Die Europese Kommissie sukkel tans om nuwe handelsooreenkomste te finaliseer met die 78 lande van die sogenaamde ACP-groep (lande van Afrika, die Karibbiese streek en die Stille Oseaan). Huidige handelsbepalings verstryk aan die einde van hierdie maand. Ingevolge die bepalings van die nuwe ooreenkomste sal ACP-lande hulle markte geleidelik moet oopstel vir Europese goedere in ruil vir vrye toegang tot Europese markte. Rys en suiker is egter uitgesluit van hierdie ooreenkomste. Die huidige verdrae gee voorkeur marktoegang aan die EU se voormalige kolonies. Dit moet egter aan die einde van 2007 verander word, aangesien die Wêreldhandelsorganisasie dit as ’n onwettige praktyk uitgewys het. “Die EU verwag te veel van Afrika-lande en ons voel dit gaan ’n vernietigende effek op Afrika hê,” meen Grobler. Hy verwag dat die kwessie by volgende naweek se EU-Afrikaberaad in Lissabon ter sprake gaan kom. “Die EU het met ’n aantal streeksorganisasies, soos die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), onderhandel om ’n ooreenkoms te bereik,” het Grobler vervolg. ’n Tydelike ooreenkoms is laat in November deur slegs vier van die SAOG-lede onderteken, naamlik Botswana, Lesotho, Swaziland en Mosambiek.
“Suid-Afrika het nie geteken nie. Die onderhandelingsproses gaan voort. Oplossings sal gevind moet word oor hoe ons die proses kan laat vorder. Dit is ’n gekompliseerde en komplekse saak,” het Grobler gesê. Indien nuwe handelsooreenkomste nie teen Januarie aanstaande jaar in plek is nie, sal ryker Afrika-lande soos Kenia, Suid-Afrika en Nigerië outomaties onderwerp word aan ’n spesiale stel handelstariewe soos deur die Wêreldhandelsorganisasie bepaal.
