens die meningsopnames sal die Russiese Eenheidsparty oor ʼn oorweldigende meerderheid in die Staatsdoema of laer huis van 450 setels beskik. Die Kommuniste gaan 57 setels hê.

Die ander twee pro-Kremlinpartye – die nasionalistiese Liberaal-Demokratiese Party en populistiese Nét Rusland – lyk asof hulle ook die parlement gaan haal, met onderskeidelik 8,8 persent en 8 persent.

Een Liberaal-Demokratiese Party-afgevaardigde sal Andrei Loegowoi wees, ʼn voormalige KGB-beampte en die vernaamste verdagte in die vergiftiging van die Kremlinkritikus Alexander Litwinenko verlede jaar in Londen. Rusland het geweier om Litwinenko aan Brittanje te oorhandig en die Doemasetel verskaf aan hom immuniteit teen vervolging.

Dit is egter aan die lig gekom dat Litwinenko ‘n betaalde Britse agent was wat blykbaar 2000 pond per maand vir sy dienste ontvang het. Dié inligting is deur die Daily Mail in Brittanje bekend gemaak.

Geen ander partye kon die sewepersentdrempel om setels in die parlement te behaal, verbysteek nie. Beide liberale opposisiepartye is uitgesluit, aangesien voorspel word dat hulle elk nie meer as 2 of 3 persent van die stemme gaan ontvang nie.

Vele Russe het Sondag gekla dat hulle onder druk geplaas is om te gaan stem, met onderwysers, dokters en ander wat gesê het dat hulle deur hul base aangesê is om by hul werkplekke te gaan stem.

Volgens Alexander Kinef, ʼn politieke deskundige van die verkiesingsmonitorgroep Golos, is dosyne kiesers betaal om vir Poetin se Russiese Eenheidsparty te stem. In die dorp Pestowo in die westerse Nowgorod-streek, het kiesers gekla dat hulle stembriewe ontvang het wat reeds aan die Russiese Eenheidsparty uitgemaak was.

In Tsjetsjnië, waar die stempersentasie meer as 99 persent was, het getuies verslag gedoen oor verkiesingsbeamptes wat stembriewe ingevul en in busse geplaas het in die streekshoofstad Grozni.

Daar was ʼn gespanne, gedempte atmosfeer by sommige stemlokale. Jelena, ʼn 32-jarige bestuurder van St. Petersburg, het geweier om haar van te verskaf uit vrees vir politieke weerwraak omdat sy vir die liberale Jablonko-party gestem het.

“Ons leef in ʼn land waarin demokrasie en spraakvryheid afwesig is,” het sy gesê.

Vele kiesers was huiwerig om hul stem te bespreek, wat ʼn verskuiwing sedert die laat tagtigerjare verteenwoordig toe die Russe luidkeels oor hul regering gekla het. Een bejaarde dame, ʼn veteraan van die verdedigingsnavorsingsinstituut, het geweier om haar naam te verskaf en het net erken dat sy vir Jablonko gestem het omdat niemand anders wil luister nie.

Die owerhede, het sy gesê, sal nie toelaat dat Jablonko enige setels verwerf nie.

“Dis waarom ons omtrent 300 gekke, spyt dit my om te sê, in ons Doema het,” het sy gesê. “En ek glo nie vir Poetin nie: Hy is ʼn gewone man, ons moet hom nie absolute mag gee nie.”

Poetin, wat verantwoordelik gehou word vir die herstel van Rusland na die armoede en onsekerheid van die negentigerjare, geniet egter steun van vele Russe, ten spyte van die kritiek.

“Vandag is alles helder en stabiel in die lewe. Die president se woorde kom altyd ooreen met wat hy doen. Wat die ander kandidate betref, weet ons nog nie waarheen hulle ons wil neem nie,” het Raisa Tretijakowa, ʼn 61-jarige pensioenaris in St. Petersburg gesê.

In die VSA het die Bush-administrasie Sondag ʼn beroep op Rusland gedoen om bewerings dat die stem gemanipuleer is, te ondersoek.

“In die aanloop tot verkiesingsdag, het ons ons kommer uitgespreek oor die gebruik van staatsadministratiewe hulpbronne ter ondersteuning van die Russiese Eenheidsparty, die vooroordeel van media in staatsbesit of onder staatsinvloed, intimidasie van die politieke opposisie en die gebrek aan gelyke geleenthede wat deur opposisiekandidate en –partye ervaar is,” het Gordon Johndroe, segsman vir die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsraad gesê.

Die stempersentasie was omtrent 62 persent Sondag, volgens die Sentrale Verkiesingskommissie, teenoor 56 persent in die vorige parlementêre verkiesing vier jaar gelede.

Alle setels sal toegeken word volgens die persentasie stemme wat elke party ontvang het; in vorige verkiesings is die helfte van die setels toegeken aan kandidate wat in spesifieke kiesafdelings gestaan het, wat enkele grapmakers toegelaat het om verkies te word. Ongeveer 109 miljoen mense is stemgeregtig.

Die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa, wat beskou word as die Weste se mees gesaghebbende verkiesingsmonitor, het planne om waarnemers te stuur gekanselleer.

Poetin beweer die kansellasie is deur die Verenigde State bewimpel om die verkiesing in ʼn slegte lig te probeer stel. Maar die OVSE sê Rusland het die toestaan van visums so lank vertraag dat die organisasie nie in staat sou gewees het om die verkiesingsvoorbereidings sinvol te beoordeel nie.

пародонтит тяжелой степенилобановский александр дочь