EU wil Afrika as ‘gelyke’ behandel

Image

Amado, gelas met buitelandse sake

Sewe jaar ná die eerste ontmoeting in Kaïro het Europeërs en Afrikane weer in Lissabon byeengekom vir die jongste EU-Afrikaspitsberaad om te probeer om verslegtende betrekkinge te heel en ‘n nuwe strategiese bondgenootskap te sluit. Alhoewel die EU steeds Afrika se grootste handelsvenoot is, het ‘n minder kieskeurige China, met aansienlike investering, na die derde plek opgeskuif.

Regerings in lande soos Angola, die DRK en Algerië baat reeds by Chinese geld. Sanusha Naidu en Martyn Davies het verlede jaar in die South African Journal of International Affairs laat blyk dat China in 2002 met Sinopec ‘n kontrak van $525m gesluit het om die Zarzaitine-olieveld in Algerië te ontwikkel. In Januarie 2005 het China se Eximbank ‘n lening van $1bn aan Angola verleng en later verdubbel.

Meer as 70 staatshoofde sal by die grootste diplomatieke samekoms ooit in Portugal teenwoordig wees. Brittanje sal nie deur Gordon Brown verteenwoordig word nie, maar het wel ‘n afvaardiging gestuur. Brown weier om aan dieselfde tafel as Mugabe te sit ten spyte daarvan dat Brittanje Mugabe oorspronklik aan bewind geplaas het.

Die reisverbod teen Zimbabwe se hoë amptenare wat die afgelope vyf jaar geld, is tydelik opgehef vir die beraad, maar die sanksies wat die EU ingestel het as straf teen Mugabe se regime se menseregteskendings, bly onveranderd. Mugabe het reeds Donderdagaand in Portugal aangekom, maar hy is deur ‘n sydeur weggelei om die talle joernaliste wat op sy aankoms gewag het, te vermy.

José Socrates, Portugal se premier, wil graag die post-koloniale verhouding agterlaat en ‘n werklik gelyke bongenootskap tussen Europa en Afrika tot stand sien kom. Hy get gesê dit sal nie "’n strategie vir Afrika wees nie, maar met Afrika." Talle betogings teen Mugabe se teenwoordigheid word beplan en nie net Zimbabwe nie maar die toestand in Darfoer wat nie op die agenda sal wees nie, is een van die strydpunte.

Minister Cravinho, belas met samewerking in Portugal, het egter benadruk dat die beraad nie oor eng kwessies gaan nie, maar dat die groter geheel belangrik is. Vrede en sekuriteit, demokrasie en menseregte, handel en nywerheid, klimaatsbestuur en energie, asook migrasie en arbeid, sal die vyf hooftemas wees wat bespreek sal word. ‘n Gemeenskaplike strategie sal Sondag aangekondig word tesame met ‘n plan van aksie wat oor die volgende drie jaar sal strek, tot en met die volgende beraad wat vir 2010 in Afrika beplan word.

Ongelukkigheid heers in sekere Afrikalande oor die wyse waarop die EU voorkeurhandelsbetrekkinge tydens voorbereidende ontmoetings probeer afdwing. Suid-Afrika en Namibië het onttrek aan samesprekinge en die hoof van Oxfam se EU-kantoor, Luis Morago, sê Afrikalande "verkeer onder geweldige druk om [ooreenkomste] te onderteken" wat nie in hulle guns sal wees nie. Die AU-voorsitter, Alpha Oumar Konare, het vroeër in Midrand te kenne gegee dat Afrika nie met voorskrifte tevrede sal wees nie.

Libië se leier het reeds Donderdagoggend (letterlik) sy tent opgeslaan in Lissabon om gaste daar te ontvang. Hy was die eerste gas om op te daag by die EU-Afrikaspitsberaad. Indien die EU nie ‘n beter alternatief as China vir Afrika bied nie, is Moeammar Khadaffi darem gereed vir enige gebeurlikheid.

компьютерная диагностика автомобиляФильчаков прокурор харьков

Maak 'n opvolg-bydrae