Op 23 Desember 1993 het ʼn afvaardiging bestaande uit Genl Constand Viljoen, bygestaan deur enkele vooraanstaande “regse” politici, ʼn akkoord met die ANC gesluit. Die akkoord het ten doel gehad om aan etniese Afrikaners, wat geweier het om hul soewereiniteit as volk prys te gee, die gaping te bied om deur middel van ʼn konstitusionele weg ʼn manier te vind om hul selfseggenskap te behou, hetsy deur middel van territoriale of korporatiewe strukture.
In ruil vir hierdie toegewing aan die kant van die ANC, sou etniese Afrikaners die magsoorgawe aanvaar en aan die komende verkiesing deelneem. Almal is daarmee bekend dat die Volksfront toe geskeur het en die Vryheidsfront en die KP as aparte entiteite ontstaan het. Die VF het aan die verkiesing deelgeneem en die KP het dit geboikot. Terloops, die onderhandelaars aan ANC-kant was die einste Thabo Mbeki en Jacob Zuma wat die media tans oorheers.
Die Volkstaatraad was ʼn sogenaamde grondwetlike instrument waartoe die twee partye ooreengekom het. Die Raad sou uit twintig benoemde lede bestaan en moes ʼn wye spektrum van kundigheid dek. Die raad was nie ʼn gesagsliggaam nie en het oor geen gedelegeerde magte beskik nie. Dit was dus slegs ʼn forum wat wetenskaplike navorsingsverslae en aanbevelings aan die staat asook die Vryheidsfront moes maak. Die Vryheidsfront sou die politieke dryfveer wees om die raad se aanbevelings geïmplementeer te kry en die voorwaardes van die 1993-akkoord af te dwing. Oningeligte Afrikanerskeptici het die naïewe mening gehuldig dat die Raad ʼn Volkstaat tot stand moes bring en klaaglik in hul missie gefaal het…
In werklikheid moes die VSR alle gebiede ondersoek waar Afrikaners hul selfbeskikking kon uitoefen, gesien binne die demografiese werklikheid van die nuwe Suid-Afrika met sy liberaal-demokratiese grondwet van een mens, een stem en reg op vrye beweging. Die VSR het hierdie taak besonder deeglik en professioneel gedoen en het ʼn groot aantal verslae en aanbevelings gedoen. Maar die aanbevelings het nie noodwendig gestrook met die sienings van sy politieke enjin nie en weens onderlinge verdeeldheid op politieke terrein kon dinge nie van die grond kom nie.
BvR: Het die raad wye steun onder Afrikaners gehad?
JW: Nee. Eers nadat ek by die VSR weg is, het ek besef waarom nie. Op voetsoolvlak was daar totale onkunde oor die taak en roeping van die VSR en was min Afrikaners ingelig, ten spyte van verskeie TV-debatte. KP- en HNP-ondersteuners het VSR-lede as verraaiers vir die volksaak beskou en graag na Piet Retief as voorbeeld verwys van iemand wat bereid was om met swartes ʼn ooreenkoms aan te gaan.
NP-ondersteuners wat toe nog in die die euforie van hul suksesvolle magsoorgawe gegloei het, het die Raad as ʼn jammerlike fenomeen beskou en ʼn lastige uitvloeisel van die onderhandelingspolitiek. Slegs ʼn handjievol Afrikaners – ek skat daar was minder as tweehonderduisend van hulle – kon as ondersteuners van die VSR-gedagte beskou word. Daarteenoor was daar maklik tien keer soveel teenstaanders vanuit beide die NP-kant, asook aan die KP-kant.
Ondersteuners van die VSR was weer onderling verdeeld oor die ligging van ʼn volkstaat. Elkeen wou ʼn volkstaat in sy agterplaas gehad het. Sommige ondersteuners wou weer niks met territoriale selfbeskikking te make hê nie en wou ʼn statutêre Afrikanerraad met gedelegeerde magte en eie begroting hê. Die onderlinge verdeeldheid het deurgespoel na die Vryheidsfront en was duidelik waarneembaar met sy swak vertoning by die stembus tydens die 1998-verkiesing toe die party byna sewentig persent van sy steun verloor het.
BvR: Wat was die voorstelle wat die Raad na die regering geneem het?
JW: Daar was verskeie. In breë trekke kom dit daarop neer dat die Raad aanbeveel het dat ʼn tiende provinsie verklaar word. Dit sou bestaan uit ʼn gebied aan die Ooste en Suide van Pretoria, wat aansluit met Oosrandse en Wesrandse dorpe, en waar volgens rekenaarontledings van die 1996-sensus, meer as twee derdes van die inwoners Afrikaners was.
Verder het die Raad aanbeveel dat ʼn gebied rondom Orania as bestemde gebied deur Afrikaners ontwikkel moes word vir die uiteindelike totstandkoming van ʼn volkstaat.
Laastens het die Raad die totstandkoming van ʼn verkose Afrikanerraad aanbeveel wat na die Afrikaners wat buite hierdie gebiede woon, se belange asook hul kulturele ontwikkeling, sou omsien. Konsepwetgewing daarvoor is deur ons voorberei, maar geen party het daarin belang gestel om dit aan die Parlement voor te lê nie.
BvR: Hoe het die ANC-regering gereageer op u voorstelle?
JW: Soos dikwels in die verlede was regsgesinde Afrikaners se voorspellings weer in die kol.
Lank na die uitfasering van die VSR bring ek eendag ʼn besoek aan adj.-pres. Jacob Zuma toe hy nog in Overvaal in Pretoria gewoon het. Daar was toe sprake van ʼn korrupsieklag teen Shabir Shaik in die lug. Hy het my gul ontvang en ons het op die stoep gesit en gesels. Op ʼn ander geleentheid kan ons weer oor my besoeke aan hom praat. Ek herhaal my vraag aan Zuma binne die verband van jou vraag hierbo:
“As you know, there is still some unfinished business between Afrikaners and the ANC.”
Hy het met sy kop geknik en ernstig geantwoord: “I know that. Many in the ANC considered the Volkstaatraad as a political tactic to have a successful election. But I am still personally bound by the terms of the accord. When I become President, we should look at the unfinished business again.”
Laat ons maar eerlik wees. Hoewel ek tydens my drie jaar by die VSR geweldig baie geleer het oor die minderheidspolitiek regdeur die wêreld, was dit vir my ʼn vrugtelose politieke oefening.
Die ANC was hoegenaamd nie geïnteresseerd in die VSR se verslae nie. Alle onderhandelings daaromheen is gewoonlik met blanke liberalistiese tussengangers gevoer, veral met die Oostenrykse makelaar Jűrgen Kögel en genl. Viljoen se tweelingbroer, emiritusprof. Braam Viljoen.
Die ANC is ook onder die indruk gebring (waarskynlik deur die tussengangers) dat die VF die VSR se denke en doen en late bestuur het, wat nie die geval was nie.
Enkele kere kon ons direk met die ANC-mense praat soos byvoorbeeld tydens ʼn groot sessie in die Kaap toe ons aanbevelings van ʼn tiende provinsie gemaak het. Essop Pahad, wat die ANC se afvaardiging gelei het, het met groot fanfare uit die saal gestap en die VF toegesnou dat hulle in kwade trou onderhandel. Aangesien ons toe nog nie die VF se voorkeuropsie van die Noordkaap as langtermynplan voorgestel het nie, kon ons ook geen ondersteuning van hulle verwag nie. Sonder oorspronklike magte, of politieke ondersteuning, was die VSR tot niks verder in staat nie.
Genl. Viljoen en ek was saam tydens die oorhandiging van ons tussentydse verslag aan Mandela in Tuynhuis. Ek wou oor die verslag se inhoud gesels, maar Mandela wou oor ʼn boereprojek in Mosambiek gesels. Ons kon nie ʼn enkele woord oor die verslag gepraat kry nie. Die mediabeampte roep ons toe om met die televisiemense te gesels, en was ons gesprek afgehandel. Ons gaan staan buite op Tuynhuis se trappe met Genl. Viljoen en ek weerskante van Mandela. Hy is ʼn ongelooflike charismatiese mens en verklaar met groot oortuiging aan die wêreldmedia dat die ANC die verslag baie goed sal bestudeer en dat Afrikaners na alles nie sulke slegte ouens is nie. Ek vermoed daardie verslag is steeds onoopgemaak in Tuynhuis se biblioteek. Die VSR het ander verslae uitgebring nadat ek daar weg is en ek het niks gehoor wat my anders laat dink dat die ANC geen ag geslaan het op die VSR se verslae nie.
BvR: Het u steun uit ander oorde gekry, of was die Raad en sy lede geïsoleerd? Het u enigsens ondersteuning uit die Vryheidsfront gekry, en was die destydse Nuwe Nasionale Party en Demokratiese Alliansie toegeneë, ongeïnteresseerd, of afwysend?
JW: Soos ek hierbo genoem het, het die Vryheidsfront ʼn beleidsvakuum ondervind. Baie van sy invloedryke lede was nie volkstaters nie en wou die volkstaatgedagte nie te hard stoot nie, uit vrees dat dit sy kiesers sou vervreem. Hulle wou liewer belangepolitiek bedryf.
ʼn Klein groepie entoesiastiese volkstaters was besield met die gedagte om ʼn nuwe gebied te ontwikkel en het hand aan die ploeg geslaan om hul ideaal te verwesenlik. Hulle het derhalwe beheer van die VF se beleid oorgeneem op ʼn kritieke punt in die ontwikkeling van die party. In die 1994-verkiesing het die VF ongeveer 460,000 ondersteuners by die stembus getrek, maar na die debakel oor volkstaatbeleid het sy steun na ongeveer 120,000 gedaal. Die VF was dus geen faktor om die VSR te ondersteun nie.
Die Nasionale Party (die NNP het toe nog nie bestaan nie) was snaaks genoeg nie afwysend nie en het moontlik gevoel dat ons met ʼn vreedsame en konstruktiewe proses besig was. Een belangrike lid van die NP het my versoek om die kwessie van ʼn statutêre raad (hul sogenaamde korporatiewe selfbeskikkingsmodel) ernstig te ondersoek. Maar hierdie was nie die NP se geveg nie – dit was tussen Viljoen se mense en die ANC.
Tony Leon se party was ideologies afwysend teenoor die volkstaatgedagte, maar het hulle ook gedistansieer van die Afrikanervolksentiment en alles daaromheen.
Die Raad was dus geïsoleer en slegs op sy eie beperkte begrotinkie en wetlike status aangewese.
BvR: Glo u steeds dat daar ʼn moontlikheid is dat die Raad se voorstelle in een of ander vorm gebruik kan word om Afrikanerselfbeskikking te verkry? Of dink u dat die idee van territoriale selfbeskikking vir Afrikaners dood is?
JW: Die een voorstel van die Raad wat binne ons bereik is, is die stigting van ʼn statutêre Afrikanerraad. Daarvoor het ons geen ondersteuning van die ANC nodig nie, slegs die instemming van leidende Afrikanerorganisasies.
Ek het nog altyd geglo dat ʼn eie geloofwaardige struktuur wat internasionale legitimiteit geniet, die logiese instrument sal wees om die Afrikaners weer na selfregering te lei, hetsy op territoriale basis of deur beheer oor ʼn deel van die nasionale fiskus te verkry om eie skole en universiteite mee te finansier.
Ongelukkig voel sekere instansies dat die behoefte aan so ʼn statutêre liggaam reeds deur ʼn organisasie soos Afriforum/Solidariteit gevul word. Laasgenoemde organisasie tree meer soos ʼn privaatsektoraktiviste-organisasie op en kan hoegenaamd nie die statutêre rol van ʼn Afrikanerraad speel om deel van die staatsbegroting te beheer nie, om staatshefbome amptelik te gebruik sodat hy sy gedelegeerde magte kan uitoefen, of om nuwe landswette te debatteer en wysigings voor te stel voordat dit deur die president gesertifiseer word, of om sy eie wetgewing voor te berei nie. Die eerste stap is om die Raad gestig te kry, waarna die drukproses vir wyer magte sal toeneem.
Ek dink dat die gedagte van territoriale selfbeskikking tans nie werkbaar is nie, maar dinge kan dalk vorentoe verander.
BvR: Daar is vandag onder baie Afrikaners ʼn ervaring van persoonlike onveiligheid en onsekerheid. Is daar rede vir die onsekerheid, en sal Afrikaners ooit weer veilig in Suid Afrika kan leef?
JW: Die land se liberaal-demokratiese grondwet het misdaad as onvermydelike gevolg omdat misdadigers wat deur hul vergrype uit die grondwet kontrakteer nog deur dieselfde grondwet beskerm word. Ek glo dat iemand wat buite die grondwet optree, outomaties afstand doen van enige grondwetlike beskerming.
Afrikaners het dus rede vir hul gevoel van persoonlike onveiligheid.
Totdat die grondwet hersien word, sal daardie gevoel by hulle bly. Dalk kan ons ʼn verandering verwag met Zuma as President. Natuurlik dra Mugabe se uitgewekenes ook by tot die misdaadprobleem. Dus, met Mugabe uit die kussings en met die nodige grondwetlike wysigings kan die land weer veilig gemaak word. Daarsonder, bly ons maar in ʼn onveilige plek.
BvR: Sal Afrikaanse instellings oor die langtermyn oorleef? Na u mening, wat is die langtermyntoekoms van Afrikaners in Suid Afrika?
JW: As jy verwys na kultuurverenigings, vakunies, kerke of geslote verenigings, dan sien ek geen rede waarom hulle nie sal oorleef of selfs kan groei nie.
Instellings soos skole en universiteite word stelselmatig van hul Afrikaansheid ontneem en ek kan nie sien hoe hulle oor die lang termyn hul etniese karakter in die afwesigheid van ʼn statutêre Afrikanerraad sal kan behou nie.
Oor die lang termyn sien ek ʼn goeie toekoms vir Afrikaners. Die persoon wat die grootste skade aan ons beeld as gelyke volksgenote aangerig het, is natuurlik Thabo Mbeki wat ʼn psigose by swartmense laat posvat het dat ons settlers is en nie hier hoort nie. Daardie beeld kan weer verander word as Zuma sy doktrine uitleef dat die land nie sonder Afrikaners kan voortbestaan nie.
Verder het duisende Afrikaners reeds na ander Afrikalande geëmigreer en waar honderde klein maar georganiseerde gemeenskappe besig is om te ontstaan.
BvR: Dink u dat daar steeds ʼn latente steun vir territoriale selfbeskikking onder Afrikaners is, of is die idee heeltemal gediskrediteer in die moderne politieke klimaat?
JW: Benewens die drang na selfseggenskap oor eie sake was daar nooit werklik ʼn algemene latente steun vir territoriale selfbeskikking onder moderne Afrikaners nie.
Klein groepies entoesiaste sal daar altyd wees. Afrikaners verpes egter die gedagte dat hulle geen seggenskap het oor selfs hul eie dorpsake nie. Dit is ʼn sweer wat vroeër of later tot uitbarsting sal kom. Of dit as steun vir territoriale selfbeskikking vertolk kan word, is egter ʼn ander saak.
BvR: Baie dankie vir u bydraes tot die Praagwebwerf, ons waardeer dit.
