Kabinetsministers het van plan verander en die forensiese verslag oor die Landbank nie na die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verwys nie. Dit volg op teëstribbeling deur direksielede en senior amptenare van die bank wat sekere van die bevindings in die verslag bevraagteken. “Die kabinet het ooreengekom dat hierdie besluit (om die verslag na die polisie te verwys) gekanselleer sal word en dat daar ’n verdere interne ondersoek deur die Departement van Landbou en Grondsake sal plaasvind,” aldus Themba Maseko, woordvoerder van die kabinet.
Maseko het verduidelik dat volgens die verslag sekere besluite oor leningsaansoeke deur bankamptenare geneem is, sonder dat die direksie geraadpleeg is. Die direksie en amptenare beweer egter nou dat hierdie aansoeke wel voor die direksie gedien het. “Al hierdie kwessies sal opgevolg word en so doeltreffend moontlik afgehandel word,” het Maseko gister gesê. “Indien daar steeds bevind word dat bedrog plaasgevind het, sal die saak aan die polisie oorhandig word.” Hy wou egter nie sê wie die direksielede en amptenare is wat nou met nuwe inligting vorendag gekom het nie.
Die forensiese verslag, wat deur Deloitte opgestel is, beweer dat Landbank-amptenare meer as R2 miljard wat vir boere bestem was, gebruik het om vriende se ondernemings mee te finansier. Die geld is onder andere aangewend vir luukse gholflandgoedere, die bou van ’n suikermeule en die ontwikkeling van wooneenhede. Die verslag is in November deur Lulu Xingwana, minister van landbou en grondsake, aan die kabinet oorhandig.
Die kabinet het aanvanklik daarop aangedring dat die Landbank-direksie afgedank moet word en dat kriminele klagtes teen die topbestuur aanhangig gemaak word. Dié besluit is egter nou herroep.
Die Landbank was vroeër jare ’n winsgewende instelling, maar die afgelope drie jaar reeds kry die bank slae van die ouditeure. In Maart vanjaar het die kabinet R700 miljoen beskikbaar gestel om die bank weer op die been te kry. Die bank se reserwekapitaalfondse was op daardie stadium maar 5%, in vergelyking met die 15%-21% wat as die norm beskou word. Sonder die staatsinspuiting sou die bank waarskynlik ondergegaan het. Vele van die bank se ervare amptenare het hulle intussen by die land se groot handelsbanke aangesluit, wat die Landbank se kanse op sukses ’n verdere knou toegedien het.
гидроаккумулятор купить в украинеФильчаков прокурор