Rekenmeesters aanvaar rassekwotas

Terwyl Australiese ouditeursfirmas besig is om die room van Suid-Afrikaanse rekenmeesters af te skep, het die rekenmeestersprofessie nou ʼn sogenaamde “SEB-handves” aanvaar. Hierdeur gaan rekenmeestersfirmas gedwing word om swart eienaarskap te aanvaar en ook om swart rekenmeesters op te lei, al stel weinig swartes belang in ʼn beroep wat hoë eise stel en dikwels nie aardig besoldig is nie.

Sedert 1976 het slegs 912 swartes as geoktrooieerde rekenmeesters gekwalifiseer – uit ʼn totaal van 26803. Net meer as 2000 swart matriekleerlinge kom jaarliks hoërgraadwiskunde deur,dieselfde poel waaruit die land se swart dokters, ingenieurs en rekenmeesters opgelei moet word.

Implisiet in die aanvaarding van die “bemagtigingshandves” vir rekenmeesters is ʼn verlaging van standaarde. Daar heers reeds groot druk op die professie om toelatingsvereistes tot die beroep te verslap sover dit swartes betref. Een dosent in rekeningkunde wat sedertdien na Australië uitgewyk het, is deur haar voormalige departementshoof aan die Johannesburgse Universiteit aangesê om vraestelle met swart name opwaarts aan te pas. Toe sy weier, het die departementshoof dit self gedoen.

Agter die skerms is daar dus ʼn hele strategie aan die gang om meer swart rekenmeesters uit die skamele groepie wat jaarliks wiskunde deurkom, te fabriseer en dit gaan interessant wees hoe die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters sy toelatingseksamen aanpas of manipuleer om meer swartes te laat slaag.

Volgens Trevor Brown, ʼn uitvoerende bestuurder van Deloitte en ʼn lid van die handvesforum, “word vooruitgang gemaak, maar is daar steeds probleme met lekkasies”. Hoewel swart studente daarin slaag om ʼn B.Com-graad te verwerf, beteken dit nie dat hulle noodwendig as geoktrooieerde rekenmeesters gaan kwalifiseer nie. “Baie gaan nie voort om te kwalifiseer nie weens finansiële druk van hul gesinne om uit te gaan en te gaan werk,” meen hy.

Die voorsitter van Grant Thornton, mnr. Leonard Brehm sê dat “een struikelblok die opvoedingstelsel is – daar is steeds nie genoeg matrikulante met hoërgraadwiskunde nie”.

Vanjaar is daar 10 621 B.Com-studente aan die universiteite met toepaslike vakke om as geoktrooieerde rekenmeesters te kwalifiseer. Van daardie getal is 39% swart en net 31% blankes, iets wat Philip Hourquebie van die Instituut oortuig dat “die koers van voornemende swart geoktrooieerde rekenmeesters besig is om sterk te styg”.

Terwyl Suid-Afrika net bereid is om rekenmeesters te aanvaar as hulle swart is, is veral Australië besig om plaaslike blanke rekenmeesters op ʼn groot skaal af te rokkel. KPMG in Australië het blykbaar met een besoek aan Johannesburg 75 rekenmeesters oortuig om te emigreer. In Australië geld geen rassekwotas as dit by rekeningkunde kom nie.

free bet sites no depositФильчаков Александр Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae