Winnie gewildste tydens ANC-kongresverkiesing

Image

Winnie Mandela

Afgesien van die eerste ses poste wat reeds enkele dae gelede gevul is, het Winnie Mandela gisteraand bo-aan die gewildheidsleer geëindig tydens die verkiesing van die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Sleutelfigure uit die Mbeki-kamp soos verdedigingsminister Terror Lekota, adjunk-minister van buitelandse sake Azziz Pahad, Veiligheidsminister Charles Nqakula en adjunk-verdedigingsminister George Mluleki het egter nie die lys van 80 kandidate wat die NUK sal uitmaak, gehaal nie.

Dit word gesien as die begin van die suiweringsproses waardeur lede van die Mbeki-faksie stelselmatig uit die party se magsposisies uitgewerk sal word.

Ook die intelligensieminister, Ronnie Kasrils en die adjunk-president, Phumzile Mlambo-Nguka, wat op ʼn stadium as Mbeki se opvolger voorgehou is, het glad nie die paal gehaal nie. Mlambo-Ngcuka het vir Zuma as adjunk-president opgevolg nadat haar man Bulelani, die voormalige direkteur van openbare vervolgings, ʼn sleutelrol gespeel het om Zuma te laat vervolg.

Die sakeman Saki Macozoma, wat wyd beskou word as die finansierder van Mbeki se aanslag op Zuma, is insgelyks nie tot die NUK verkies nie. So ook Essop Pahad, hoof van die presidensie, Smuts Ngonyama en eerwaarde Frank Chikane.

Ander persone wat wel hoog op die lys geëindig het, is: Vervoerminister Jeff Radebe (nr. 2 na Winnie), maatskaplike ontwikkelingsminister Zola Skweyiya (nr. 3) en Pallo Jordan (nr. 4). Die adjunk-sekretaris-generaal van die SAKP, Jeremy Cronin, is in die vyfde plek verkies, gevolg deur die SAKP se sekretaris-generaal, Blade Nzimande, in die sesde posisie.

Tokyo Sexwale, wat onttrek het aan die verkiesing vir die boonste ses posisies terwille van die speaker Baleka Mbete, het die tiende plek gehaal. Die minister van finansies, Trevor Manuel, was 57ste op die lys en die omstrede gesondheidsminister, Manto Tshabalala-Msimang, 55ste.

Nozizwe Madlala-Routledge, wat as Manto se adjunk afgedank is, het heelwat voor haar eertydse baas in die 33ste plek geëindig. Een van Zuma se hoofondersteuners, die ANC Jeugliga se president, Fikile Mbalula, is ook hoog op die lys in die 15de posisie.

Volgens ʼn wysiging in die ANC-grondwet, moet Zuma se Nasionale Uitvoerende Komitee ten minste 50 persent vroue hê. Na verwagting sal dié reël ook op die parlement van toepassing wees.

фильтры дляЛобановский