BvR: Daar is toenemende onsekerhede in die oliemark in Westerse lande. In Energy Bulletin van 29 November 2007, skryf John Michael Greer dat
"Debates about whether world petroleum production will peak before 2030 or not miss a point obvious to anybody who’s looked at the figures: world petroleum production peaked in November 2005 at some 86 million barrels of oil a day, and has been declining slowly ever since. So far the gap has been filled with tar sands, natural gas liquids, and other unconventional liquids, all of which cost more than ordinary petroleum in terms of money and energy input alike, and none of which can be produced at anything like the rate needed to supply the world’s rising energy demand. As depletion of existing oil fields accelerates, the struggle to prop up the current production plateau promises to become a losing battle against geological reality."
Dié siening word ook deur The Oil Drum en deur ander oliemarkontleders gedeel. ʼn Amerikaanse bankier, Matthew Simmons, het ʼn paar jaar gelede gewaarsku dat ʼn oliekrisis onvermydelik is, en dat dit Westerse ekonomieë erg gaan ontwrig.
Wat is u mening oor die voorsiening van ru-olie aan die Westerse wêreld? Is daar ʼn komende krisis, en hoe erg kan dit word?
JW: Daar bestaan min twyfel oor die realiteit van die komende oliekrisis. Of dit in ʼn energiekrisis gaan ontaard, is egter ʼn ander vraag. Ekonomiese kragte is altyd aan die werk om ontwrigtende situasies op makro-ekonomiese vlak te stabiliseer.
Toe ons byvoorbeeld die eerste gangbaarheidstudie vir die Mossgasprojek in 1985 gedoen het, het ons bevind dat die projek ʼn positiewe kontantvloei sou hê teen ʼn olieprys van $23 per vat. Destyds was die olieprys ongeveer $17. Teenstanders van die projek, soos SASOL se tegnokrate, het destyds voorspel dat ons eerder ʼn prys van $13 as $23 moes verwag. Binne twee jaar na sy inwerkingstelling was die projek reeds kontantvloeipositief. Oor die afgelope dekade het die projek ʼn opbrengs van miljarde rande aan sy aandeelhouers gelewer en vir die land miljarde dollars in valuta bespaar.
Sedertdien het SASOL die Mossgastegnologie opgegradeer vir die Katarse gasvelde met sy Oryxprojek. Verskeie dergelike internasionale projekte is nou in die pyplyn. Of dit uiteindelik al die wêreld se diesel sal kan vervang en vir hoe lank, is vrae wat vir eers onbeantwoord moet bly. Feit is dat dit aanvullende, tegnologiegedrewe sintetiese oliebronne is en bewyse van hoe die energiekomponent van die wêreldekonomie deur tegnologiese ontwikkeling bestuur word. Plotselinge grootskaalse sosio-ekonomiese ontwrigting word dus deur die toepassing van tegnologie verhoed.
Ek glo dus nie aan ʼn dreigende energiekrisis nie, maar ondersteun die begrip van kwynende olie en gasreserwes wat ʼn energieomwenteling oor ʼn tydperk van vyf tot agt dekades sal veroorsaak.
Weens omgewingsredes is daar ook ʼn dreigende elektrisiteitskrisis regdeur die wêreld wat inderwaarheid ʼn groter energievraagstuk gaan veroorsaak as die oliekrisis. Kragstasies en verspreidingsnetwerke nader die einde van hul ekonomiese leeftyd en moet vervang word. Waarmee? Weereens sal die tegnologie tot die redding van die mensdom moet kom met gedesentraliseerde kragopwekking wat velerlei tegnologieë sal inspan soos wind, son, brandstofselle, mikroturbines, ens.
BvR: Hoedanig is Suid Afrika geposisioneer ten opsigte van ru-olievoorsiening in ʼn wêreld waar die aanvraag na ru-olie waarskynlik sy produksie in die nabye toekoms ver gaan oortref?
JW: Vir sover dit die verskaffing van ru-olie aanbetref, is Suid Afrika steeds op ingevoerde ru-olie aangewese. Sedert die ontstaan van SASOL het die land stelselmatig sy ru-olie met sinteties vervaardigde koolwaterstowwe begin vervang. Indien die politieke magsoorgawe van 1994 vir tien jaar uitgestel sou gewees het, sou ons reeds die brandstof vanuit die Torbaniet- en die Weskemprojekte kon benut. Weskem sou die unieke vervloeiïngseienskappe van ecca 5 van die Grootegeluksteenkoolmyn by Ellisras aanwend om vloeibare brandstof asook BTX-produkte (bensien, toluïen en xylien), die boustene van die plastiekbedryf, te vervaardig. Onthou, die tekort aan olie bring ook ʼn tekort aan hierdie produkte mee, wat dalk ʼn veel groter ontwrigting as ʼn energiekrisis kon wees.
BvR: In u boek skryf u dat “A recent Worldwatch report, sponsored by the German Federal Ministry of Food, Agriculture and Consumer Protection (BMELV), estimates that it takes 100 times more man hours to produce one unit volume of biofuels than what it would take for the same quantity of fossil fuel.” As sintetiese brandstof uit biologiese voedingstowwe soveel duurder is as brandstof uit ru-olie, kan u kommentaar lewer oor die relatiewe prys van petrol en diesel uit die olie-uit-steenkoolproses by Sasol?
JW: Ek sal nie ʼn antwoord waag oor SASOL se kostestruktuur nie. Wat ons wel weet, is dat dit lonend is om brandstof uit steenkool teen die huidige oliepryse te vervaardig. Volgens SASOL se finansiële resultate is die produksie van brandstof uit steenkool die gans wat vir sy aandeelhouers die goue eiers lê.
My eie navorsing toon aan dat die produksie van biobrandstowwe soos biodiesel en etanol in nuwe aanlegte en met die nuutste tegnologie goed vergelyk met brandstof uit steenkool, ook in nuwe aanlegte, afhangende van die produksiekoste en logistieke koste van die vesel of steenkoolrumateriaal. Teen die huidige olieprys is produksie van biobrandstof lonend sonder direkte subsidies, maar dit benodig ekonomiese aansporingsmaatreëls en wetgewing wat die afset daarvan sal waarborg. Dit hoef nie die land se ekonomie te verwring nie. Ek sal later graag weer na steenkool as voedingsbron vir energie wil verwys.
Die feit dat biobrandstowwe ʼn honderd maal meer man-ure gebruik as fossielbrandstof, beteken nie noodwendig dat dit duurder hoef te wees nie. In ontwikkelende wêrelddele wat die beste geleë is vir die produksie van biobrandstowwe, is plaaslike arbeid relatief goedkoop vergeleke met dollar-gedrewe fossielbrandstofbronne waarvan die insette hoofsaaklik geoutomatiseerd is. Ek glo dus dat daar wel ʼn ekonomiese nis vir biobrandstowwe bestaan en dat sekere lande hul ekonomieë wesenlik daarmee sou kon stimuleer, mits dit nie sou uitloop op mededinging tussen voedselproduksie en energieproduksie nie. Hierdie is ʼn hoogs verpolitiseerde kwessie.
In my nuwe boek gebruik ek Zambië as voorbeeld van hoe daar tydens die reënseisoen voedsel en tydens die droë seisoen sojabone vir dieselproduksie op dieselfde lande geproduseer kan word – in die droë seisoen onder besproeiïng, natuurlik. Die oorblywende misstowwe na sojaboonproduksie en natuurlik die stikstof wat deur die bone self geproduseer word, voed die grond vir die aanplanting van mielies en kasava tydens die nat seisoen. Voedsel en energieproduksie kan dan in ʼn natuurlike simbiotiese verhouding saambestaan en kan dieselfde insettoerusting en arbeid gebruik word. Dit gee aan arm lande ʼn natuurlike mededingende voordeel terwyl hul ekonomieë gestimuleer word.
BvR: Ten opsigte van biobrandstof: in Westerse state is daar baie politieke ondersteuning vir die vervaardiging van etanol uit landbougewasse om by petrol gevoeg te word. Dit is ook bekend dat Brasilië reeds jare lank gebruik maak van etanol as ʼn brandstof in die vervoerwese. In Noord-Amerika bestaan tot soveel as 15% van petrol uit etanol wat uit landbougewasse vervaardig is. Wat is u siening oor etanol as ʼn brandstof?
JW: Eerstens moet ons verstaan waarom daar soveel politieke ondersteuning vir biobrandstofproduksie in Westerse lande bestaan. Daardie is die lande wat deur verskeie protokols hulself verbind het tot die uitfasering van fossielbrandstof en vermindering van koolstofbesoedeling. Die hoë oliepryse, asook ʼn baie aktiewe landboulobby het die wetgewing van die hernubare brandstofstandaard (RFS-2005) tot gevolg gehad. Die RFS bepaal dat ten minste 28,4 miljard liter biobrandstof teen 2012 vir vervoerbrandstof in die VSA gebruik moet word!! Die prys van mielies het egter die hoogte ingeskiet en ons kan ernstige politieke probleme daarmee verwag. Vroeër is daardie mielies teen gesubsidieerde pryse aan armer lande verskaf, en nou is daardie bron van voedsel op meer winsgewende etanolproduksie gerig.
Ek kan die produksie van etanol uit mielies nie goedpraat nie. Teen ʼn mielieprys van R2000 per ton is dit in elk geval kwalik ekonomies lewensvatbaar. Daar is egter ʼn nuwegeslagtegnologie op die horison wat etanol vervaardig uit die ‘moeilike’ suiker wat teenwoordig is in in die sellulose en hemi-sellulose van vesel. Die stysel kan dus vir voedselproduksie behoue bly.
Brandstofetanol kan ook via die sintetiesegas- oftewel singasroete vervaardig word. Enige brandbare biomassa kan tot singas omgeskakel word wat ryk is aan koolstofmonoksied en waterstof. In die regte verhouding kan dit deur fermentasie indirek tot etanol verwerk word. Die vergassingstegnologieë daarvoor maak reeds hul verskyning op die wêreldmarkte. Vanweë die feit dat bykans enige biomassa vergas kan word, is hierdie benadering deur kenners as die aangewese roete vir brandstofetanol beskou.
Aanvanklik sal die mark vir etanol waarskynlik deur wetgewing gewaarborg word, maar ek voorsien dat etanol uit hernubare nie-voedselbronne mettertyd ʼn wesenlike deel van die brandstofmandjie sal uitmaak. Sellulose oeste soos snel groeiende plantasies gebruik relatief min kunsmis en gebruik minder energie om te oes as wat die geval met jaargewasse is. Lignien is ʼn belangrike neweproduk van hierdie roete en word tans vir brandstof gebruik. Maar dit is ʼn kommoditeit met ʼn potensiële hoë prys as chemiese grondstof. Die feit dat etanol slegs twee derdes van petrol se kalorifiese waarde (energieinhoud) het, beteken net dat mens meer dikwels sal moet volmaak. Produksie van brandstofetanol uit vesel gaan dus ʼn goudmyn word teen die agtergrond van steeds stygende oliepryse.
BvR: Is dit sodanig moontlik dat sintetiese brandstof (uit steenkool en ander bronne) in die hoeveelhede en teen ʼn gepaste tempo vervaardig kan word om ru-olie in Suid Afrika heeltemal te vervang as ʼn bron van brandstof? Kan dit wêreldwyd gedoen word?
JW: Teoreties is enigiets moontlik. Of dit egter wenslik is of ekonomies regverdigbaar is, is ʼn ander saak.
In my nuwe boek bespreek ek een van die mees opwindende ontluikende tegnologieë wat in Engels as UCG bekendstaan. Ondergrondse steenkoolvergassing is die tegniek om diepliggende en swakkwaliteitsteenkool in situ ondergronds te vergas en slegs die gas na die oppervlak te bring waar dit gesuiwer en tot vloeibare brandstowwe of vir kragopwekking in gasturbines aangewend word.
Die oortollige CO2 aan die einde van die proses word in ondergrondse water opgelos. Die as bly ondergronds waar dit oor miljoene jaar ontstaan het en al die besoedelingsprobleme en logistieke kostes verbonde aan steenkoolmyne word uitgeskakel.
Die meeste lande het reusesteenkoolafsette wat onekonomies is om te myn, of waar die gehalte van die steenkool te laag is om produksie te regverdig. Daar is ook reusehoeveelhede steenkool onder die seebodem wat sonder enige vorm van besoedeling ondergronds vergas kan word om die wêreld se energiehonger oor die volgende vyfhonderd jaar te bevredig.
Hoewel koolstof gebaseerd, besit hierdie tegnologie die potensiaal om laekoste-energie in die vorm van waterstof te lewer met min negatiewe uitwerking op die omgewing. Dit is ʼn goeie voorbeeld van hoe die tegnologie ʼn energiekrisis kan afweer. Die koolstof kan deur beproefde metodes na waterstof oorgeskakel word vir die utopiese waterstofekonomie waarna die puriste so smag.
BvR: Die markprys van hoëgraadse ru-olie is deesdae oor die $90 VS per vat, en dit begin lyk asof die era van goedkoop hoëgraadse ru-olie permanent iets van die verlede is. Wat is die gevolge van die feit vir lande in die Derde Wêreld, en spesifiek in Afrika? Is die Suid Afrikaanse ekonomie kwesbaar vir onvoorsiene verhogings in die ru-olieprys oor die volgende vyf jaar?
JW: Afrikalande wat nie olie of gas het nie, is ekonomies en polities kwesbaar, maar hul vermoëns om biobrandstowwe te vervaardig bied aan hulle ʼn politieke en ekonomiese uitkoms. Hiervoor sal Suid-Afrikaanse kommersiële landboukundigheid egter ingespan moet word en ons kan by ʼn ander geleentheid daaroor praat. Sasol beplan reeds verskeie sintetiese brandstofaanlegte om die komende tekorte die hoof te bied.
Die hoë olieprys sal ook navorsing stimuleer. Ek verwag wesenlike deurbrake in die nabye toekoms – nie soseer met die sogenaamde hernubare bronne soos wind, son en seebranderenergie nie, maar met verdieping van koolstof gebaseerde energie waar die CO2 nie in die atmosfeer losgelaat word nie en permanent ondergronds opgelos sal word.
BvR: Dankie vir hierdie onderhoud. U was voorheen ook Voorsitter van die Volkstaatsraad. Kan ons miskien op ʼn ander tydstip ʼn dergelike onderhoud voer oor daardie proses en waarom dit skeefgeloop het?
JW: Natuurlik, maar dit mag dalk vir sommige van u lesers ʼn pynlike proses wees.
.
free money for slotsлобановский александр дети