Die dam is in die Tete-provinsie en strek tot by die punt waar die grense van Mosambiek, Zambië en Zimbabwe bymekaarkom. Luis Covane, segsman vir die Mosambiekse regering, meen dat die dam met sy produksiekapasiteit van meer as 2 000 megawatt belangrik is vir die ontwikkeling van “skoon energie” vir sowel Mosambiek as die res van suider-Afrika. Die Mosambiekse president het op sy beurt die hoop uitgespreek dat Mosambiek nou sy energieverskaffing kan uitbrei van buurlande Suid-Afrika en Zimbabwe om Zambië en Malawi ook in te sluit.
Sedert Mosambiekse onafhanklikheid in 1975 het Portugal steeds die beherende aandeel (82%) in die dam gehad. Die dam is geleë op die oewer van die Zambezi en is ná ’n bouproses van ses jaar in 1975 voltooi. Tydens die burgeroorlog in die land is die dam deur Renamo-rebelle gesaboteer en toe weer moeisaam herstel. Guebuza het die ooreenkoms tussen Portugal en Mosambiek, om beheer van die dam aan Mosambiek oor te dra, bestempel as “die finale hoofstuk in die geskiedenis van buitelandse oorheersing” in sy land. Die Mosambiekse regering moes Portugal ’n bedrag van $950 miljoen betaal om die Portugese aandeel van 82% uit te koop. Die laaste deel van die bedrag behoort vandag aan Portugal oorbetaal te word. Die geld is afkomstig van ’n internasionale fondsinsamelingsveldtog wat deur die Wêreldbank, Eskom en die Zimbabwiese kragverskaffer geloods is.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.