'n Aansienlike verhoging van ten minste 100 basispunte, oftewel een persent, word verwag. Dit gaan die verbruiker wat reeds onder hoë petrol- en voedselpryse steier, swaar tref en na raming gaan 8 000 huiseienaars oor die volgende drie maande hul huise verloor.
Senuagtige internasionale beleggers het ook oor die afgelope week hul aandele op die Johannesburgse beurs verkoop sodat die mark gister die laagste punt oor die afgelope anderhalf maande bereik het.
Die konsensusvoorspelling onder 10 vooraanstaande ekonome is vir 'n verhoging van honderd basispunte wat die repokoers op 12,5% te staan sal bring.

'n Polisiehelikopter het in James Bondstyl 'n gesteelde motor op 'n grondpad tussen Satara en N'wanetsi teen 190 kilometer per uur agtervolg en uiteindelik die verdagtes aangekeer. Die operasie waartydens die lugeenheid op Nelspruit en die honde-eenheid op Witrivier saamgewerk het, word as 'n klinkende sukses beskryf.
Die Natal Witness berig dat kapers gepoog het om 'n plaaswerknemer van Bergville Vrydagnag lewendig te verbrand. Sy motor is aan die brand gesteek terwyl hy in die kattebak toegesluit was.
Eskom het vandag gewaarsku dat die organisasie sekere van sy tyd- en kosteteikens in sy infrastruktuuruitbreidingsprogram gaan misloop.